Nes in die “goeie” ou dae…?

Help my hierdie kultuurskuif verstaan, en wees met my tog maar geduldig want ek is nie moedswillig of krities nie, dog duidelik uit voeling met hoe die wind nou waai: toe ek in 2007 uit SA weg is, en beslis voor 1994, het predikante hulle nie openbaar uitgespreek oor die partypolitiek nie. Maar die week kry ek op sosiale media twee uitnodigings van kollegas om partypolitieke petisies te teken.
Moet my nie verkeerd verstaan nie: ek het werklik vrede met die sake waarom dit gaan in beide die vertoë. Al wat my bekommer is of dit die manier is waarop die Kerk en sy predikante sulke sake moet aanspreek. Ek gebruik met opset nie die woorde “mag aanspreek” nie, want ek het daarmee ook geen pyne nie dat dominees, nes ander mense, politieke oortuigings het. Inteendeel, ek glo ook dat predikante die moeilike verantwoordelikheid het om onreg aan te spreek, en dat om daarvan weg te skram, meer onaanvaarbaar sou wees as om aan die openbare debat deel te neem. Trouens alle gelowiges, en nie net ampsdraers (of te wel beroepschristene) nie, het die opdrag om wat ons glo prakties toe te pas.
feedbackEk dink dit het dalk makliker geword om kritiek te lewer op die doen en late van die owerheid? ʼn Volwasse demokrasie verwelkom immers vryheid van spraak. Maar dat Suid-Afrika se demokrasie al wasdom bereik het, daarvan moet ek nog oortuig word. Ons sal dit eers met sekerheid kan sê die dag as noemenswaardige magswisseling ordelik geskied. Intussen, so wil dit voorkom te oordeel aan die vrymoedigheid wat predikante het om van die owerheid te verskil, is daar ruimte vir protes.
Ek verwelkom dit. Ek is nie besorg oor of die owerheid haarself teen kritiek kan verdedig nie. Of die owerheid haar voor die waarheid kan verantwoord is dalk ʼn groter rede tot kommer.
Dog, my belang lê elders.
Vir predikante van die Kerk is openbare verset teen die owerheid nie noodwendig meer vervreemdend van die kerkvolk nie. Sedert Afrikaanses nie meer alleen regeer nie, is om protes aan te teken nie meer verraad nie, nie noodwendig eers meer dislojaal nie. Dit lyk nou meer na vereenselwiging. Daar was ʼn tyd toe die geringste kritiek, of selfs net die afwesigheid van steun, sou lei tot kortstondige agterdog oor waar jy staan, voor dit oorslaan in langtermyn suspisie van verlooptheid. In die goeie ou tradisie van Afrikanerdom – Boere en Broeders aan die een kant, hanskhaki’s, hensoppers, joiners en “boeties” van die onnoembare aan die ander – was jy of “vir ons” of “teen ons”. Gemeentes was onderling verskeurd, en predikante was versigtig.
Dit lyk vir my deesdae, hier van ver af, makliker? Ons kan skynbaar met oortuiging sê ons staan saam, ons dink eenders, ons het gemeenskaplike teenstanders. Nes in die goeie ou dae?
Ek wonder darem… Loop ons nie gevaar om dieselfde foute te maak nie? Praat ons nie alweer iemand onder ons dood nie? Is “reg” en “onreg”, of “reg” en “verkeerd” selfs, dan so voor die hand liggend dat dit vanselfsprekend raak waar ons almal staan? Is sulke ondeurdagte veronderstelling nie juis waarvan ons vrygekom het nie? Is ons weer so oortuig dat ons dit reghet dat afwykende stemme onder ons geen bestaansreg het nie, en nie in ag geneem hoef te word, erkenning gegee te word of ten minste net verdra hoef te word nie?
Ek het effens onrus hieroor: ʼn te gemaklike partydigheid, ʼn onnadenkende greep op waarheid wat met net een blik op die werklikheid rekening hou. Dit moet noodwendig uitloop op veroordeling. Ek mis daarin tugtiging wat met genade werk en hervorming in die oog het.
Ek dink as mens eenmaal ontdek het dat jy met soveel oortuiging verkeerd kon wees, jy dalk lugtiger moet wees om met groot stelligheid jou eie waarheid af te dwing. Of het ek dit verkeerd dat ons hierin dalk teruggryp na destyds se manier van doen: die spreekwoordelke “goeie ou dae”?  Dit was nie, en ek dink nie dit mag nie.

Advertisements

Lewer kommentaar

Please log in using one of these methods to post your comment:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s