Van vliegtuie

Dalk is dit die weer. Dis grou, en die wind waai. Miskien die seisoen? Dis geel-herfs, en die blare reën in plasse onder die park se bome.  Of is dit die stilte?  My ore suis soos sonbesies. Ek tik nou en dan sodat ek kan seker maak ek hoor.

Moeg.

Hier lê ʼn berg: goed wat ek kan – en seker ook moet – doen. Ek het dit al ʼn paar keer vanoggend oopgehad, maar as ek my kom kry, is ek iewers met ʼn ompad op soek na wegkom. Waarheen weet nugter, maar beslis nie na waar ek vanmore met opstaan beplan het nie.

Ek dool deur webwerwe met onmoontlike lughawens en vliegtuie wat dalk Afrika toe gaan.

Ek het dit dikwels gedoen: Jan Smuts toe gery, voor ʼn venster gaan sit en vliegtuie kyk. Of aan weerskante van die Louis Botha aanloopbaan gaan parkeer om aan die vliegtuie te vat. Baiekeer, met die verbyry het ek gedink: sê nou maar ek stop hier en vlieg weg?

Is die lug hier blou, vang die stralers my in spinnerakke, koelbloedig en geluidloos.

ISIL het een in Sinai afgeskiet.  Die stukke romp lê verleë rond.  ʼn Stukkende skoen, ʼn torinkie leë karton koffiekoppies, ʼn deur wat nêrens vandaankom en ook niewers meer heengaan nie, rus in die woestynsand. Die wind lees deur ʼn paspoort, seker na die visum op soek. ʼn Teddiebeer… “Iemand het ʼn lappop”, sing my sonbesies, meedoënloos, van vrot pampoen tot ou koerant. Net die verlepte angeliere is nie hier nie: hulle lê in gerfies op ʼn lughawe in Rusland. Die Russe rou.

Rusland het die wapen voorsien waarmee die Maleisiese vliegtuig oor die Oekraïne grond toe gebring is.  ʼn Tannie vertel hoe die vrou deur die dak gekom en in die sitkamer geland het.  Sy het vir die kuier sommer haar eie stoel saamgebring: sy was nog vasgegespe aan haar sitplek,

Die Maleisiese 777-flap wat op Reunion se strand uitgespoel het, was net nou die dag nog die laaste strooi vir ontroosbare families wat na halms gegryp en teen wil en dank bly glo het hulle geliefdes leef. Sal ons ooit weet waar hulle is, en hoe hulle daar gekom het?  Dog, die flap het verbete aanhou reis. Noodlottig verwond, het hy net-net kop bo water bly roei om sy boodskap te bring. Dit het hom n jaar gevat. ! Asof hy besef het dat dit ten minste die nagmerries besweer om te weet, selfs die ergste te weet.

Ek onthou ons het basaar gehou op die Durbanse voorstrand op 28 November ’87, die dag toe die Helderberg in die see gestort het. Ons het see toe gekyk, asof ons tot by Mauritius sou kon sien. Jeanette was gebroke.

Vliegtuie help jou nie vlug nie. Hulle vlieg nie ver genoeg nie. Hulle vang jou met lus, maar ook hulle lewer nie drome af nie.

Ek moet my nie moegmaak met die tragiese nie!  Ek moet my berg skuif. Want hierdie een gaan nêrens heen vlieg nie.

Advertisements

Lewer kommentaar

Please log in using one of these methods to post your comment:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s