Ek eet Afrika

My studeertafel staan voor ʼn venster wat uitkyk oor die pad en, oorkant die straat, ʼn park.

In die middel van die park staan ʼn ou sewentiende-eeuse Tudor houtraam-herehuis, al langer hier as oom Jan in die Kaap.  Ouer dus as die Kasteel.  Eerste illustrasies van die huis vertoon ʼn kaal landskap met uitsig van die huis af oor die Thames-mond in die Noordsee.  Die park is nou so boomryk dat ek nie die huis van my venster af kan sien nie.

Die grag om die huis is nou ʼn reeks poele en watervalle met eende, ganse (daar’s kuikens, want dis lente) en meeue, en daar’s khoi’s, en waterskilpaaie wat bedags die walle uitkruip om in die skraal sonnetjie te lê en bak. (Ja, ja, lag maar…  Dis lente – somer – en dis steeds koud.)

Die eienaar was ʼn grondbaron, ʼn ryk man. Sy huis was ʼn baken.  Dog, eers het dit net twee vertrekke gehad: ʼn eet-en-leef-en-slaapsaal en ʼn kombuis.

Dis Kersfees en die eetvertrek staan toepaslik getooi. Daar’s benewens die reuse vuurherd, ook ʼn oop vuur in die middel van die vloer waar die “Yule Log” sou brand: ʼn groot boomstomp wat van buite af ingesleep is, met linte versier en waarop wyn uitgegooi is (om die stomp welkom te laat voel, wat dan anders?) en toe aan die brand gehou moes word tot op die Twaalfde Nag.  Só, het die Kelte gehoop, word die son omgepraat om Noorde toe terug te keer. (Mens raak desperaat!)

Later het drie vertrekke bygekom, sodat die nageslag in privaatheid kon voortplant. (Aldus ʼn verrimpelde Engelse tante wat ʼn stoute kuggie gee.)

ʼn Lang tafel staan in die eetsaal gedek vir ʼn Kersfees maal.  Die meubels, breekgoed en kombuisgereedskap is Middeleeus, maar deftig vir die tyd.

“Wat”, vra die tannie wat my gretig op toer vat, “sou jy sê is die duurste item op die tafel?”  Daar’s vleis: ʼn reuse boud, ʼn byna nog groter voël – net oor ek van beter weet, kan dit nie volstruis wees nie – ‘n speen- en ‘n vlakvark en heel visse wat jou met dooie oë aangluur…  (“Nés destyds!” verseker Tannie my.  Sy lyk so oud dat ek vir ʼn oomblik wonder of sy dit dalk eerstehands weet.)  Maar dis toe nie die kos wat so waffers luuks is nie.  Daar’s vet kerse in blakers: “Ja, hulle wás duur!  Hulle is van byewas, en nie van diervet soos die gepeupel sou gehad het nie. Dié van diervet sou vreeslik gestink het.”  Sy trek haar neus op ʼn plooi.  Nee, diervetkerse sou beslis nie deug nie. Maar ek het duidelik nog nie die antwoord wat sy soek nie.  Ek moet weer raai.  Dis nie die tafeldoek of die eetgerei nie, en ook nie die porselein eetservies nie.

“Die lemoene!,” sê sy voldaan.  Daar is twee lemoene op die lang tafel, albei van hulle op ʼn staander, vol naeltjies gedruk dat hulle soos brandsiek ystervarkies lyk. Sy verlekker haar in die openbaring.    Lemoene is wintervrug, maar hulle is nie Engels nie!  Hulle sou van Spanje af ingevoer word.  ʼn Huisbediende sou moes hawe toe om hulle ten duurste te gaan koop.  En selfs die rykstes sou nie meer as net n paar kon bekostig nie.  Maar hulle was buitendien nie vir eet bedoel nie (ek het al Spaanse lemoene geproe: San maak marmelade van die goed…).  Lemoene was parfuum.  So duur soos Chanel No 5, en net so eksoties.  Soveel lekkerder as Glade! Streng seisoenaal, het lemoen en naeltjies die geure van die Noordelike winter geword, so eie aan Kersfees in die koue as wat braaivleis, rugby en sonskyn eie is aan die land van somerkersfees.

Die nederige lemoen se oomblik van roem.

My nooi is in ʼn nartjie, my ouma in kaneel.  Daar’s ʼn kosbaarheid so edel soos wierook en mooi soos ʼn vrou, in elke geur.  Dis jammer ons vergeet, soos van die iets, of was dit iemand?, in anys.  Dat net al die geur van ʼn lemoen soms Kersfees en Afrika kan versoen.   Daar staan op die eetkamertafel ʼn bak van hulle.  Hulle kom uit Afrika se winter.  Ek onthou hoedat ek in die Noordkaap met ʼn teelepel boord toe is om lemoene te gaan skil en eet. Ek is regtig jammer julle kry dié week so bitter koud, maar ek hou met lemoen Somerkersfees. Ek eet Afrika.

Advertisements

Lewer kommentaar

Please log in using one of these methods to post your comment:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s