Blouste Maandag?

Dié week se Maandag is glo die blouste.  Dis teen hierdie tyd dat jy agterkom dat al die goeie voornemens van Nuwejaar nie gaan hou nie, dat jy Kersfees te rojaal geld geblaas het en dat die lewe te veel pligte van jou verg.  Dis teen dié tyd ook duidelik dat die optimisme waaraan jy verbete vasgeklou het – hierdie nuwe jaar móés net beter wees as die vorige, want die oue was aaklig! – nie noodwendig genoeg is om te waarborg dat alles sal goed gaan nie.

ʼn Doodgewone datum is nie ʼn waterskeiding nie.

As dit so maklik was om die lewe te verander, dat ʼn blote voorneme en ʼn nuwe kalender genoeg rede is vir hoop, het dit met jou tog elke jaar net beter gegaan, of hoe?  Dan was verlede jaar se swarigheid teen die grein in, en met al jóú ondervinding van elke jaar beter maak, was dit ook net nie moontlik nie.  Maar hy wás bra sleg.  Jy weet van beter.

Daarom moet jy oppas om nie hierdie week moedeloser te wees as wat nodig is nie. Jy moes dit tog sien kom het.

Maar hoe nou gemaak noudat, so kort na die Nuwejaar al, jy alweer met mislukking moet reken?

Wel, die jaar is nog bloedjonk.  Daar is nog tyd, as jy daarop gaan aandring om jare aan nommers te meet.  Maar nie elke nuwe jaar begin op 1 Januarie nie:  die skooljaar begin later, die jaar se rugbyseisoen weer op ʼn ander dag, jou verjaarsdag tel op enigeen van die 365 (+1) dae jou lewensjare af.  Jy kan vandag weer Nuwejaar hou, as jy wil.  Jy kan sommer nou oorbegin.

Hou in gedagte: alle begin is moeilik.

Jy kan dít ook maar weet: jy gaan vorentoe weer faal; uit ondervinding leer jy dit.

PekanneutpasteiEen van jou voornemens moet wees dat jy jou nie laat stop deur die kere wat jy vassteek nie.  Tref jy ʼn Blou Maandag, gaan sit op die Royal Hotel se stoep, eet ʼn enorme sny pekanneut-tert en potte vol fyn-porselein tee, en vier die feit dat jy presies weet hoe om hierdie ding te hanteer.

En dan sit jy dit agter jou.  Haal diep asem, gaan vroeg slaap, en hou more Nuwejaar.

Die slegte nuus is, jy gaan dalk van al daai pekanneut-terte gramme groter word – niks meer as gramme nie, belowe ek jou.  Moet jou dus nie daaroor te veel bekommer nie – want die kanse is baie goed dit gaan weer gebeur. En dalk weer. (Wenk: om die verveling te keer, probeer die suurlemoentert.)

Feit is, die soetigheid sit nie in die koek nie; die goud is in die mond van die morestond, in jou môreoggend se opstaan en aangaan.

Probeer weer. Elke keer.

En as jy die dag besluit hier trek jy die streep en tot hiertoe en nie verder nie, gaan sit op daai selfde hotel se stoep met ʼn goeie Etiopiese koffie.  Dan skryf jy met ʼn pen neer hoekom jy besluit om hier halt te roep (want om op te hou, is en bly jou besluit!) En dan sê jy sommer ook wat kom nou in die plek daarvan.  Niksdoen is nie ʼn opsie nie.  Nie eers as jy platgeslaan voel nie.  Nie jy is die mislukking nie, dis die voorneme wat nie uitgewerk soos hy moes nie.  Dog nou het jy geleer hoekom dit nie kon werk nie.

Jy oes wysheid.

More is dit weer Nuwejaar.  Jou nuwe jaar.  Vier dit.

Advertisements

One thought on “Blouste Maandag?

Lewer kommentaar

Please log in using one of these methods to post your comment:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s