Hoekom ek wonders nie verstaan nie

Verbeel vir jou fliek, een van daai waarin jy die openingskote nie mag mis nie.  En die titels eers ʼn rukkie na die begin verskyn.  So begin Matteus 8, die storie van hoe Jesus in die moeilikheid raak oor Hy mense gesond maak.  Vreemd!  Die titels kom eers in vers 17:

“Hy het ons lyding op Hom geneem

Ons siektes het Hy gedra.”

Dink jy aan enige goeie boek, sal jy weet daar’s nooit net een storie in nie.  Ineengeweef, is daar verskeie verhale wat op mekaar inwerk.

Stap jy by ʼn Hervormde Kerk uit staan ʼn diaken met ʼn sakkie by die deur. Jy kry sommer dadelik kans om te begin doen wat die preek gesê het.  So kom ʼn skare saam met Jesus kerk-uit na die preek op die berg.

Leprosy-1Daar’s baie wat dit sien:  Jesus vat aan ʼn melaatse man! Gooi geld in die sakkie as’t ware. Doen die preek.

Dis gou duidelik dat mooi preke nie gemaklik sit in die werklikheid nie. Die mense is vies en verontwaardig.   Dat die ou voor hulle oë gesond geword het van ʼn tot-nog-toe ongeneeslike siekte, raak iewers in die woede verlore.

Spaar maar die verontwaardiging: moenie vir ʼn oomblik dink hulle is onredelik nie.  Om aan ʼn melaatse te vat, is taboe.  Daar’s godsdienstige reëls wat dit verbied.  Dis dalk uiters gevaarlik – medies gesproke natuurlik – maar dit is beslis ook ʼn godsdienstige risiko.  En Jesus weet dit.  Dog, bloot “Ek wil” is vir Hom al meer as genoeg rede om dit tog te doen. Dat Hy die implikasies daarvan maar alte goed besef, kan jy agterkom: “Gaan wys jou vir die priester en bring die offer wat Moses voorgeskryf het,” sê Hy, dat die man net weer kan leef.  Maar ook om die skade te probeer beperk, waarsku Jesus die kêrel om  liefs vir niemand te vertel dat dit Hý was wat hom gesond gemaak het nie.

Realisties is dit nie juis om te verwag ʼn skare gaan daaroor swyg nie. Dog, Jesus vra vertroulikheid want Hy weet wat kom. Jy sien, gesondword is een ding, selfs al sit God klinkklaar daarin; of mense jou sal aanvaar, is ʼn perd van heeltemal ʼn ander kleur.

Sy gesondmakery gaan nie applous kry nie.  Die weersin aan die siekte en die gebrek wat dit bring, onder andere dat dit jou afsny van God en gemeente, gaan maak dat God se gevat aan die uitvaagsel geen begrip gaan kry nie.  Inteendeel, dit loop uit op ʼn kop-aan-kop botsing tussen die twee stories: God wat wonders doen, maar aan grillerige jafels, versus goeie Godvresendes wat tot rugbrekens toe net die godsdienstige orde wil hou.  God wat gesond maak, teen menslike verbod.  Raai wie wen? Dat God Hom in gesondmaking kan wys, is altyd goed en gewens, maar dat Hy Hom so teen die reëls kan verset dat die grense tussen God en sleg vervaag, is ʼn stap te ver.  Kortom, dis die ongehoorde storie van sy gevat aan die melaatse man, en nie die wonder dat dieselfde man nou van melaatsheid genees is nie, wat onthou gaan word.  Lastig.

As Jesus in Kapernaum aankom doen Hy dit weer.  Daar lê in ʼn huis ʼn slaaf en krul van die pyn.  “Ek sal hom kom gesond maak,” sê Jesus sonder om vrae te vra.  Die slaaf se baas, die een wat kom hulp vra het, is ʼn offisier: politieke onderdrukker se handlanger, heiden miskien, of ʼn joiner dalk?  Gelukkig is die weersin aan vreemdes en walging aan volksverraaiers tog seker iets wat God en gelowiges gemeen het?

Anders as die melaatse Israeliet staan die offisier bont om te keer dat die Here aan hom kom vat: “Here, ek is nie werd dat U onder my dak inkom nie.  Sê maar net ʼn woord, en my slaaf sal gesond word.”

Vir die mense om Hom, sê Jesus dan dat dié offisier uit Kapernaum nader is aan God as die res van Israel saam!  “Weet julle, Ek het nog by niemand in Israel so ʼn groot geloof teëgekom nie.” Hoe’s daai vir ʼn klap in die gesig? En vir die offisier sê Hy bloot: “Wat jy geglo het, sal gebeur.”  En dit het.  En was die mense toe gelukkig oor die slaaf gesond geword het? Moenie glo nie! Dié wonder gaan draai kort duskant openbare belediging.

By Petrus-hulle se huis aangekom, sien Jesus Petrus se skoonma lê siek met ʼn hoë koors.  Dié keer is die sieke ʼn goedige Joodse tannie met ʼn wisselvallige skoonseun – sout van die aarde.  Jesus het aan haar hand gevat.  Sy was dadelik gesond. Sy staan uit die bed uit op en begin die manne hande viervoet bedien soos dit ʼn deugsame vrou betaam.

En dié keer is daar opgewondenheid: die siekes kom staan tou en Hy maak hulle almal gesond.

Hier kom die fliektitels nou, uit Jesaja 53:4:

“Hy het ons lyding op Hom geneem, ons siektes het Hy gedra.”

Jesaja se digkuns kom daarop neer dat “lyding” en “siektes” plaasvervangend gebruik word.  Maar ek dink hiér, in Matteus 8, sê Jesaja iets meer:  daar’s meer lyding as net in siekte.  En Hy dra dít ook.

Aldrie die wonders moes verloop het soos die laaste, met verwondering tot gevolg.  Maar met die melaatse man en die offisier se slaaf is daar net te veel ander goed in die pad: mense, slegte mense. As Jesus tog maar net wou hou by goed doen aan goeies…  Maar Jesus sien geloof in “goddeloses” raak, en krap met  n doodluiterse “Ek wil” die hele goeie orde deurmekaar.  En van die wonderwerkende God-by-ons word net sy gevaarlike aktivisme met weersin onthou oor dit mense hulle eie plek in die goeie orde laat vergeet.

Twee stories dus.  Jesus wat mense wonderbaarlik gesond maak en Jesus wat vir Homself met die einste wonders ʼn gat grawe oor Hy die verkeerde mense gesond maak, die ouens waarvoor ons nie in ons koppe kan voorsiening maak nie.

Dis die ding met wonders: ek verstaan hulle nie, want hulle gebeur met al die verkeerde mense.

Advertisements

Lewer kommentaar

Please log in using one of these methods to post your comment:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s