Mortaliteit

Dood en belasting, die lewe se enigste twee konstantes.  Beide is onontkombaar.  Albei betrap jou onkant. Voor jy weet, is jy oorweldig deur een van die twee.  Hulle is ewe omvattend en ontwrigtend.  En hoewel jy hulle te alle tye ewe veel te wagte kan wees, skok dit nog as hulle aan die deur kom klop.  Hulle laat jou albei verneuk voel.  Jy is met albei ewe verontwaardig oor die onreg.

Die verskil is dat die afgestorwene nie juis lank genoeg van sy eie dood bewus is om daaroor vreeslik vies te bly nie.  Dis vreemd hoe mens die dood nog kan ignoreer.  Voor die dood eindelik gebeur, kry mens heel lekker geleef sonder om jou te veel aan die eindigheid te steur.

Met belasting is dit anders: dis wel waar dat, nes jy niks met jou kan saamneem die graf in nie, jou skuld jou ook nie daar meer kan bykom nie.  Nie eers die almagtige en alomteenwoordige staatsmasjinerie kan in die graf by jou kom spook of jou meubels of elektronika kom opskryf nie.  Jou agtergeblewenes sal dalk nog die gelag moet betaal – dit sit baie vinnig die gemis koud – maar  daarvan is jy gewoonlik salig onbewus.  Dog, van belasting gaan niks anders as net die dood jou red nie.  Tot dan gaan jy moet uithaal en wys. Vandat die brief van tannie Elsie af deur die deur kom, tot jy die laaste pennie vereffen het – dis nou te sê as die dood nie genadiglik tussenbeide tree nie – gaan die Wet van Transvaal ook hier in die vreemde geld.

Dood kry klaar.  Jy hou op om te weet jy’s dood.  Belasting het uithouvermoë. Daarom is dood dalk beter.

Dog soms, net soms, kom die dood kuier om jou te herinner hy’s op pad.  Dan kondig die dood sy onwelkome teenwoordigheid selfvoldaan aan, voortydig soos altyd, en bly dan voetslepend en sout invrywend rondhang.

Jy skrik nogal as die dokter sê hy wag eers op die berader voor hy jou vir die diagnose innooi.  Maar teen die tyd dat die nuus afgelewer is, is jy alweer rustig genoeg dat hy dit nodig ag om te vra: “Besef jy wat ek sê?”  Vyf jaar later en die besoeke aan die onkoloog rek al na net eenmaal ʼn jaar.  Die hare en die maag het  geil teruggegroei.

Jy leef weer. Jy vergeet van doodgaan.

Dan kom meld verganklikheid in ʼn vreemde gedaante aan: ander se oë.  Hulle verwag my eersdaags in Meksiko se optog van die dooies, soos in daai eerste tien minute van “Spectre”.   Om my dans geeste en geraamtes en ander gruwels wat in die graf hoort.  En my naam is nie Bond die Onsterflike nie.  My toekoms lyk glo kort.

Ek wonder dus weer oor doodgaan.   My dood het weer kom groet.

Dog, ek leef.

Ek leef nog altyd op genade, maar oor sonde, nie siekte nie.

Ek sal bly leef, al sterf ek ook. Daaraan het die nadenke oor die dood my weer herinner.   Dit was dus nie heeltemal ongewenste nabetragting nie.

 

Advertisements

Lewer kommentaar

Please log in using one of these methods to post your comment:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s