As julle kwaad word…

Hans het op ʼn dag gesê mens moet probeer om die gevoelens wat agter woorde sit, raak te vat. Sy seun was kwaad, vertel Hans. “Nee, is nie,” ontken die tienerseun dit toe sy pa hom vra.    “Nee, jy is nie kwaad nie,” gee Hans hom gelyk en waag dit toe met die klip in die bos: “Jy’s sommer die donner in!”  Die damwal breek, en die opgekropte bedonnerdgeit kom in ʼn stortvloed uit: die jongman was meer as net kwaad.

Ons is meer as net kwaad.  “Die donner in” laat dit ook nie reg geskied nie.  Daar is seker meer gevoelvolle uitdrukkings wat ek sou kon gebruik – geslag en slange sou ʼn buiging kon maak. Dis nie uit preutsheid dat ek my daarvan weerhou nie.  Ek hoef nie: dis alles reeds gedoen, trouens by herhaling al, en met nadruk.

Ek is oortuig dat ek met selfs die beste voornemens, hierdie argwaan nie in beskaafde taal kan vaslê nie.  Hierdie woede oorwoeker al’s. En daarbenewens moet ek my liefs inspan – want ja, dit verg inspanning – om al by voorbaat die daad by my eie woord te voeg.

Dis wat ek vra: dat ons ons moet inhou.  Dat ons die wawiele sal afhaal vir die afdraande pad Zoeloeland toe.  Dat ons net ʼn bietjie briek sal trap, die leisels sal vashou en net effens sal hokaai.  Plaas ʼn wag voor die mond van die laer. Vier elke dag soos die sabbat, die dag waarop God verlos, nie net die sestiende nie, en werk spaarsamig met die oordeel.

Apartheid is onherroeplik verby, al hunker selfs die Zoeloekoning soontoe terug.  Daarmeesaam is die aanklag van dié muishondvolk onder rassiste tydelik en tentatief ter syde gestel.  Afrikaanses het geloofwaardigheid begin terugkry.  Ons integriteit blyk.  Tot ons by Zuma kom.

Want op sosiale media lyk ons nie juis goed nie.  Wat ek daar sien, laat my besorgd. Dié media verlei ons net te maklik tot naaktheid en naakte haat.  Die woede is geregverdig. Die onbeteuelde haat, nie.

Moet dit juis Zuma wees wat ons swakheid uitwys?  Gaan ons vir Zuma toelaat om by ons rassehaat te ontmasker? Is hierdie man dit werd?

Ons het ons eenmaal heldhaftig op God verlaat, teen alle sin in met geloof gewaag, uit die veiligheid van die Bloedrivier-laer uitgestap, toe self in Amanzimtoti* gebloei, dog onoorwonne met die vyand blad geskud, hulle met moeite geleer liefkry, en toe ʼn lewe saam met hulle aangepak. Ons is die een anderse volk wat in en met Afrika vrede gemaak het.  Die een anderse volk wat in Afrika bly nie om te plunder nie, maar Afrika mildelik laat deel in die voorspoed waarmee God ons seën.  Net die naam “Afrikaanses” verraai al ʼn lotsgebondenheid met Afrika. Ons is nie rassiste nie.  Daarvan getuig ons steun vir ander politici.  Jy kan jou immers nie met Afrika eens voel as jy sy mense nie kan veel nie.

Van Zuma se politiek kan jy grondig verskil.  Jy sal. Jy moet.  Dis oor jy anders is.  Dis ʼn botsing van beskawings hierdie.  Daarom is haat seker nou makliker as ooit: daar’s soveel op die spel.  Dog, haat gaan nie werk nie.  Haat bou nie samelewings nie.

Ek vermoed dat hoe ons met Zuma te werk gaan, ons invloed hier in Afrika kan bepaal.  Om ongekwalifiseerd vloekend en beledigend te wees, maak ons net self aanstootlik.  Ons moet ons meer as ooit vereenselwig met mense wat Suid-Afrika wil sien slaag en daarby wil baatvind.   Ons moet beïnvloed en oortuig. Niemand gaan ons volg of verduur as ons net met haat smous nie.

Van Bloedrivier af al weet ons van ʼn Alfa en Omega wat groter is as hierdie A tot Z van Afrikaanses tot by Zuma.  Ons gaan tog nie hier eindig nie! Ek glo God is nog lank nie met ons klaar nie.

Dog – en dis seer om te sê – as ek sosiale media moet glo, is ons dalk met God klaar? Sulke openlike en onbeskaamde haat dui nie juis op gehoorsame geloof nie.

As ons kwaad is – en ons is, en met baie goeie rede – moenie sondig nie.

EFESIËRS 4:26
As julle kwaad word, moenie sondig nie, en moenie ‘n dag kwaad afsluit nie.

*Amanzimtoti beteken “Soet water”

Advertisements

One thought on “As julle kwaad word…

Lewer kommentaar

Please log in using one of these methods to post your comment:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s