Verdraagsaamheid in die leerplan?

Ek twyfel daaroor nie: grondliggend aan ons geloof is verdraagsaamheid.  Die dat dit so moeilik is, want Hervormd wat ek is, glo ek dat wat goddelik is, nie van nature kom nie. En onderrig maak nie sonde gesond nie.  Daarom, as ons ons kinders dit moet leer, is die vraag: hoe, en dalk ook waar? En my antwoord is: ek weet nie…

Maar ek is in goeie geselskap.  Obama het dit ook die week gesê: dat hy nie weet nie, geen plan het met die Islamstaat nie. Dit maak my nie bang nie.  Dit laat my besef die man dink voor hy skiet.  Ek besef dit irriteer en frustreer as jy Israel of Republikeins is.  En ek weet mens verloor maklik die inisiatief as jy jou magsvoosprong nie gou genoeg inspan nie. Maar ek sien nie juis vir God ooit voordeel soek in magsvertoon nie.

Verdraagsaamheid is ʼn verdomde ding: jy moet leer saamleef met iets of iemand wat jy nie kan veel nie.  Erger nog: jy moet liefdevol saamleef met wat jy nie glo nie. Jy moet met agting – ja, met hoogagting – respekvol wees, geduldig aandag skenk, beheersd verskil en oordeel uitstel. Dit alles sonder om saam te stem, sonder om gelate te aanvaar, sonder om geloofwaardigheid prys te gee of jou staanplek te verloor. En sonder om oor te gee aan jou afgryse met die gewelddadige godsdiens.

school-signDit lyk nie vir my na iets wat gemaklik sit in ʼn graad een leerplan nie.  Verdraagsaamheid is nie die soort sedelessie wat jy met ʼn Grimm sprokie oordra nie.   Dis groente vir grootmense, nie melkkos vir kleintjies nie.

Hoort dit dan hoegenaamd op skool, die godsdiens ding?

Ons het in die gat getrap om ons lewe in afsloof, speeltyd en Sabbatsrus op te deel, met geloof kwansuis relevant vir die laaste van die drie.  Daarbenewens geld geloof by godsdiens, en nie soseer by geldmaak en genot nie.  Hiervandaan is dit kortpad na gelooflose arbeid, godlose  markte, godsdiensvrye state en sekulêre skole toe.  En ons doen dit oor ons verleë sit met ʼn  gebrek aan kennis van wat ons glo.

God regeer.  Geloof in God sal jou lewe reël, en nie net op Sondae nie.  En die einste God sal jou leer liefhê, selfs diegene wat jy andersins onmoontlik gaan vind om mee uit te hou.  Selfs diegene wat jou spyker vir spyker teen ʼn kruis vasslaan, of dreig om jou te onthoof.  God maak gelowiges verdraagsaam.  Haal Hom uit die skool uit, en jy’t alle hoop op vrede en godsdiensvryheid tevergeefs verklaar.

Sê dit ʼn slag met die oortuiging van geloof:  die God van wie ons verdraagsaamheid leer, dis Hy wat ons verdraagsaam maak.

Maar nes God nie met bordkryt ingegee word nie, is verdraagsaamheid ook geen neweproduk van wetenskaplik beskrewe onderrig nie. Nie eers van lewensoriëntering wat wil hê jy moet dink almal is anders dog ook eenders en daarom ook maar ewe goed nie.  Jy boender nie vir God in ʼn kerk of ʼn klaskamer in nie. Maar jy kry vir Hom ook nie daaruit nie.

Daar is iets te se vir kontak met die wat van jou verdraagsaamheid verg.  Vermyding is nie juis dieselfde ding nie. Maar so min as wat ek sou reken op ʼn skool om my kinders van God te vertel, net so min gaan ek op skole staatmaak om my kinders verdraagsaamheid te laat oefen.

Ek het van meet af aan gesê ek het nie antwoorde nie.  Maar vir die “waar?” en “hoe?” hiervan lyk vir my die bestes, hoe ongewild en voorlopig ookal, respektiewelik ʼn ouderwetse “tuis” en “met die voorbeeld van ouers wat geloof goed genoeg verstaan om dit te probeer leef ook”.  En juis die ouers sou ek vra om te verstaan dat ons in hierdie land, soos trouens in die ganse wêreld, nie alleen is nie.  Ons kinders sal vreemdes op skool teëkom. Ook dit is nie toevallig nie. Dis Hy wat ons verdraagsaam maak.

Advertisements

3 thoughts on “Verdraagsaamheid in die leerplan?

  1. Ek het die laaste paar dae baie hieroor gedink. Want sien, ek het probeer doen wat jy hierbo sê. Saans vir my kinders uit die Bybel gelees voor hulle gaan slaap het, Sondae met hulle kerk toe gegaan, probeer leef soos iemand wat God ken. Op pad of in ons daaglikse lewe daaroor te praat sou die behoefte daar wees.
    MAAR
    Ek is maar net ‘n mens, vol sonde, was ook maar lui, het ook maar net SOMS geleef soos iemand wat vir God ken. Verder is ons kinders so ‘n klein rukkie by die huis. Plaaskinders is basies 2 dae by die huis, die res is hulle in ander se hande wat kan vorm en inligting voer net soos dit hulle behaag.
    DAAROM was ek so dankbaar dat my kinders ook van die Here geleer het in die skool, dat die skool gehelp het dat daar CSV kringe was, of wat mens dit ookal noem waaraan die kinders kon deelneem. Ek is dankbaar dat hulle kon hoor van Jesus in saalbyeenkomste. Op dié manier was my las verlig.
    Ek is wel bekommerd dat die skole dalk die ENIGSTE plek is waar die kinders ‘n bietjie geloofsopvoeding kry, dat ons as ouers se hande dalk lam geword het en ons op die skool STAATMAAK daarvoor… want DAN voorsien ek probleme vorentoe.
    Mag skole nog lank ons kinders van Jesus vertel. Mag ouers hulle verantwoordelikheid hieroor besef en by die huise sorg dat hulle kinders weet waaroor geloof gaan.

Lewer kommentaar

Please log in using one of these methods to post your comment:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s