Oom

Hoe kom ek hier?

Met dié dat elke jan rap met ʼn kamera kiek en jou fysboek toe vat, kry ek myself toe raakgesien – of een wat nie soos ek behoort te lyk nie, immers kilo’s dikker as wat ek my onthou, heelwat ouer as wat ek voel, dog waaragtig ek!   As ek van die verandering nog salig onbewus was, is die herkenning ʼn krieketbal op ʼn teer plek.  Ek het in ʼn vreemdeling ontaard – of te wel een wat trek op pa.  Hóé die metamorfose gebeur het, kan ek nie kleinkry nie, want ek kry evolusie (oudword?) nie gepeil nie. Die eindproduk het net een môre uit my bed uit opgestaan en op sosiale media gaan voorgee hy’s ek.

Self ReflectionNou eien ek hom al.  Want nou sien ek hom, die indringer, ook in my spieël.  Te veel suiker, te veel vet (sukkel om die Noakes-ding te glo), te min oefening (harde werk tel glo nie as dit ook lei tot te min pret nie), het ʼn veels te ernstige en plomp middeljarige oom agter my spieël laat stelling inneem.  Ek betaal ʼn gelag: ek moet opnuut met hom kennismaak en met hom leer klaarkom, en ek is nog nie so seker ek hou juis van hom nie.

Ek vra hom uit oor hoe sy pad geloop het, en ek dink ek sou amper elke ding wat hy aangevang het, anders gedoen het.  Ek kyk hom ook so: gewonne, verslae, pateties skuus-dat-ek-leef, op hierdie ouderdom nog onvas.  En hoe hy vooruit gaan kom, kan hy my nie sê nie.

Hy moet net sy gat in rat kry, dink ek.  Besef hy dan nie die risiko’s van ʼn breë, bejaarde witman sonder werk of wegkruipplek en yl voorsienings nie?  In watter wêreld is hy tuis?  Dis ʼn grap, een van daai wat jou laat inkrimp van verleentheid.

Raadgee is ongevraag – hoe sê mens nou vir ʼn ou man hy’t drooggemaak en dat sy tyd opraak – en om hulp aan te bied is seker ook onvanpas?  Buitendien, hoe moet ek nou weet wat vir hom gaan werk?  Ek was nog nooit dáár nie!  Hoe gaan ék hom opbeur?  Hy’s al klaar in so ʼn diep gat dat hy nie meer vatbaar is vir vlak verskonings soos dat hy van al’s wat hy gedoen het tog oortuig moes gewees het dis die regte ding, nie.  O, ek sien ook sy foute raak, asof ek hulle self begaan het, maar hy’s gevoelig as hulle opgehaal word, het ek agtergekom.  Kleinserige ou korrelkop, dié, een wat moeg is vir buig en besgee en nou op beuselagtighede sy mag met mening afdwing, opgetrek met die idee dat hy eindelik nou sy eie baas is, al is dit op ʼn mishoop.  Al wat hy nou mis is die sekere hoop van wat ʼn salaristjek kon koop.

Nes ek hom wil jammer kry, maak hy my briesend kwaad.  Sy selfbejammering loop uit op ʼn eksistensiële angs.  Tog nie op dié ouderdom nie, man!  En is dit wragtig nou nodig om jou hele bestaan te wil in twyfel trek net oor jy jou jop kwyt is?  Ag kom nou, wat het God daarmee te make?  Jy’s nie die eerste en ook nie die laaste… wat moet reken op aalmoese nie.  Dog, die bakhand staan voor ander, kan ek half verstaan, moet swaar wees.  Dis vir my ook.  Ek onthou my pa het my daarteen gewaarsku.  Maar teen hierdie ouderdom moes jy jou darem seker al teen dié soort gebeurlikheid verskans het?

Jy sien, ek het jou mos gesê ek sou al’s anders gedoen het, Oom.

Dit was fysboek.  Dis hoe ek hierby uitgekom het.  Dis verrassend, nè, dat die herkenning van ʼn vreemdeling op fysboek my nou laat wonder of ek die kluts kwyt is.  Want nou moet ek met die oom leer saamleef.  Vieslike ding, fysboek.

Advertisements

Lewer kommentaar

Please log in using one of these methods to post your comment:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s