Die Oes

Ek is bevoorreg.  Dis nie ons almal beskore om die vrug van ons handewerk te geniet nie. Party ploeg, ander plant, nog iemand gooi nat.  Maar dit gebeur nie dikwels dat die een wat ploeg ook oes nie.

Toe oom Gerrit na aan emeritaat kom, het hy begin huil.  Sondag na Sondag.   Was hy (net) uitermate geroer deur die evangelie, of was daar ook teleurstelling in: dat sy arbeid oënskynlik tot niks gekom het, sy gemeente klein en kwynend?

Ek weet hoe graag ons iets blywends tot stand wil bring: ʼn groeiende gemeente wat selfs die galery volsit, ʼn bloeiende gemeente wat die lewe saam regkry, of, as nie een van die edeler ideale wil hou nie, dan ʼn stywe bankbalans, verkieslik danksy offerbereidheid, maar ander bronne is ook goed (baie dominees is al beroep oor hulle basaars kan hou) want geld verseker volhoubare bediening.  Jou naam op ʼn hoeksteen werk ook, want oor ʼn rukkie is al die onmin oor die bouery, en hopelik ook die onbetaalde skuld, vergete.  As iets blywends ons ontwyk, sal ons vrede maak met iets vlietends, dog van waarde: ʼn aanhaling in iemand anders se boek, ʼn teruggryp na “beter” tye, deernisvolle herinnering…

Want die gewone bakens langs die pad geld nie vir predikante nie.  Op 23 al voorsitter van die Kerkraad en voorloper in ʼn gemeente, het jy loopbaangewys jou bestemming klaar bereik.  Net die pienk wangetjies van die jeug en Paulus se raad aan Timoteus keer dat jy bang word vir die verantwoordelikheid.  Dalk besef jy dan nog nie hoeveel van jou afhang nie en jy toga met trots.    Bevordering en nuwe posbenamings wag daar nie.  Net die jare wat jy kan uithou, tel.  Jy is net een keer opgewonde dat jy die Ringskommissie haal. Dié dat jy inskryf vir die doktoraal, goed voel oor ʼn nuwe beroep, of gevlei, sou jou naam die rondte doen voor ʼn verkiesing van die Algemene Kommissie, hoe verkeerd dit ookal mag wees (nie dat ek dit al oorgekom het nie).

koringGod laat groei.  Arbeid adel: ploeg, plant en besproei is almal eerbare tydverdrywe. Maar elkeen op sy eie, sonder om te oes, word moeilik om mee vol te hou.  Dalk dié dat Amerikaanse godsdiens so aantrek:  hier is meetbare ontwikkeling, aanvoelbare vordering, bevredigende verbetering.

In ons arbeid vind ons vreugde

In ons eenheid vind ons krag

Met volharding sal ons strewe

Tot beloning op ons wag…

(Skoollied, Saamwerk Hoërskool)

Asof die bediening my dit nie al op die harde manier geleer het nie, soek ek elke dag vergeefs na werk, en besef ek opnuut hoeveel inspanning volharding verg as die beloning uitbly.  Ek bly nie staande nie.

Maar juis nou is God vir my goed.   Ek het lank gelede, in ʼn vorige eeu, sweet in iemand se lewe ingeploeg wat intussen begin vrug dra het.  Ek het destyds net my werk gedoen.  En nou, as ek moedeloos raak en wanhoop my dreig te oorweldig, oes ek raad en daad uit dieselfde land.

My is ʼn voorreg beskore wat min ander beleef:  dat ek oes waar ek ook geploeg het.

Advertisements

Lewer kommentaar

Please log in using one of these methods to post your comment:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s