Die Here en die Lords

0952Twee aartsbiskoppe staan goudbeslaan en swaarde kruis oor of die dood vir ons goed is.  Of dan ten minste beter is as die lyding voor jy die asem uitblaas.  Gandalf versus Saruman.

So beeld die Britse media die woordestryd uit wat Carey, voormalige aartsbiskop van Kantelberg, en Welby, die huidige oom in die amp, skynbaar in die pers voer.

Die media vind dit komieklik.  So diep gewortel is die wanbegrip oor geloof in God en Christus dat die meningsverskil in die gemeente “bewys” hoe belaglik die kerk se aanspraak op gesag is. Daar word die draak mee gesteek.  Daar word sonder skroom gespot dat selfs die twee dominees naaste aan die Allerhoogste nie eers mooi weet hoe hulle dit met Hom en met doodgaan het nie.  Die ooglopende verbeeldingsvlug van die strydende wyses vir eers daargelaat, sê hulle, hoe vertrou nou nog mens hierdie “magtiges” om ons met gesag oor die lewe te kom staan en voorsê?

Lord Falconer het weer ou koeie uit graftes kom grawe en ʼn paar geraamtes in hulle kaste laat ratel met ʼn nuwe wet in die House of Lords: dat geliefdes hulle dodelik siekes kan help sterf.  Carey het laat blyk hy kan daarmee saamleef.  Welby sê weer oor sy dooie liggaam.

Die twee kerkmanne se koerantartikels bevat geen teologie nie.  Die argument word op maatskaplike gronde gevoer.  Soos dit dikwels met etiek ook moet. Etiek is immers menslike verantwoordelikheid en gee prakties uiting aan wat en hoe ons glo.

Dit gaan nie in die meningsverskil om genadedood nie.  Dis oor of jy aanspreeklik bly as jy iemand wat wil doodgaan sou help met selfmoord.

Welby se vrese is eenvoudig en maak sin, as sonde is wat jy glo van ons mense se aard:  sulke wette gaan siekes en oues onder druk sit om gouer te groet, oor erfgename gaan kom bakhand toustaan om verligting van hulle eie “onhoudbare lyding”: gebrek aan genoeg goed en geld.

Carey, weer, glo dat ons egte lyding mag verlig – die sieke s’n.  Daar’s nie fout mee nie.  Lyding is erger as dood.  Dog gaan die oortuiging mank aan vermyding van lyding, asof lyding nie ook van lewe deel is nie.  Maar, en hierin het Carey reg, laat ons ons nie verbeel ons kan beter weet as die mense wat die lyding moet deur nie.

Die debat tussen die ouderlinge is tydig; dat hulle verskil, bemoedigend; die toon van hulle respekvolle gesprek getuig van egte eerbied vir lewe, vir kerk en vir mekaar en (durf ek sê, by gebrek aan ʼn openbare geprekery?) hulle heilige ontsag vir God.

In ʼn wêreld waarin alles geoorloof is, dog nie alles goed is nie, slaan menslike verantwoordelikheid die asem weg.  Lewe word moeilik, word lyding.

Dis opnuut duidelik dat die skoen aan die ander voet is, as die keiser nog hoegenaamd skoene dra.    Jy los met wette nie etiese kwessies op nie.  Geen wet gee bevredigende kitsklaar antwoorde vir wat eintlik worsteling met God verg nie. Reëls maak nie al’s reg nie, want wette kies kant en reken op reguit ja’s en nees.

Die lewe saam met God het nuanse.  Jy skryf nie vir Christus sommerso in ʼn boek op (of af) nie. Nes jy ook nie sonder God gelewe kry nie.

Die twee dominees sê al soekend dat God onfeilbaar is, en ons nie, en dat God groter is ons begrip.  Hulle vrae antwoord beter as Lord Falconer se wet, die House of Lords, die pers se gelag in die mou, en almal saam wat dit so roerend eens is, dat jy God nie sommer so vasvat of kleinkry nie.

Advertisements

Lewer kommentaar

Please log in using one of these methods to post your comment:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s