Koueoorlog

Ses jaar.  Ses noordelike mid-somerdae gelede. Dog, dit was bitter koud daai eerste dag hier, in Junie. Die bos rooi malvas in die voortuin was die enigste beduidenis van warmte, dit en die rooibont tapyt op die trap.

Ons het van vasteland verruil oor roeping en oortuiging, en kon ses jaar daarmee volhou. Die koue het ons bekruip.  Die kilheid het eindelik die oorhand gekry.  Die magspel van die politiek, selfs en dalk veral van die kerkpolitiek, ken geen genade nie.

Ons kom verwond tot verhaal.

BerlinermauerDie skeurings loop nie meer met die ou vertroude paaie langs nie, het ek geleer.  Met verdraagsaamheid vier ons nou andersheid.  Al volg ons nie, vervolg ons ook nie meer nie.  Vrede daarmee het ons by verre nog nie.  Verskeidenheid sit nog nie gemaklik nie. Maar noudat voorlopigheid geopenbaar is, vermy ons die sekerheid van brandstapels en hellevuur.  Ons maak nie meer die wêreld vir mekaar so warm nie;  koue werk beter.

Die kerk se koueoorlog werk met uitsluiting. Kleinering is die swaargeweervuur.

Ons sê mekaar die stryd aan om meer boude op kerkbanke, hooggeagtes op die wykslys, geld in die dankofferboek, invloed in die gemeenskap, aanspraak op gesag, mag oor mense…  Die saak waarom ons stry, is nie verlossing nie, maar om mekaar die loef af te steek, om die ander altyd net ʼn kort kop voor te wees.  Sukses steek in statistiek en “celebrity”.

Die strategie is klassieke koueoorlog: soms ʼn woordestryd, dikwels dawerende swygsaamheid, altyd minagting; die taktiek: sekuur, foutloos ordentlik.  Minimum geweld. (Ons is tog so trots op ons selfbeheersing!) Die venyn ontbloot die erns van die stryd om te presteer en uit te styg.  Aansien is alles.

Die “entrepreneurs-model vir kerkwees”, noem die laaste loopgraaf van die Christelike geloof in die vervalle Weste dit: kapitalisme vir die kerk!  ʼn Kille, berekende kompetisie.  ʼn Gestadigde evolusie.  (Die ironie! In daai soort evolusie glo selfs die “Bible Belt”!) ʼn Ysige oorlog met sagkens werkende chemiese wapentuig eerder as bomme wat witwarm ontplof en onmiddellik verwoesting saai.

Dis maar koud hier.  Maar my malvas blom steeds: geharde blommetjies, malvas.

Ek wonder hoe warm die geharde harte van Hervormdes nog kan klop, met die Vergadering voor die deur. Ek bid hiervandaan vir malvas in die kerktuin en rooibont pastoriematte. Want ons weet hoe koud is die windjie en skraal…

Advertisements

One thought on “Koueoorlog

  1. Die stilte en eensaamheid het ons na ons penne (sleutelborde) laat gryp en verstommend genoeg het ons verslaaf geraak aan die koue, die malvas en die bont tapyte. Want onse Here het hier in die bontheid vir ons heppy gemaak.

Lewer kommentaar

Please log in using one of these methods to post your comment:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s