Stukkende Kersfees

Jy het so na Kersfees uitgesien.

Jy kon nie wag vir die kinders om aan te kom nie, of om jou ouers weer te sien nie.  Jy was so opgewonde om weer al die broers en susters om dieselfde tafel bymekaar te kry, en die nuwe aanhangsels en aankomelinge te leer ken.  Jy het so gereken op die gemoedelikheid van die fees, veral oor daar deur die jaar krapperigheid was – so gehoop dat die vrede sal aansteek.

Dis eindelik agter die rug, en jy sit met seer.  Soms laat jy toe dat dit jou onderkry – dis maklik gedoen, siende dat niks en niemand dié tyd van die jaar van jou hartseer wil hoor nie.  Mense vier verbete fees, en elke versiering – die boom, die blieng en die blaasorkes – elke groet en al wat preek is, kondig aan hoe ver buite die warm gloed van somerkersfees jy is.  Kersliedere voel vir jou soos wanneer Adele alweer “Hallo!” sê: jy wens sy wil by die “koebaai” uitkom.  Jy gee later toe aan woede en verwyt.  Jy huil in jou hande oor die ontwykende vreugde van die fees en die teleurstelling van ʼn nasleep wat die nuwe jaar gaan versuur.

Jy is nie alleen nie.  Vir party van ons, is Kersfees die seerste seisoen van die jaar: die leë stoele om die feestafel dring genadeloos daarop aan om hulle storie te vertel in kompetisie met dié van engele, herders en wyses.  Die geliefdes het toe nie by jou uitgekom nie – jy stof jou begrafnispak af.  Of, genadiglik, leef hulle almal nog, maar ʼn familietwis het hulle voortydig laat oppak en die pad laat vat.  Van die vrede en vreugde wat die fees belowe het, het daar net skeuring gekom.

Sensitiewe siele het die afgelope tyd in die media laat blyk hulle besef daar is van ons wat nie in die vreugde van die feestyd deel nie: met ʼn vinnige meelewing op facebook, gedryf deur die gebruiklike dreigement dat jy ongevoelig sou wees as jy dit nie dadelik deel nie.  Dan smeer hulle salf aan hulle gebrande ore (wie ’t geweet die son kan dáár so seermaak?), want nou moet ons eers rus.  Vakansie is skaars, en peperduur. Nee, net nie nou nie: jou gerou moet wag tot die vakansie oor is.

Onthou dat Jesus ook nie in ʼn paradys te lande kom nie.  Hy gee nooit voor dat die lewe enigsins anders as moeilik sal wees nie.  Feesviering, selfs met die beste bedoelinge, vergeet soms hierdie werklikheid.  God word mens in hierdie gevaarlike en gebroke wêreld waar ek en jy leef.  Skep moed:  God laat jou nie in hierdie wêreld aan jou eie lot oor nie.   Dis juis vir sulke tye dat Hy hierheen kom.

Maar dis nie hoe jy nou voel nie.  Jy treur.  Jy kan nie uit ondervinding getuig dat daar na Kersfees meer vrede in jou lewe is nie.  Dis jou werklikheid.  Dis moeilik.

Jy is nie alleen nie.

 

Advertisements

Lewer kommentaar

Please log in using one of these methods to post your comment:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s