Jy mag nie skiet nie.

“Ek sterf liewer op my voete as wat ek op my knieë leef.” Aldus die  redakteur van Charlie Hebdo.

Die ironie van die woorde gaan die ontwikkelde Europese verstand te bowe.  Dit kliek nie.  Die samelewing wat ʼn eeu na die Groot Oorlog vreedsaam die god-partikel vind en snoesig op komete rondkuier, glo fanaties in god en weet dit nie.  Met geloof het ek min moeilikheid: ons almal glo in iets.  Dis wanneer jy dit nie wil weet dat jy glo nie, dat jou greep op die werklikheid gevaarlik word.  En dis die ironie: die kontinent van kultuur, die bastion van vryheid en verfyndheid,  die bakermat van mensereg en matigheid, is oor die fundamentalisme in die ander se oog so behep dat hulle hulle eie stokblindheid nie raaksien nie.

Pous Franciskus in Rio: "Hy't alles wat `n verleidster nodig het om klante te kry."
Pous Franciskus in Rio: “Hy’t alles wat `n verleidster nodig het om klante te kry.”

Charlie Hebdo is ʼn tydskrif met ʼn satiriese inslag.  Dit steek draak met al wat ʼn heilige koei is. Charlie glo hy ontmasker pous, profeet en politikus met ewe veel geregverdigde venyn.  Charlie bid of buig nie, nie voor enigeen met gewaande belangrikheid nie.  Dié dat jy hom nooit nederig en op sy knieë sou kry nie.

Nee, Charlie leef op sy voete.  Dink op sy voete.  Skiet uit die heup.  Net spreekwoordelik natuurlik;  Charlie wend hom nie tot geweld nie.  Nooit nie! Die Europeër walg hom immers aan alle bloedvergieting (op eie bodem) – hoe dan anders na die Groot Oorlog?  Nee, die pen is sy onskuldige swaard – Woensdagaand was Trafalgar Square in Londen vol mense met weerlose penne omhoog, uit gevoelvolle meelewing en gewigtige solidariteit.

Toe Europa vir Christus die trekpas gegee het, is die gebod dat selfs net om jou broer ʼn dwaas te noem al moord kan wees, saam met Hom uitgedryf.  Die gat wat die gebooie gelos het, is met `ʼn handves vir menseregte toegestop.  In roerende seremonie is saamgesweer  oor ʼn gesofistikeerde gedragskode wat almal sou hoogag en gehoorsaam.  En van gode, het hulle geglo, is hulle eindelik verlos.  As hier nog gode is, is ons hulle.  God het grondgevat.

Vryheid van Spraak is die nuwe grondwet.  “Dis heilig,” sê een.  “Dis die een absolute waarheid waaraan ons vaskleef”, sê ʼn ander.  “Dis die hoeksteen van ons gemeenskap.” Maar dis dan godsdienstige taal dié, verstom ek my, onbeskaamd ingespan om trou te sweer aan ʼn vryheid wat haar nie deur verantwoordelikheid laat inperk nie? Op ons kniéë leef ons nie.  Nie hiér nie.  Hier sterf ons liewers op ons voete…

‘n Fundamentele vryheid of ‘n fundamentalisme van Vryheid?

Die fundamentalisme het geen erg aan mag nie, buiten sy eie stem.  Fundamentalisme ken geen verdraagsaamheid of bedagsaamheid nie, buiten sy eie reg.  Fundamentalisme is ideologie wat hom met godsdienstige drif op jou afdwing.

Sedert Parys het kletsradio en televisiedebatte nog nie uitgepraat kon raak nie: die helde van die Charlie Hebdo redaksie het martelaars gesterf vir hierdie een ononderhandelbare beginsel van Westerse beskaafdheid: die vryheid om te sê wat jy wil van wie jy wil.  Die reg om te kan (ver-)vloek en skel en dan verontregting te skreeu as iemand dalk sou aanstoot neem.

Nee, word daar teruggekap, jy verstaan nie!  Jy mag maar aanstoot neem, dit pla ons nie.  Maar jy moet terugpraat, sien. Dis die liturgie van die nuwe erediens.  Jy mag net praat, nie skiet nie.

Glo jy dis moontlik, sou jy Nylwater ook kon drink in die eerste plaag.  Die verheerliking van Charlie Hebdo se kruistog vir Vryheid van Spraak in nabetragting oor die slagting, is, vriendelik gesê, naïef.

As die pen dan magtig is, is penne die tong se handlangers.  Hoekom is ons verbaas die ding ruk hand-uit as ons die Wag voor die mond weggejaag het?  Waarom wonder ek nog hoekom niemand ʼn woord rep oor selfbeheersing nie as selfbeheersing ʼn vrug van die weggestuurde Gees is?

Ons het nie vergeet die pen is magtiger as die swaard nie.  Ons weet dit.  Dit was immers die sub-teks van Woensdagaand op Trafalgar Square: dat woorde (en ander prentjies, wat  ook maar pennevruggies is wat woordeloos spot) wêrelde skep en samelewings uitwis.  Ons wou skade aanrig.  Ek vermoed ons het te lank laas bloed gesien vloei.  Die Oorlog was Groot, maar ek skat `n honderd jaar is `n lang tyd.  As ons dit weet, dat die pen so magtig is, magtiger as die swaard, het jy, skrywer, mos willens en wetens kragte gemeet.  Waarom dan verras wees oor die geweld van die verset?  Het iemand al ooit ʼn oorlog begin sonder om te dink hy kan dalk wen?  Charlie wou staande sterf, en het met ʼn lem by ʼn skietgeveg opgedaag.  En hy’t geval waar hy gestaan het.

Charlie Hebdo voorblad:  "Maak vir Charlie stil!"
Charlie Hebdo voorblad: “Maak vir Charlie stil!”

Ek dink nie ons het vergeet hoe magtig die woord is nie.  Die woord is by god en die woord is selfs al god, die pen is sy wapenrusting en die Charlies sy ware profete.  Voor dié god staan jy glo nie op jou knieë nie.  Jy staan kordaat, pen gereed, om jou meedoënloos te laat afmaai.

Ek ken ʼn ander Woord wat God is.   Hy leer my versigtig wees, ook met hoe ek skryf en praat.  Selfs oor ander gode.  Hy laat my my eie sonde raaksien, wat fundamentalisme nie kan nie.  Want Hy waarsku my om my sonde in toom te hou. My woorde ook.  Die woord is magtig.  Ek moet my tong beteuel. Daarom, vermoed ek, skryf ek liefs van my knieë af.

Ek wil Charlie nie stilmaak nie; ek wil geen godsdiens onderdruk nie.  Wou maar net sê dis `n godsdiensoorlog dié.

Naskrif: Ek laat my nie vertel terreur is regverdigbaar nie. Jy gaan terreur op geen manier by my goedpraat nie. Ek wil met ewe sterk oortuiging sê dat die hovaardige uitlag van godsdiens in die naam van die hedendaagse heilige koei, “vryheid van spraak”, ironies genoeg getuig van net nog ʼn dwase religie, een met ewe min begrip vir wat menswees dryf as die godsdienste waarmee dit draaksteek. Ek is diep bedroef oor die Paryse terreuraanval op Charlie Hebdo. Sinloosheid in oordaad.

Advertisements

Lewer kommentaar

Please log in using one of these methods to post your comment:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s