Groente

cupcakesHier word gebak en gebrou dat dit ʼn naarheid is.  Daar heers ʼn honger vir die “Great British Bake-off”.  Woensdagaande is die al-vetter-wordende Britse volk aan’t lippe aflek vir die stoute  realiteitsprogram oor koek en koekies bak.  En helaas geld dit ook van my:  ek is met lus gevang.

Een deelnemer is ʼn goedige, sout-van-die-aarde tannie wat die eerstepryse by die vrouevereniging se koek- en konfytkompetisies opslurp.    Daar moes ʼn roomys-gebak opgedis word.  Haar gereg pas nie lekker in die vrieskas nie en sy haal die rooi bebaarde Ier s’n uit, herrangskik die poedings en kry hulle dan almal netjies ingeprop.  Toe die Rooie sy roomys uit die yskas haal, is die hele ding ʼn souserige flop.  Hy gooi dit terstond in die asblik, en storm van die stel, en sommer van die program ook, af.

Realiteit-TV gee geen realiteit weer nie: die leidraad sit in die agtervoegsel.  In die finale snit is die terugsit van die poedings in die yskas in, bloot uitgelaat.  By uitsending lyk die tannie meer na ʼn terroris wat die man se Alaska saboteer en laat smelt.

Toe skop die werklikheid in: so erg word die haatspraak in die pers en sosiale media, dat haar familie besluit om haar weens gesondheidsredes uit die program te onttrek.

Dis net nie meer snaaks nie: hoe ons vir soetkoek opvreet wat die media opdis. Maar dit kan ek nog verstaan en vergewe: die media is slinks.  Sien is immers glo, en die media se gekookte stories is die waarheid waarmee ons noodgedwonge werk.  Die skuld lê daar.  Maar leer dan hoedat die manipulasie van hierdie klein stukkie onbenullige werklikheid – sonder om eers te lieg – sprekend is van hoe ons gif gevoer, gevorm, gesus en opgesweep word deur ʼn hartelose medium.

Maar dis nie oor die media wat ek ʼn eier wil lê nie.  Ek het lankal die media opgehou vertrou.  Destyds al, toe die SABC vir Jakkals vlak voor sy kerk in die Paarl gaan kruisig het.

Ek is kwaad oor ons ons soos resepte laat lees.  Oor ons toelaat dat hulle met ons koekies bak.  Die verdraaiing van die waarheid lok publisiteit, publisiteit sterk kykertalle, en kykertalle is ʼn geldeenheid in die vlak wêreld wat pas in ʼn plasmaskerm.  Die versuikerde evangelie van koopkrag is soeter as heuning. Ons sluk dit sonder moeite.  Ons smul daaraan. Dog, soos `n dwelm beduiwel dit ons goeie oordeel.

En dan gebeur iets wat my nog meer omkrap, want dit sou ons moes kon keer: dat ons van voor die TV af opstaan en die kuberruimte betree asof dit ʼn leë spasie is waar ek my kan laat geld asof niemand anders as net ek en my mening saakmaak nie.    Ons bestorm onnadenkend ons eie gemaak-private klaagmuur om graffiti te gaan griffel, vloekend en vervloekend, woedend en onbeheersd, hard en ongenaakbaar.  Hier sit ek dan op my eie, hier’s niemand anders hier nie, hier leef ek alleen, en hoef ek niks of niemand meer in ag te neem nie.  Hier kan ek gal braak en bitterbek wees, en sonder apologie of skuldgevoel vergeet van goeie maniere en basiese ordentlikheid.  Asof, wanneer jy dit op jou rekenaar intik jy jou nie hoef te steur aan gevoelens, geloof of gewete nie.

Die virtuele werklikheid is ʼn werklikheid.  Daar’s mense in.

Ek het eendag op die verbypad Durban toe in verkeer vasgesit toe ʼn omroeper sê: “Remember: traffic is alive.  There are people living there.” Ek het nog nooit weer dieselfde oor verkeer gevoel nie.  Die virtuele werklikheid is ʼn realiteit.  En dit sal ons die moeite loon om te besef ons is daar ook nie alleen nie.  Daar leef mense daar.  Dit sal help om te onthou om ook daar bedagsaam te wees.

Kortom: die media is nie koek vir kinders, of melkkos vir jong geloof nie.  Dis groente vir grootmense.  Moenie daaraan stik nie.

Advertisements

Lewer kommentaar

Please log in using one of these methods to post your comment:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s