Onlangs

Letterlik: nie-lank-nie.  Nie te lank terug nie. Kort gelede dus.  Hoe lank is hierdie “kort”?  Dalk nie lank genoeg nie? 

ʼn Maand in die Vaderland, met Mandela se sopnat swanesang op my reisverslag, en ek is weer diep onder die indruk van hoe “onlangs” Apartheid die wêreld daar onder verfonkfaai het.  Alles is glo nou nog die “regstreekse gevolg” van 20 jaar gelede se agtergehaalde politiek.  Enigiets van Arbeidsonlus (Marikana) tot Zuma (sy Veilige Vesting in Nkandla) is eintlik aan Apartheid toe te skryf.  Nou kyk, Apartheid was nogal omvangryk, maar om dit meer as twintig jaar later steeds krediet te wil gee vir alles van A tot Z oor hoe die geskiedenis nou nog verloop, is dalk ʼn effens oordrewe aanprysing van die mislukte sosiale eksperiment.

Tog het ʼn mens altyd nut vir ʼn sondebok: jy ry hom!  Maar jy moet darem ook weet wanneer om op te hou om die perdjie op te saal, of die ruiter in swart gaan ontmasker word as die gemmerbroodmannetjie wat sy eie dood tegemoetry agter op daai vos se rug.

Maar so graag as wat ons die ou koeie wil begrawe sodat huidige moeilikheid voor ander se deur gelê kan word, bulk die bees steeds met elke (laaste?) asemteug.  Dat die Kerk vanjaar nog kon skeur oor gefaalde ideologie, is wrang ironie.   Maar dit spreek ook boekdele oor hoe moeilik dit is om aan te beweeg, en onthul hoedat nie net ander daarmee sukkel nie: ons spartel ook. Dis nog nie heeltemal verby nie…

Moenie dat ons die worsteling wat opstaan en aangaan verg, onderskat nie.  Dit vreet jou lyf van jou siel af.  Dit laat jou meer as bloot naak staan. Die gat waarin fatte val, is om van naak die nuutste gier te maak, en siedaar: die keiser het nuwe klere!  Maar die res van ons: word jy kaal betrap, gryp jy na strooihalms om jou toe te hou.

Nelson MandelaOm stof met strooi op te tooi, is tevergeefs, om mense te verheerlik, by voorbaat al gedoem; met politici gaan dit nie anders nie, net die kanse dat dit gaan werk, is heelwat skraler as die gemiddelde nul. Die besonderhede van ʼn politieke lewe en loopbaan wat opnuut die kollig vang, vertoon nie net heroïes nie.   Mense met achilles-hakskene is nie op Marvel-vlak nie.  Mandela is toe ook een van ons.  Trouens, dis dalk sy grootste prestasie, wil ek waag om te se: dat ons wat eens van rassisme verkla is, nou vryelik ons mensheid met Mandela deel.   ʼn Gebroke, sondige mensheid, maar tog mense, almal van ons.

Sy skuld word net te maklik goedgepraat: “ʼn onregmatige staat het sy regmatige verset tot misdaad verklaar.” Nelson Mandela word te gemaklik aangeprys deur diegene wat op terreur met oorloë reageer om geloofwaardig te bly.

Daar is goeie rede waarom Roomses  (normaalweg!) tyd laat verloop voor hulle afgestorwenes tot heiliges verklaar.  Te gou, en die sonde haal jou in.  Te onlangs, gans te kort gelede en nog heeltemal te vars in die geheue, is die skandes en skades wat ook maar net nog ʼn onvolmaakte Suid-Afrika opgelewer het.  Maar ons is haastig. Ons is nie met die langsame verloop van tyd gediend nie, en ons neem aanstoot aan “blote en gebroke menswees”.

Ons is net te goed. En tyd is net goed genoeg om te meet hoe lank onmiddellike bevrediging vat, en hoe kort van duur geheues kan wees.

Waar mense geen god meer ken nie, vervaardig ons ons eie. Ons verklaar bloot mense tot God.  Ons wag nie eers meer dat hulle doodgaan en nie meer ons verwagtinge kan teleurstel nie.  Rondom Yaohnanen, ʼn gehuggie op Vanuatu se suid-eiland, Tanna, word Prins  Philip, Hertog van Edinburgh, Koningin Elizabeth II se man, vir ʼn god aangesien en aanbid.

ʼn Madiba-kultus?  Dalk tog nie.  Nie as dit van sy eie naastes afhang nie.  Familie wat jou ses maande lank op- en afblaas terwyl hulle jou uitsuig, het nouliks reg selfs op verwantskap, wat dan nog nalatenskap.  Dog doen hulle ons die guns om uit te wys net hoe uitgelewer mense – selfs die gewaande heiliges onder ons – aan ander mense is.  Hy wat op bevel lewe geneem het, kon self nie sterf voor sy familie besluit het sy nut is uitgedien nie.  Die laaste ses maande was dalk meer immoreel as ʼn voorafgaande 27 jaar in `ʼn Apartheidsgevangenis.

Ons is in stortreën FNB stadion toe, op `ʼn gepakte bus wat vryheidsliedere neurie.  ʼn Dominee uit Nigerië, rye wit tande in ʼn swart pak, belowe hy kan my voorstel aan eerlike kollegas in Afrika, ek moet my e-pos stuur.  Ek sal.  Vandag gaan hy Afrika se moses vier.  By die kalbas aangekom, koop ek ook ʼn vlag, want daar is tog iets te vier aan die Here se gawe van ʼn sondige man wat ten spyte van tog ʼn verskil kon maak.

Een politikus wat daarby belang het, het verklaar die oorspronklike agent van Suid-Afrika se demokratisering is met Mandela graf toe.  Lees: stem nou vir my!  Begrawe, se hy eintlik, nie Apartheid nie, maar die wat hulle as redders voordoen.  Van nou af is dit ek!

Dis te gou om te beweer Apartheid is begrawe en dat in die plek daarvan gekom het ʼn nuwe gewilligheid om rekenskap te gee van eie verantwoordelikheid.

Te onlangs.  Te nuttig nog, die sondebok.  Dit gaan nog `ʼn rukkie vat, helaas.

Advertisements

Lewer kommentaar

Please log in using one of these methods to post your comment:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s