November is moeilik

Op géén ander tyd van die jaar is die kulturele verkil so tasbaar, en dalk so onhoudbaar, as in November nie.  Ons woon al sewe jaar hier, en dit word nie beter nie.

Daar’s `n trilogie gebeure kort na mekaar wat dit invryf.

Heidi Klum wys waarvoor sy die bangste is.
Heidi Klum wys waarvoor sy die bangste is.

Dit begin met Halloween.  Ek gaan dit geen gunste doen met `n Afrikaanse vertaling nie:  “alle-heiliges-nag” sê dit nie: dit laat jou dalk net verbeel daar steek iets meer in.  Die laaste dag van Oktober is die grootste koopseisoen naas Kersfees en Pase.  Van kos tot kostuums, boerpampoene tot gril-grimering, die ponde wat hulle daar inploeg, groei geil.  Die grootste supermarkte was die jaar liggies in die moeilikheid oor kostuums:  daar was reekse wat lyk op uniforms van sielsiekes in inrigtings.  Die “kranksinniges” het gekla, die BBC het gal afgegaan en die reuse moes kleinkoppie trek en ekskuus vra.  Maar darem eers nadat hulle by implikasie gesê het mal mense maak jou bang. Maar winste wat aan die malles verloor is, is darem weer opgemaak met goeie verkope aan duiwels en dergelike simbole van algemene boosheid.   Een supermodel wat hink op veertig het vrees by vroue ingeboesem deur grimeerkunstenaars te huur om haar te verouder.   Ouderdom is vreesaanjaend, vir mooi vroue, en vir my ook.

“Dis `n grap!  Dis regtig net vir die snaaksigheid!”, kry ek dit terug.  Ja, dit is: dis `n gekoggel met waarvoor ons bang is: met die baas van alle bangheid, ons mortaliteit.   Die dood en sy dienaars.  Die satan en sy trawante.  Die duiwel en sy  roetswart broers.  Maar hoekom is om draak te steek met die (immers magtelose!) mitologiese gediertes van die duisternis, die gedans op die graftes, die tong-in-die-kies blik op die onderwêreldse vir my te erg?   Dis tog altyd vir my prysenswaardig om te kan grappies maak te midde van tragedie?  Hoe is hierdie ding anders?

Want die bose setel in mense, nie in spoke en demone nie.  Boosheid is in die menslike natuur tuis, nes kranksinnigheid hom tuismaak in jou biologie. Hoekom, vra dit, is `n gespot met malheid dan grusaam, maar `n vleeslike opstanding van halfdooies `n grap?  Hierdie gelatenheid oor die bose en vergenoegdheid met die menslike doodloopstraat is vir my al `n treetjie te ver.  Die malse viering van ons donkerkant, verering van dood en die boosheid wat dood aanbring, die getart van die sluimerende ondier wat min aanmoediging verg, dis aanstootlik.  Met die viering van sonde, `n skaamtelose hand-om-die-blaas-stanery met die bose en omhelsing van dood  kan ek nie verlief neem nie.   Ek gaan ook rillers kyk wat my tussen my vingers deur laat loer, gee ek toe.  Ja, dit vertel ook die storie van diepgewortelde menslike kwaad.  Maar ek klop nie aan my bure se deur om hulle asvaal die dood met lekkergoed te laat afkoop nie.   As dit dan gaan daaroor om vreemd aan te trek en met enersdenkendes saam te trek, gaan doen dit.  Los my uit.

Dan kom 5 November.  Ek het met vuurwerke min moeilikheid,  behalwe dat ek my kat jammer kry.  Ek is een jaar Blackheath toe vir die skouspel, en dit was `n belewenis.   Maar “Remember, remember the 5th of November” verwys na die vervolging van Rooms Katolieke.  Ja, Guy Falkes was een. Godsdienstige onverdraagsaamheid en vervolging weens geloof is geen rede vir vreugdevure aansteek nie.

memorial-poppies-at-the-cenotaphEn dan die 11de.  En dis die een wat my dalk die meeste ontstel, oor ek ook eers op sleeptou was.  By Tower of London, vlak voor Trinity House en langs die moltreinstasie is die gedenktuin vir seemanne uit die handelsvloot wat in die twee Wereldoorloë gesneuwel het.   Op die Sondag voor die 11de is daar erediens en kranslegging.  Nie net daar nie, dwarsoor die land – trouens iemand sit nog elke jaar kranse aan die voet van die gevalle Boer en triomferende Brit, `n beeld wat staan aan die Mall vlak langs  Trafalgar Square.   Dis net dat ek een jaar daar, by Tower Hill, aan die verrigtinge deelgeneem het.  Dis `n riller van `n heeltemal ander aard.  As die land, die hele land, om elfuur tot stilstand kom – mense gaan staan botstil in die straat, verkeersligte word almal rooi, radiostasies staak uitsending – en `n doodse stilte daal op die land neer vir `n volle twee minute, rys jou nekhare en jy’t hoendervel.   Die elfde uur van die elfde dag van die elfde maand… – net-net betyds dus, amper te laat – die oomblik toe die Groot Oorlog, die een wat die laaste van alle oorloë moes gewees het, in skietstilstand geëindig het.  Nooit, op geen enkele oomblik van die jaar, is die volk dit so eens soos in daai twee minute nie: maar nie in eenparige ooreenstemming dat oorloë moet ophou nie, maar, helaas, om die slagoffers van oorloë tot helde en heiliges te verhef: The Glorious Dead.

