Ek sal wag tot jy terug is

Kremetartboom, Pierneef 1934
Kremetartboom, Pierneef 1934

Gideon kruip weg. Die Midianiete het die land oorgevat.  Hulle en hulle veetroppe het die land kaalgevreet.  As die Israeliete bid “Here help!” is die antwoord iets soos: “Julle het dit oor julleself gebring.  Ek hét mos vir julle gesê julle mag nie die Amoriete se gode dien nie.  Dog, hoor is min…”  En helde nog minder.  Daar is nie sprake van enigeen wat hom teen die Midianiete teësit nie.  Inteendeel, die Israeliete hou vir hulle maar skaars. Gideon ook.  Die kêrel kruip in ʼn parskuip weg. Dis beswaarlik die soort ou wat jy sou vertrou om ʼn leër te lei.  Hy is Joas se seun, uit die Manasse stam.

“Dapper man!” groet die Here hom.  Nou ja toe!

Net die gedagte dat die Here doodluiters onder die groot boom in Ofra kom uitspan, slaan jou dronk. En dat Hy dan die wegkruiper “dapper” noem, is vreemd verby.

Bybelmense is doodgewone manne en vroue.  Daar steek in hulle niks uitsonderliks nie.  Dis God wat vreemd en anders is. Dis dalk dié dat die Here se Engel eers ná Hy gesê het “die Here is by jou” vir Gideon ʼn “dapper man” noem.  Want vanself is Gideon dit nie.

Buiten dat Gideon maar doodgewoon is, en nie waffers dapper nie, is hy ook maar bra skepties, selfs ongelowig!  “Ekskuus, Meneer,” sê hy, “maar as die Here by ons is, waarom kom al hierdie dinge oor ons?  Waar is al sy magtige dade waarvan ons voorvaders ons vertel het…? Nou het die Here ons in die steek gelaat…”  Gideon het duidelik nie die boodskap gekry van ʼn paar verse vroeër nie:  ʼn profeet wat laat weet het dis Israel se eie skuld, want hulle het ander gode begin dien.  Nee, Gideon is oortuig “die Here het ons in die steek gelaat: Hy het ons oorgegee in die mag van die Midianiete.” ʼn Ware man is Gideon, heilig oortuig van sy eie onskuld, doodseker die fout lê by God.

Die Here doen nie moeite met verduidelikings nie. “Gaan red die Israeliete uit die mag van die Midianiete.”   So gemaklik sit Gideon in die doodgewoonheid toegewikkel dat hy aanhitsing nodig het: “Toe-toe, laat jy gaan. Ek stuur jou!,” sê God.  Maar doodgewone mense word nie sommer voorgesê nie.  En ons doen niks sommer dadelik nie.  Nie eers as God so sê nie (nog iets wat ons uniek maak in die skepping).

“Ekskuus, Meneer, maar waarmee…?”  My familie is arm, en ek is onbelangrik.

Weer kom dit van God af, vir die tweede keer nou al, van Hom af wat gewoonlik net eenkeer iets hoef te sê en dit gebeur: “Ek is by jou…” As daar iets is wat jou dapper behoort te laat lyk, is dit dat God by jou is. “Jy sal die Midianiete verslaan asof hulle nie meer as een is nie.” Dis nou een en dieselfde Midianiete wat so baie soos sprinkane is, wie se kamele jy nie kan tel nie, en die land kaalstroop.

“As U so vriendelik wil wees,” kom dit van Gideon, “doen tog vir my ʼn wonder…” Wag vir my.  Wag vir my om te glo.  Dis ongeloof goed gekamoefleer in eerbied en aanbidding, maar dit bly huiwering.  Wag dat ek ʼn offer kan gaan haal.

Dan sê die Here dit ook, iets wat Hy met geen ander deel van sy skepping duld nie: “Ek sal wag tot jy terug is.”

Hy wag.  As Gideon met die vleis, brood en sous terugkom, steek die Here die vuur aan en verteer die offer. Daarna is Hy van Gideon af weg.

Met ons, wag God.  Hy wag vir ons.  Hy verwag nie onmiddellike gehoorsaamheid nie.  Hy wag tot ons terugkom.  Want ons gewone mense, selfs die dapper Gideons, vat lank om te glo.  Ons gooi eers ʼn paar draaie.  Glo is immers ʼn laaste uitweg.  Ons glo eers as Hy weg is.

God maak Hom onder ons bome tuis en wag, want selfs geloof vat tyd. Hy wag tot ons terug is.

Rigters 6 verse 1 tot 22

Advertisements

Lewer kommentaar

Please log in using one of these methods to post your comment:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s