Stil

Dis Dinsdagmiddag.  En ek is omgeboul: daar daag veertig mense by die kerk op!

Ek het Sondag op die afkondigings gesien daar’s ʼn gespreksforum, uitgevra oor presies wat dit behels en is vertel dis ʼn gereelde byeenkoms van lidmate wat oor tersaaklike goed gesels.  Hoe kon ek dit voorheen gemis het?

Dis nie ʼn groot gemeente hierdie nie: tweehonderd belydend dalk? Minder selfs. Veertig is dus meer as wat ek verwag het. Almal van hulle gryskoppe, toegegee, maar aan geesdrif en lewenslus skort dit nie.

Oor ʼn koppie en tee en koekies (lei my nie in die versoeking nie) begin die gekuier.

Die spreker is ʼn oud-priester van die Rooms Katolieke Kerk.  Hy het glo vrou gevat.  Die man het ook myle op, maar hy speel kitaar en sing, en dit maak verskil.  Sy liedjies is self geskryf, die wysies maklik om te leer, die woorde roer.

Hy kom praat oor Advent. Hy praat oor verwagting en wat dit verg om te wag, en oor sy weersin aan hoe ons van Oktober af al Kersfees vier met verbygaan van Advent se hunkerende, afwagting.  Hy verduidelik die preektekste vir Adventsondae, die purperkleur van die feestyd.  Hy wys uit dat die geboorte geen betekenis het sonder die opstanding nie, dat die kruisiging ʼn soberende uitwerking behoort te hê op ons viering van ʼn fees wat deur die wêreld in ʼn feeverhaal omgetower is.  Die kruisiging is nie kinderspeletjies net omdat Jesus drie dae later nog leef nie. Die koms van God die wêreld in is tekenend van hoe ons van God vervreem het, van hoe erg die skade van die sonde is, van hoe nodig ons God het.

KersgeskenkNood is nie eie aan Kersfeesviering se oorvloed nie. Dog, wat regtig nodig is, het ons nie om te gee nie.

Nadenkend oor sonde, aan tekort en tekortskiet, dis hoe ons op Kersfees wag.

Daarvoor moet ons stil leer wees, sê hy.  Daar is min stilte in die wêreld oor.

Hy stel ʼn oefening vir Advent voor: “Gaan sit,” sê hy, “op ʼn regop stoel. Sit stil.  Sit vir twee minute daar, in stilte.” Hy glimlag.  Hy weet dis nie maklik nie. “En dink: ‘Kom, Here Jesus.’ Dink na oor wat dit beteken. Dink oor wat jy daarvan maak. Hou vir ʼn week daarmee vol, een maal ʼn dag.  Die volgende week, rek jou stiltetyd na vyf minute toe. Dan sewe, later dalk tien… Dink net: ‘Kom, Here Jesus.’ Jou gedagtes mag op loop gaan.  Maar hulle mag jou dalk verras.”

Ek het vandag geprobeer.  Dit was moeiliker selfs as wat ek vermoed het. Maar ek gaan daarmee volhou, want ek is toe verras.

Advertisements

Lewer kommentaar

Please log in using one of these methods to post your comment:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s