90 jaar oud

Ek was in 1975 nog op skool.  Marieta het ons projekte laat maak oor Afrikaans en die Genootskap vir Regte Afrikaners, eenhonderd jaar na die GRA.  “Aspoester van Afrika” was myne se titel.

Afrikaanse Taalmonument 1Op 14 Augustus van daai jaar is die Afrikaanse Taalmonument op Paarlberg geopen.  Later, met vakansie in die Kaap, is ons Paarl toe om te gaan kyk.  Bernard was dalk so groot soos Sven nou is?  Hantie sal onthou.  Hy’t ʼn papiersakdoek in die fonteinwater gegooi, en voor Hantie kon raas, het hy verduidelik:  “Die Heilige Gees was hier, en ek wou Hom iets gee.”  Iets het daai dag vir Bernard in die Taalmonument geroer.

Dit bly vir my ook ʼn hoendervel-ervaring om daar te staan.  Meer nog oor wat ek van Bernard onthou.

Terugskouend was die Taalmonument beide beskrywend van Afrikaans se verlede en profeties oor haar toekoms.  Die suile wat taalinvloede voorstel, en die gerigtheid op Afrika, was nogal dapper vir destyds.

Net die volgende jaar – dalk juis oor die bewusmaking van Afrikaans in ’75, wie weet? – sou Soweto oor die taal brand stig, en begin Afrikaans bloed verloor.  Stigma en kwynende taalgebruikers, die rebellie teen standaard-Afrikaans – want om te kan verstaan is tog mos maar al waarvoor taal bedoel is – het my ook laat dink haar einde is in sig.  Ek het my verstom aan hoe Afrikaanses nie meer sinne kon bou nie, en oor hoe woordeskat krimp.  My eie kinders het vies geword vir my voorskrifte en het halsstarrig ʼn Afrikengels gebruik.  “Dis Durban dié Papsie!”

Toe kom ʼn taalbeweging: Jan Spiesstories, Laurika se luisterliedjies, Tolla en Ollie, De Kat en kie, Fiela en Kringe, Klein Karoo, Kollig en Aardklop, en Afrikaanse musiek se nuwe klanke, die blomtyd van die ATKV en die ryp word van Tannie Evita… En al kan inbellers na RSG en Radio Pretoria soms klink of hulle Engels praat met ʼn Afrikaanse aksent, hou die taal uit.  Dié beweging kry nie end nie.  Sy lag nog met Leon en Nataniel, rock (jip!) met Die Heuwels, gesels op kykNet, giggel op die internet, ril met Deon Meyer, gaan Oscars toe met Paljas (en Jan Pierewiet haal District 9!), dink, doen, dans, spot en speel, werk en wroeg en bid met oorgawe.  Sy het meer stemme as ooit. En dit word vir my mettertyd (effens) minder van ʼn probleem dat Afrikaans dit nog nie maak in die handel nie.

Ek’s nie doof nie.  Dit gaan met Afrikaanses nie net goed nie, en sy stotter soms en huil dikwels. Soms swyg sy net, want stilbly is ook ʼn antwoord.  Dit breek ʼn hart.  Sy bloei, in meer as een opsig.

Ek loop en praat met myself.  Ek kon my die verleentheid probeer spaar en sê ek dink net hardop, maar dis nie waar nie.  Buitendien skaam ek my nie meer nie, ek is nou oud genoeg om daarmee weg te kom, en al wat leef is in elk geval ingeprop in een of ander toestel sodat hulle dink ek bel ook. Heel hip. Na agt jaar in Engeland praat ek nog met myself Afrikaans.  Ek wil haar hoor.

Lekker verjaar Afrikaans.

Advertisements

Lewer kommentaar

Please log in using one of these methods to post your comment:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s