Skoeters met toeters, en vlieg vir peanuts.

Om alleen te reis, skryf Fanie Olivier, het sy uitdagings. 

Ek reis dikwels.  Die bestemmings is later nie meer eksoties nie. Die een hotelkamer lyk nes die ander (behalwe die een in Manila, nou die dag, toe myne geen vensters gehad het nie).  Lughawens is almal eenders: oordadige bushaltes met bypassende pryse.

Goeie raat: moenie werkend reis nie; die blink vryf af.

Teerpaaie, het ek geleer, kry jy twee soorte van: met- en sonder slaggate. En die verkeer is verkeerd-om. Verkeer is ʼn sensuele ervaring: al jou sintuie word ingespan en nes nies en daai ander ding, vat dit jou geheelenal oor. Verkeerde verkeer is erger: kyk jy links-regs-links voor jy loop, is jy dalk net ʼn tree te laat vir die regses om te mis.

JeepneyAlmal het toeters.  ʼn Toeter is ʼn kortkop voor die briek in belangrikheid.  Jy gebruik hom voor jy gas gee of rem trap, links draai of regs. Jy toeter as jy links verbykom, en vir die wis en onwis ook sommer as jy regs wil om.  Kortom, in ʼn toektoek in Mumbai, ʼn Djiepnie in Manila en ʼn skoeter in Abidjan, is die toeter die ding wat die meeste oefening kry. Dis ʼn merkwaardig meerdoelige instrument waarvan ons in Suid-Afrika die gebruike onderskat. Jy gebruik hom vir al’s. Veral as die verkeerslig geel word en die ou voor jou onverklaarbaar dreig om te stop, en weer nes die lig groen raak, vir geval die slaapwandelaar hier voor sedert die rooi lig met ʼn blindheid geslaan is; mens weet nooit… Want `n siende blindheid is hier dalk gewens.  Hierdie verkeer vereis ʼn soort tussen-die-vingers-deur-loer-padblindheid, iets soos om sonder daai 3D-brille te gaan “Gravity” kyk. Ek moes `n hele paar keer vir die ruimteskroot koes.  Want sien jy té goed, sien jy te véél goed, en dan gaan jy nêrens kom nie, want jy gaan niewers heen nie.  Sien jy wat na jou toe aankom, kry jy nie daarvandaan weggegaan nie. Jy’s te bang om `n voet te versit.

Aanhou beweeg verg geraas maak.  Die toeter is hoe jy beleefd uitsaai dat as die ou in die ander kar sy lewe liefhet, moet hy om die dood nie in jou pad kom nie.  Baie beheersd en beskaafd dus, die getoeter: hier ry iemand vir wie die lewe waarde het – syne, indien nie joune nie…

Kollega vertel van ʼn besoek aan Marokko.  Neus-in-die-lug-Engelsman wat om die dood nie ʼn toeter sal gebruik nie.  Hy het dertig minute lank in Marrakesj stywe-bolip-Brits gebly, toe toeter hy soos die PB. “Dis bevrydend!” jubel hy van toe af wreedaardig agter die stuur.

In Amsterdam is dit klokkies.   Durf waag loop waar ʼn fietser wil verby… En is daar nêrens anders plek om te loop nie, is dit nou die tyd om te kies: of vir jou geloofsprong-Petrus-loop-op-die-See-van-Galilea-demonstrasie (die kanale is gelukkig nie so diep nie!) of pad toe met jou dikwels verbeelde “So you think you can dance” oudisie tussen die karre deur.    Maar vlug moet jy gou-gou, anders lol jy met jou verganklikheid. Die ‘Dam se fietsers is meer as die visse van Gennesaret en ongenaakbaarder as korporaals in pantserkarre.

tuk tukNet een ding is gevaarliker as om in Mumbai oor die straat te wil loop: en dis om agter in ʼn toektoek te sit. ʼn Toektoek is ʼn driewiel-gedroggie met ʼn Dopper Joris-seildakkie oor ʼn sitkamerbank en ʼn kêrel met goeie lewensversekering agter die stuur:  hy is van die lewe doodseker dat dit nie lank gaan hou nie, die dat hy daarom gou anderkant moet aankom.

Eenmaal met ʼn Boeing oor Amerika gevlieg toe die dak insak.  Die trolliedollie het dit sommer met daai lekker dik bruin kleefband – wat sy duidelik vir die doel byderhand gehou het – bo my kop kom vasplak.  Gerusstellend se haar poedinggesiggie: “Don’t worry doll, this always happens!” Toe loop en gooi (ja, gooi!) sy vir elkeen ʼn pakkie “peanuts” in die rye af. “It was, like, awesome!  The roof, like, it just came off, like.  I was like, how scary is that?” sê die giggelkind-tienermeisie in die ry agter myne minute later op haar selfoon.  Toe die Boeing aarde toe terugval, kom vra Poedinkie my:  “Would you mind holding it up, Doll?”  Ek het daai Boeing op my skouers in Nashville ingedra!

Advertisements

Lewer kommentaar

Please log in using one of these methods to post your comment:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s