Die Groot Koop

Kersfees is kooptyd.   Groot koop.  Dis die werklikheid, en om te kla oor die kommersialisering van die Christusfees gaan nie help nie.  Of ons nou daarop aandring om dit Kersfees te noem, en of ons, om aanstoot te vermy (sidder en beef), dit na “holidays” toe herdoop, gaan geen snars daaraan verander dat besigheid bakhand staan nie.

Die groot handelaars kompeteer met meer as net afslagpryse.  Aan die einde van Oktober elke jaar loods hulle ʼn rits amptelike advertensies: die tyd van uitsending word vooraf aangekondig, die programme versigtig gekeur, en die advertensie word gelyktydig oor al die netwerke gebeeldsend. Tydskrif-tv saai vooraf kort snitte uit, bespreek en vergelyk.  Die duurste advertensies is lank, tot twee minute toe. Hulle vertel stories, gewoonlik tranetrekkers, wat jou dan oortuig dat om te loop koop, salf sal smeer aan alle seer.

Soms blyk ʼn tema.  In 2014, een eeu na die Eerste Wêreldoorlog uitgebreek het, klim ʼn Britse soldaat uit n loopgraaf uit en stap die Duitse linies tegemoet.  Die twee strydende magte verklaar ʼn  kortstondige staakvuur, skud blad, wys foto’s van geliefdes en speel voetbal.  Later, terug in die  loopgraaf, maak hulle die geskenke oop wat hulle uitgeruil het.  Die Eerste Wêreldoorlog se gruwels skaamteloos uitgebuit om die groot koop te verkoop.  Dit verras nie: die vet knaap in die rooi pak het lankal vir Jesus vervang as die een wat die seisoen se koopgier die beste kan vasvang.  Ons sal enigiemand kruisig om iets te kan besit.

Vanjaar sit ʼn oom op die maan en huil oor hy eensaam is.  ʼn Klein dogtertjie sien hom van die aarde af, en koop en stuur vir hom ʼn teleskoop sodat hy haar ook kan sien.  Hy hou haar in haar slaapkamer dop.  (Eina! Komediante het die afloerdery naam gegee en van toe af werk die teleskoop-kopery ook nie meer so goed nie… Die staakvuur-advertensie het ʼn langer raklewe gehad.)

Dog, die bedoeling is dat met ʼn gekoop jy nie net eensaamheid te bowe kom nie, maar selfs oorloë draagliker maak.

Kantelberg en Rome het dit albei dié jaar oor eensaamheid gehad. Die media was vir Fransiskus vies oor hy durf sê het Europa is materialisties, en Welby is oor en oor aangehaal toe hy vereensaming uitgelig het as ʼn siekte van ons tyd.

Dié van ons wat ver van familie en vriende af was en die feestyd alleen moes deur, het daar iets van geproe.  Geen lekkerny versoet die bitter nie. Geen geskenk vergoed vir die gemis nie. En die biljoene wat alweer bestee is, het ons ook nog niks nader aan vrede nie.

Ons gaan die groot koop nie stop nie.  Maar ons kán keer dat ons daardeur meegesleur word.  Gee julleself aan mekaar as lewende geskenke.  Dit lyk vir my na wat God in Christus gedoen het.  Dit het vrede gebring, én eensaamheid te bowe gekom.  En het jy dit oor Kersfees nagelaat, die nuwe jaar lê voor.

 

John Lewis se advertensie:   http://www.johnlewis.com/christmas-advert

Advertisements

Lewer kommentaar

Please log in using one of these methods to post your comment:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s