Die jaar begin met genade

Hier hou Kersfees twaalf dae, tot ses Januarie toe.  Eers met epifanie kom die feestyd amptelik tot ʼn einde.

Dog, teen daai tyd is almal vergete al terug in die tuig.  Die druk van die nuwe jaar, die pendel in die donker en kort, bibberkoue middae laat Kersfees vervaag tot dromerige herinnering.  Ook goed so, dink ek gewoonlik.  Want die werklikheid wag om bewerk te word, en ʼn terugverlang na die feestyd help nie vir vasbyt en vooruitgaan nie.

Die ver-af gedoef van iemand se oorfone wat die stilte in die trein onderbreek, is soos kryt op swartbord. Dog, selfs dit is beter as “Jingle Bells” en “Santa Baby”. Teen dié tyd is ek vir die stroop wat die groot koop ghries, al so gatvol, dat selfs David Bowie se geraas draaglik raak.  Die winkels weet dit ook: hulle ry sedert September al hierdie verkoopfoefie holrug. Dié dat alle tekens van Kersfees op Boxing Day plotseling verdwyn, die klankbaan genadiglik ook.

Swetende vreemdelinge in jasse en serpe sit heup aan heup ingeryg.  (Vandaar die dieet.) Manne met frank asems, muwwe oksels en James Bond 007-naskeer (mirre vir prikkelprinse) staan en wieg saam met die trein, wit gekneukel aan die trein vasklouend om sover moontlik kontak met ʼn buurman te vermy. Niemand maak oogkontak nie: oë is òf toe òf vasgenael op die foon.  Sommiges lees ʼn Kindle. Almal is verbete daarop ingestel om anoniem te bly en die geldmakery te hervat: Kersfees het immers geld gekos.  Al daai warmhartige welbehae is só laas jaar

Die stappie in die donker van die stasie af huis toe, vertel ʼn ander storie: kersliggies flonker steeds agter kantgordyne, kersbome staan en blink, kransies bly aan die voordeure hang, en hier en daar staan selfs Adventkerse nog in vensterbanke.

Januarie GesigteTwee wêrelde teen mekaar, so voel dit.

Ek het ʼn probleem, besef ek Sondag in die erediens toe die dominee weer ʼn Kerslied opgee en ek my opblaas oor sy nóg ʼn Kersfeesteks aandurf, en wat klink na agtergehaalde gemeenplasies kwytraak.

Ses Januarie en Kersfees kry nie sy ry nie. Wat is dit met die mense dat hulle Kersfees laat voortsleep die nuwe jaar in?  Of met my, dat ek daaroor galsterig raak?

Is dit nie juis dán, ná die handelswêreld Kersfees leeggemelk het, en die Nuwejaar se feesgedrewe drif in roetine omgesit het, dat Kersfees moet grondvat nie?  Is om gestand te doen aan die durende vrede en vreugde wat Kersfees belowe het, dan nie nou, meer as ooit noudat die jaar sy loop gekry het, ter sake nie? Dog, dis nie asof ek meer daarna smag nie, want ek mis nie dit nie!

Is die vieserigheid met Kersfees wat ek nou hier in Januarie voel, dalk teken dat ek nie daarin slaag om Kersfees met die nuwe jaar te versoen nie?   Of dalk slaag ek juis daarin om my nie meer aan nou-die-dag-se Kersfees te steur nie?  Daar’s iets te sê vir losmaak van wat agter is en uitstrek na wat voorlê.  Is dit nie ook Nuwejaar se doel nie? Ek sien tog nie nou weer vir Kersfees kans nie, nie tot ek aan die einde van die jaar kan terugkyk en opnuut besef dis alweer sulke tyd, nie.  Of tot ek agterkom die jaar is verby en ek het van daai vrede en vreugde wat ons laas so feestelik verwelkom het, niks tereg laat kom nie; ek het alweer genade nodig.  Ek het hulle kort duskant Tweede Kersdag verlede jaar al, nes die oorskiet varkboud en die Fortnum and Mason vensterversierings, eenkant toe gestoot.

Dis een ding om Kersfees te vier.  Dis heeltemal ʼn ander storie om aan die begin van die jaar vrede en vreugde te laat gebeur.  Ek is bevrees ek is al klaar goed op pad om aan die einde van die jaar weer half hartseer te moet erken daar het van mý kant af van dié vrede, vreugde en welbehae nie veel tereggekom nie, maar goddank die jaar is om.  

Kersfees is maklik om te vier.  Skeuring en skade word dan makliker oorgesien, want ek word toegegooi deur duur soenoffers en die strelende salf van roerende versoenings. Ook oor die hele wêreld daaraan hartlik meedoen.

Dis anders om aan die begin van die jaar se harde werklikheid welbehae in mense te hê. ʼn Kersfees wat kom kleim afsteek op die eerste ses dae van die nuwe jaar, is nie welkom nie.  Dié dat dit goed is om herinner te word daaraan dat die kerklike jaar nie op 1 Januarie nie, maar met die eerste Sondag van Advent al begin:   

Die jaar begin met genade. 

Ek maak nie meer Nuwejaarsvoornemens nie.  Hulle hou nie.  Vanjaar het die twaalf dae van Kersfees my geleer om doodluiters vol te hou met hoe ek die kalenderjaar afgesluit het.  Net ʼn bietjie langer Kersfees vier dié jaar, so het ek my voorgeneem: om vol te hou met die goed wat ek glo Kersfees beteken, en om met die goed wat Kersfees my laat doen het, aan te hou. Langer aan te hou.  Hoe lank, sal net die tyd leer.

Advertisements

Lewer kommentaar

Please log in using one of these methods to post your comment:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s