Waag verantwoordelikheid

Die Engelse wil dit hê dat barmhartigheid tuis begin.  ʼn Vriend voel barmhartigheid het grense.  Barmhartigheid begin en eindig dus.  Maar ek dink dis `n waagstuk.

Aman Sharma Kumar vertel sy storie by die IMO in Londen
Aman Sharma Kumar vertel sy storie by die IMO in Londen

Aman Sharma Kumar was dié week in Londen.  Jy’s vergewe dat jy nie weet wie hy is nie: hy was vir amper vier jaar weg. Vroeg-Junie vanjaar het ons hom in Somalië gaan haal.  Hy’s gyselaar gehou deur seerowers wat die Albedo oorval het.

Ons het hom laat kom om sy storie aan die industrie te vertel. ʼn Negentienjarige enigste kind van ʼn Indiër-ouerpaar, vaar met die Albedo uit op sy eerste seevaart, met al die opwinding van ʼn tiener se eerste beroep en ʼn wye wêreld wat wag om beleef te word.  Duskant Somalië is die skip aangeval en oorgevat. Wat volg het die jongman amper tot moord gedryf, erken hy, want hy kon – daar was geleentheid voor:  die Somaliërs was dikwels so bedwelm dat mens hulle maklik sou kon oorrompel.  Maar teen daai tyd was die skip se brandstof op, en die vaartuig reeds so gehawend dat hulle nie ver sou kom nie.  “Buitendien,” sê hy, “ek is my ouers se enigste kind.  Wat sou van hulle word?  Ek moes oorleef!  Nie net oorleef nie, ek moes by die huis kom.”

Hy is saam met sy kollegas wreed gemartel, dag in en dag uit. Sy makker is voor hom doodgeskiet. Want die skeepseienaar het die dag toe die skip onder die bemanning sink, alle belang verloor om die mense wat op haar geseil het sonder sy bate terug te bring.  Die manne is aan hulle lot oorgelaat.

Vier is sedert daai nag toe Albedo verdrink het al vermis.  Toe die oorlewendes in Junie terugkeer, het die vermistes se wagtende gesinne eenkant die vreugdevolle herontmoetings verslae gestaan en gadeslaan, voor hulle met leë hande huis toe is.

Dié wat daai stormnag oorleef het, het die see ingespring.  Aman wou nie.  Hy het gestaan en huil.  Hy kan nie swem nie, sien, en die seerowers het die reddingsboeie vir hulleself gevat.  Hy vertel dit sonder skroom.  ʼn Maat het sy lewe gered:  hy’t vir Aman die Indiese Oseaan ingestamp en toe agternagespring om hom te sleep tot by die vissersboot wat die rowers opgekommandeer het.

Jy kon ʼn speld hoor val.

Aman, so blyk dit, het die bemanning aan die gang gehou.  Na die kaptein en dié se volksgenote vrygelaat is, en Aman en die elf ander agtergelaat het – die losprys was glo nie genoeg nie – het Aman Somalies leer praat, met die “beleggers” in die seerowery bande gebou en vir die manne beter beding. Nou, skaars 24, praat hy met wysheid wat sy jare ver te bowe gaan. Op die vraag wat hy sou wou sien vorentoe moes gebeur, was sy antwoord vlot en vinnig: bring die 37 oorblywendes huis toe, sorg intussen vir hulle geliefdes en gee hulle hoop.  Mens oorleef van hoop.

Gee lewe en hoop.  Wees barmhartig dus.

Die gehoor was op hulle voete.  Hulle het hom met luide applous teruggedra na sy sitplek toe.  Hy het gesoutes en gehardes ten minste weer laat dink al het hulle harte dalk nie daarvan sag geword nie.

ʼn Woordvoerder van die seevaartindustrie het goed Engels gereageer.  Barmhartigheid begin tuis.  Baie mense kry seer en kry swaar en verdien hulp van filantrope.  As ons kompeteer om die pot lensiesop kom die eersgeborene tog seker eerste?  (Hm, toe ook nie…) In die kompetisie om die krummels van die liefdadigheidskoek kom die kinders tog voor die hondjies, of hoe?  (Ook nie heeltemal nie…) Hierdie man is immers een van ons, een van ons eie huismense.  Hy en syne staan tog eerste in die ry, dan nie?

Wel, ek weet dit staan nêrens so geskrywe nie, maar ek wil dit ook so hê.  Ek glo dit hoort so.

Waar dit eindig, is ek nie so seker van nie.  Want barmhartigheid het nie ʼn resep nie, veral nie in die Samaritaan-gelykenis nie.  Geloof, glo ek, is eerder ʼn uitnodiging om te dink, dog meer as net in teorie.  Dis denke wat aan lewe lyfgee, dis nabetragting oor God wat op bedagsame en deurdagte gedrag uitloop. Geloof vra – eerder as gebied – dat ons die geleenthede vir optrede deurdink en dat ons dan wat ons ookal doen, kan verantwoord.  Elke gelowige besluit is daarom ʼn waagstuk, een waarvoor jy self aanspreeklik is.  Of jy met die liefde volgehou op opgehou het, jy moet kan verduidelik.  Geloof nooi jou uit om self te besluit wie, wanneer en hoe ver.

Dis moontlik daar’s ʼn einde aan barmhartigheid, maar ek wil net nie vooraf al die streep trek nie.  En beslis mag barmhartigheid nie net met jantuisbly se karretjie ry nie.  Daai skip het saam met Christus gesink.  Alfa en Omega.  Sela.

Advertisements

Lewer kommentaar

Please log in using one of these methods to post your comment:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s