Glas

Dis warm in Bremen.  Helder somer.

Ek moes tienuur uit die kamer uit.  Die Seemannsheim is propvol en die kamer is verhuur.  Maar my wifi hou nog tot laatmiddag toe.  Daarom maak ek my in die sit-eetkamer van die seemanshuis tuis.  Ek haal agterstallige e-pos in. Ek reis lig en goedkoop: daarom is die terugvlug eers laatnag,  met Ryanair, Iers vir Kulula, en ek moet tyd verwyl.

Ek is terug in Bremen na drie dae in Breklum.  Die Deutsche Seemannsmission het Weltkonferens gehou en ek moes daar praat, oor “waarheen nou met seemansbediening?” noudat die geld behoorlik op is en die ekumene aansien verloor.   Nie dat ek regtig weet nie, dog, daar staan ek toe, sogenaamd “spesialis” op die terrein, en skraap my hoop se boom.  Ek staan maar sommer hier en bid, sê ek vir hulle.  En nugtere mense wat die Duitsers mos is, gee hulle duidelik te kenne dat hulle nie my goeie bedoelings vir soetkoek eet nie.  Ek’s naïef, ek weet.  Ek sê dit ook sonder skroom.  Dis immers niks lekker om uitgelag te word nie: dié dat ek geredelik gelykgee dat ek groot droom.

Dog, hoe gemaak as ons toelaat dat hoop opraak?  Ons is immers seker van wat ons nie kan sien nie?  Maar die manne is moedeloos. Die toekoms lyk arm, en dit was eers later die aand dat hulle Brasilië op sy herrie gegee het.

Ek vra of ek darem aan die opdrag, indien nie heeltemal aan die verwagtinge nie, voldoen het?  Ja, word ek gasvry verseker.  Daar wás wel lewendige bespreking, waarvan weinig met my saamgestem het…  Maar ja, gee hulle later gelyk, daar bly darem nog die hoop oor wat geloof gee.  Glo jy in opstanding, neig jy om te hoop waar daar geen ooglopende grond vir hoop meer oor is nie. En in God wat dinge kan fix. As almal net wil saamwerk…  En daai “almal” sluit ʼn paar ouens in wat nie sommer sal nie.  Ons kan dit net nie sien gebeur nie, is die uiteinde van die gesprek.

Dis ʼn redelike verweer.

Daar’s die aand baie bier verorber.  Die dominees kom in rooi en swart strepe voor die grootskerm-TV sit en luidrugtig raak.  Dit was net na die eerste doel toe die storm losgebars het: gietende reën en oorverdowende donderslae soos ek laas op die Hoëveld teëgekom het.  En met dié is die satellietvoer daarmee heen, én die internet.  “Dis twee-nul”, sê iemand.  “Nee, drie!”, sê ʼn ander.  Hulle’t glo pelle wat SMS’e stuur.  “Vier!”, skree nog een.  “Nee, vyf!”  Die manne ís vir jou gesuip.

Al is dit lank na nege-uur in die môre, as jy wil hê iemand moet jou bly glo, bly dan ten minste net effens in voeling met wat moontlik is!

dead birdDie skerm flits en die sein is terug en die telbord sê 7-0!  Ek dag die ouens raak mal: wat hulle sien, kan hulle nouliks glo.  Al was daar gerugte wat die rondte gedoen het, was die stories veels te goed om waar te wees.  So goed gaan dit nóú met hulle (of was dit dalk die bier wat die klomp saf gemaak het?) dat daai saal vol normaalweg gedrewe Duitsers (ja, die stereotipe ís waar) die Brasiliane  begin jammer kry.  Hulle juig oor die gasheerland se eerste en laaste doel kort voor die eindfluitjie asof dit hulle eie is!

Mens loop jou soms vas in goed wat jy nie kan sien nie.

Ek skrik my boeglam oor ʼn harde slag reg voor my waar ek in Bremen se seemanstuiste sit en werk:  ʼn voëltjie het haar te pletter gevlieg teen die glasruit wat sy nie kon sien nie.  Ek storm uit om te probeer help, maar daar’s niks wat ek kan doen nie.  Ek staan en kyk hoe die laaste lewe uit haar ogies wegraak.  Dan tel ek haar op en sit haar saggies in die asblik.

Advertisements

One thought on “Glas

  1. Glashelder, glashuis, bodem van die glas. Daar het jy my in trane 03:07 in die oggend se slaaploosheid. Verlang. En plein hartseer vir die dooie voëltjie… en vir jou wat hoop moet smous waar die verwagting geld is.

    Jy skryf so raak my broer. Met soveel nuanses en interteks dat ek seker is min verstaan die briljantheid daarvan en ek moontlik net dalk die helfte.

    Maar jy mag maar en jy moet.

    Hoe anders? Wie anders “sal Hom du uit die skemer van ons woorde woorde woorde – Jan Franciscus van die kruis…” Sheila Cussons

    Hoop Israel in jou klagte, vertrou o volk wat treur sy guns verduur die nagte sy heil breek eindelik deur…

    Sieg heil?

Lewer kommentaar

Please log in using one of these methods to post your comment:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s