Julle klink anders

My kinders beweer mens moet net verstaan kan word.

Hoe jy dus die taal inspan as jy skryf of praat – en of jy in die proses ʼn paar vreemde frases of bedenklike woorde gebruik – maak nie saak nie.   Solank die sáák oorkom.

Daar is veel te sê vir die boodskap wat moet tuiskom: daarsonder het ons nog nie gekommunikeer nie.  Min dinge is so belangrik as om reg te hoor en regtig gehoor te word.  Ek sou amper oortuig kon word dat taal daarom maar later in die ry mag inval, as dit nie was dat taal en gehoor so verstrengel was nie.

AfrikaansEk is lief vir Afrikaans.  Dis gesê, en ek vra daarvoor nie verskoning nie.  Want ek het daarmee geen agenda nie.  Ek vra nie bevoorregting nie en strewe ook nie na mag nie.  Ek dring nie moedswillig daarop aan om op Afrikaans geantwoord of bedien te word nie.  Trouens, ek was nog altyd trots op Afrikaanses se beleefdheid om oor te slaan Engels toe as ons hoor iemand sukkel.  Ek stel nie eise nie.  Ek dring my nie op nie.  Ek probeer bedagsaam wees: as Engelse vriende kom kuier, praat ek en Susan ook met mekaar Engels.  Ek is nie ʼn taalimperialis nie.

Ek smag daarna om Afrikaans te hoor; hier in die buiteland is dit ʼn voorreg. Ek verluister my aan die krappende r’e en die growwe g’s,  en kry lekker oor die t’s wat soek raak.   Ek verkneukel my aan die sêgoed, oud en nuut.  Ek hou van nuwe woorde soos “plapos” en “skerpskerts” wat daarin slaag om ʼn nuwe ding ʼn naam te gee sodat  jy hom sommer dadelik herken.  Ek hou van my taal kort en sonder omhaal.  Ek geniet raakvat-skryfwerk en fyn aanvoeling. Maar ek is nie behep met kunsskryf en praat-’of- jy-lees nie.  Ek is beslis nie ʼn taalpuris nie.

Niks, nie eers fleurige tekste nie, beïndruk my meer as iemand wat op sy voete kan dink en dit in Afrikaans kan doen nie.  Dis raar, so skaars dat min goed my iemand so onbeskaamd laat aangaap as wanneer hy in Afrikaanse sinne kan praat. Beter nog: op Afrikaans kan verduidelik.

Dis eintlik eenvoudig: jy moet net weet waar die werkwoord kom.  Dog, ek kan agterkom dit het vir ons Afrikaanses moeiliker geword.  Daar’s dalk goeie rede voor: ons praat beter Engels, en daar is nie fout mee nie.  Dis hoe ons uitreik na ander en respek betoon.  Ons is goed daarmee. Doe zo voort!

Ek glo bloot dat mens met goeie taal – énige taal! – verder kom, kan raaksê, kan oopmaak, kan diepkyk, kan verstaan en verstaan word.  Watter taal jy ookal inspan, ontgin haar skatte so dat sy blom en haar geur welwillend saampraat om begrip te gee en bande te smee.

Ons het, na agt jaar in die vreemde, vir die eerste keer toegang tot KykNet.  Vandaar my verwondering: julle klink anders.  Julle struikel oor geleerde dialoog wat net op papier slaag.  En julle praat eintlik Engels wat net effens Afrikaans klink.  Julle het geleer vloek.

My kinders gaan hulle oë opslaan na die berge oor my pleidooi.  Maar regte Afrikaans bly vir my mooi.

Advertisements

Lewer kommentaar

Please log in using one of these methods to post your comment:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s