Vreemde fees

Kerk op Kersdag was vreemd.  Dit was my Sabbatsjaar:  die sewende Kersfees vandat ek weg is, en my eerste terug in die land van somerkersfees.  Die familie het in Gauteng saamgetrek vir die viering.

Die lekkerte van die Kersfees is deur die dominee bederf.

grunge fir forestOns is Kerk toe soos wat mens op Kersfees behoort te voel: oorlopens toe vol van die geseëndheid.  Ons loop op wolke van samesyn, nie van goed in geskenkpapier nie. Want dié jaar bly die boompie kaal, het ons besluit, net die kleintjies (en van hulle is daar, helaas, nog net vier oor) kwalifiseer.  Die sitkamergoed is die vorige dag al uitgedra om plek te maak vir swaar gedekte tafels en die 25 van ons wat honger gaan kom aansit.  Ons slaan ontbyt oor in afwagting van wat kom, dié dat ons met nugter (en grommende!) mage in die erediens beland.  Maar die dominee speel nie saam nie.

Die dominee is nie in ʼn bui vir bly wees nie. Dog, hy laat ons sing!  Ek moes vroeg al deur sy plan gesien het: dat die blye engellied waaraan ons eers so geesdriftig meedoen, in al skerper kontras sou staan met die kwesbare Christus in God se stukkende skepping.  Maar met die orrel, die Afrikaanse kersliedere, die Kerk, en omring te wees van my gunsteling mense – ons sit twee kerkbanke stampvol: ons ryg in want niemand sit vandag alleen nie – en die hartroerende  klank van hulle singende stemme in my ore, raak ek meegevoer.

Maar die dominee duld dit nie.  Hy gaan haal Hom in Jesaja.  Hy gaan soek die Christus in Sirië se oorlog, by die Filippyne se tifoon, by die dooie soldaat in Woolwich en by staatsgeweld en boeremoord.  By ʼn geskeurde kerk…  Weinig mooi woorde, min paaiende troos en opruiende vreugde, geen mooi engel-en-meisiekind of moeder-en-krip stories nie (behalwe die lae hou na die liberales oor die mite van die maagd), geen pleitende pa wat die herbergier se stal van hom afsmeek nie. Waar’s die herders en wyses wat hulle vergaap aan die hemelse vuurwerke en pad vat om te loop soek na die goddelike kind?  Waar’s die ekstatiese verwondering en die eerbiedige verslaenheid?  Net die liedere getuig daarvan.  Die dominee rep geen woord nie…

Nee, die dominee het dit oor haat wat die wêreld gebreek en van die lewe ʼn hel gemaak het. En van God wat besluit Hy kom hierheen. Met die gedempte uitstap oorweeg ons dit om polse op die teerblad af te skuur.  Sjoe, sê die familie,  Met Kérsfees? Tydsberekening?!

Om die vure – die vark en die hoender moes in die Webers gaar word, want die skaap is die oond vol – herinner iemand aan die vreemde vrede waarin ons feesvier.  Toe die sjampanjeproppe die Nuwejaar groet (vir ons kom als op Kersdag bymekaar), verwys iemand na hierdie stukkende plek waarin God Hom begewe het.  Wie weet wat wag? Die tafelgebed sê dankie God het ons hier en nou besoek: wat ons het, is net genade.  Die aand, toe dit stil word en ʼn sagte reën oor Roodepoort uitsif,  is dit nie net met vreugde nie, maar met ʼn vreemde vrede dat ons die nag en 2014 tegemoetgaan.

Ek kom uit ʼn groetende generasie.  Ek het talle Kersfeeste op my kerfstok.  Maar nie een van my preke het die familie so tot stilstand geruk nie. Nou kyk, ons steur ons aan Kersfees, ons vier verbete fees.  Ons doen vreugde met oorgawe.  En dié keer was geen uitsondering nie.  Maar die oggend se ongemaklike waarheid oor ons vervloekte werklikheid en die ding dat God toe tog gekom het, het ons klompie op nuwe maniere aangegryp.  Ons het hierdie Kersfees die genade wat God ons in Christus gee, gevier met ʼn beter wete van hoe nodig ons Hom het.

Ek het Jesaja weer kom lees.  En selfs my weergawe van dieselfde preek op ʼn plek afgelewer.  Maar, besef ek toe, dis nie meer Kersfees nie, die verwagting waarmee mens erediens toe kom, het aanbeweeg.  Die impak is verlore.  Kersdag was toe tog die regte tyd daarvoor.

Selde tevore het Kersfees so by ons bly spook.

Advertisements

Lewer kommentaar

Please log in using one of these methods to post your comment:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s