Dis aangrypend, het ek eers gedink, hoe diep ingeprent in die Britse psige die Wêreldoorloë is.  Ook eerbaar dat slagoffers onthou word.

Maar dit slaan my dronk hoe omvangryk die eerste elf dae van November aan oorlogsherinnering toegewy word:  van ontbyttelevisie tot hoofberigte oor nog `n nuwe gedenknaald wat opgerig is (soos die een in Green  Park),  van die “Military Wives” se nuwe “Christmas Number One” tot `n vlagparade by Sondag se erediens in Southend, die jaarlikse tranetrekker-konsert in die Royal Albert Hall met die koningin in die Royal Box. En dan die koningin se kranslegging by die senotaaf in Whitehall, statig in grafswart.

Geen probleem daarmee nie, het ek gedink.  Roerend, selfs.  In Durban, voor die stadsaal, staan ook `n gedenknaald wat lui: “Lest we forget” – om te keer dat ons vergeet.  Moenie dat ons ooit vergeet nie!

Maar dit gaan om veel meer as net om te vergeet om te vergeet.  Hier dra almal `n rooi papawertjie: jy durf nie nié een dra nie!  Koerante het die jaar blaaie toegewy aan “to poppie or not to poppie, that is the question.”  Die uitkoms: om papawerloos te loop is gelykstaande aan hoogverraad.  Dis godskreiend, heiligskennis.   `n TV-nuusleser (élke mens wat op televisie verskyn dra een, of jy nou die gasheer of `n gas is) het besluit sy gaan nie aan een liefdadigheidsaak meer blootstelling gee as aan ander nie, en wil nie die papawertjie aansteek nie.  Foeitog.  Ek het haar lank laas die nuus gesien lees en sy’t haar twitter en facebook blaaie moes prysgee oor die openbare vervloeking,  onbeteuelde woede en dreigemente.  Verlede jaar wou een van die ou oorlogsvyand se voetbalspanne nie teen `n Engelse span wat papawertjies dra op die veld draf nie.  “Dis tog nie politiek nie,” was die verweer, “hulle verstaan nie:  dis `n saak van national pride.” Die papawers is gedra.  Raai hoeveel van die opponente se ondersteuners het dit daai dag op die pawiljoene gewaag?

Nee, dink ek, dit gaan verder as trots.  Selfs al verder as nasionalisme (shock, horror!  Die Britte het so baie broers dood aan nasionalisme, die papawerkranse lê al die hele Westminster vol – dié burg het nou die dag besluit: geen meer nuwe gedenktekens in Westminster nie, dankie!).  Nee, dis nie (net) nasionalisme nie.

Hierdie is `n soort aanbidding van die Glorious Dead.  Om elfuur op die elfde voltrek daar `n elf dae lange erediens met vaste liturgie, en al wat `n Brit is staan op straat en bid tot  oorlogslagoffers, en bewaar jou siel as jy jou nie volledig vereenselwig nie.  En moet dit nie onderskat nie, dis dodelike erns dié.  Dis bloedstollend vreesaanjaend, hierdie krysgslus, hierdie ophemeling van te sterf vir watter misplaaste krygtog die regering ookal optower om op jag te gaan na terroriste, diktators, oliebore en goudvelde en ander lofwaardige sake in ander mense se lande.  Kruistogte, elkeen van hulle, natuurlik, alles ter wille van die Britse waardes. Geen soldaat se dood is tevergeefs nie.  Elke jaar, jaar na jaar, onthou hulle om nie te vergeet nie:  Dulce et decorum est, pro patria mori.  Lees:  kom laat ons weer `n slag oorlog maak.  Dis goed.

(Vraag aan Westminster:  sou om minder oorlog te maak dalk die soektog na staanplek vir nog  ‘n gedenknaald in Westminster kon oplos?)

Ons dominee is `n Asiër.  Hy probeer hard inpas.  “Siestog,” sê  ‘n gemeentelid op hierdie jaar se Armistace Day erediens in ons kerk, “hy’s nie Engels nie, en hy kry maar swaar met dié gebruik in ons kultuur.”  Ek hoor hom dwarsdeur die lang lyste gesneuweldes wat voorgelees word, telkens sê: “Onthou dat Christus ook gesterf het.”  Ek sou die “ook” daar wou uithaal, maar dis seker die beste wat die stomme man kon doen om die burgerlike godsdiens te laat lyk op aanbidding van God, sonder om self vir die bose aangesien te word en oor hoogverraad verbrand te word.  Die duiwel is inderdaad los. (Grappie!)

Advertisements

Lewer kommentaar

Please log in using one of these methods to post your comment:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s