Aan (en vir) ons almal…

Dit kan nie anders nie, ek moet ook hulde bring en “Geluk liewe maatjie” sing.

Ek onthou nog goed hoe Juffrou Heckroodt in die Merensky ons beïndruk het met die idee dat ons met die biblioteek se rekenaars kon toegang kry tot ander versamelings in verafgeleë instellings.  Ek het my verwonder aan hoe ek in Hatfield kon sit en lees aan artikels wat iewers elders in Pretoria se staatsbiblioteek geskryf staan.  (Deesdae skryf ek my blok hier in Southend on Sea, en Chris lees die ding daar doer in Nieu Zeeland – hallo Chris!).

Die UP-ervaring was die eerste embrio’s van wat later die World Wide Web sou word.  Ons het gou daarna die spinnerakkonstruksie as die “internet” leer ken.

Tim_Berners-Lee_2012Teen 1989, toe Sir Timothy John Berners-Lee die ding uitgedink het, was die skroewe en boute van die kuberruim klaar daar.  Hy gee dit ook nie anders voor nie.  Maar dis in sy kop dat dit vir die eerste keer bymekaargekom het.  Dit was in Maart 1989, presies 25 jaar gelede, so oud soos my jongstes.  Teen November van daardie jaar het hy met die eerste HyperText Transfer Protocol (HTTP) kommunikasie tussen rekenaars geslaag.  Die eerste webwerf was dié van CERN, die Europese Organisasie vir Atoomnavorsing, vir wie Berners-Lee gewerk het.  Die idee was, nes Me Heckroodt ons in Pretoria geleer het, om makliker toegang te verkry tot ander se navorsing.  Een en dieselfde, net eksponensieel meer.  En die res is, spreekwoordelik, geskiedenis.

ʼn Gebore Londener, is Berners-Lee in die openingskouspel van die 2012 Olimpiese Spele vereer.   Toe hy twiet: “This is for everyone”, verskyn sy woorde oombliklik op die stadion se 80 0000 sitplekliggies. Die internet is vir almal van ons, ʼn fenomeen wat sedert die ontwikkeling van taal seker die grootste impak maak op hoe mense met mekaar omgaan.  Ek kan nie meer daarsonder nie.

Soos elke spinnerak, en nes alles anders wat mense aanpak, het die web ook sy spinnekoppe.  Daar is sprake van regulering en sensuur, en van inbreuk op privaatheid en misdaad.  Brood en melk, fliek en vlugte, alles kan jy aanlyn koop.  Politiek (lente in Arabië), partytjies (op facebook), pornografie (die grootste enkele aanlynbedryf), pedofilie (jy moet glo net weet waar om te soek) – dis alles daar. Google kan jou alles leer van God, van kalkoen vir Kersfees gaarmaak en van bombou as jy iewers jou eie heilige oorlog wil gaan aanpak. En die beste ding sedert wortelkoek: Skype!  Dat ek my kinders kan sien as ons praat!  En dis nog maar die begin, so word beweer.

InternetJy kan my ook daar vind.  Ek het ʼn eie plekkie op die web, ʼn stukkie “grond” as’t ware, ʼn werf wat jy kan besoek.  Of dat ék ook daar is, van die kuberruim en sy ouboet, ons werklike wêreld, ʼn beter plek maak, is ek nie so seker nie.  Ek is geen bron van wysheid of waarborg van die waarheid nie.  Maar dis ʼn plek wat ek as my persoonlike ruimte inrig, ʼn balkon vanwaar ek groetend waai.  Dis ook ʼn werkplek waar ek sweet en verdien, bely en bedien.  My vertoonkas en winkelvenster, sê iemand vandag van LinkedIn. Met dié dat ek nou nog geen eiendom besit nie, is my nissie in die kuberruim nogal na aan my hart.

En dat ek kan kliek, benwens lees en skryf, daaroor is ek nogal bly.  Dit ís immers vir ons almal.  Dankie Sir Tim Berners-Lee!

Advertisements

Lewer kommentaar

Please log in using one of these methods to post your comment:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s