Hoe ver leun jy agteroor?

Twee dominees kla op facebook dat mense hulle, en die kerk, net wil ken as daar sakramente en seremonies verwag word: doop en trou.  Hulle het reg.  Ek sou dood by die drie-eenheid kon voeg, dog met begrafnisse het ek meer egtheid beleef as met die ander twee.

Nou wag jy vir die “maar…”  En ek moet eerlik wees, ek het tot ietwat ander insigte gekom. O, hulle het dit beslis reg, dis net dat ek my deesdae minder daaroor laat omkrap as laat uitdaag.

Dr. Gerrit Velhuysen, Hervormde predikant en eertydse koerantredakteur, het eendag vir my gesê: “Eers na my aankoms by Die Transvaler het ek besef hoe min mense hulle nog aan die kerk steur.” En vandat ek effense afstand van die Kerk kon kry, moet ek teensinnig saamstem.

Die volk gaan dalk te gronde weens hulle gebrek aan kennis van God, maar het daar ook weing erg aan of kommer oor.  Iewers in die agterkop leef steeds die bygelofie dat jy met sakramente regstreeks met God te doen kry.  So nie, is die swier van `n kerktroue `n begeerlike ding, bloot oor die statigheid daarvan.   En natuurlik, daag die dood op, is jy effens in die veleentheid oor `n gepaste afskeid.

The_Garden_of_Earthly_Delights_by_Bosch_High_Resolution (1)
Die Tuin van Aardse Genietinge, Hieronymus Bosch.
http://en.wikipedia.org/wiki/The_Garden_of_Earthly_Delights

So geregverdigd as wat die twee leraars se frustrasie dus is, is dit wat hulle grief juis die rare geleenthede waarop kerk en wêreld nog met mekaar te doen kry.  Dis hier waar die versoeking groot word om die geykte te sê:  dat doop, dood en trou die beste geleentheid bied vir sendend preek. Ek gaan hiervan wegskram, in die gees van dominee Peet van den Berg se eerlike antwoord op die tameletjie van: “hoe nou gemaak?”, wanneer ons en die wêreld haaks is.  Ons maak drie foute, skryf hy op sy blok, In Sein:

1. Om te aanvaar dat mense dink. Hulle is oor min dinge net rasioneel.

2. Om aan te neem dat mense graag wil verander.  Hulle wil nie.

3. Om te aanvaar dat, as mense dinge verstaan nes jy, hulle ook sal maak soos jy. Hulle sal nie.

Nou ja, hoe vermy mens die drie foute? “Ek weet nie,” skryf Peet.  “Ek maak hulle nog daagliks.”  Hy bied `n “oplossing” aan, wat dalk meer lyk op troos vir gewisse mislukking, eerder as uitkoms.

“Miskien lê die oplossing in minder dink van ons eie vermoëns – soos in Paulus het geplant, Apollos het natgemaak, maar God het laat groei?”

Hier sit iets in.  As ons aanneem dat ander selde rasioneel is, of wil verander, of sal maak soos ons maak selfs gegewe eenderse verstaan van `n ding, kan ons net so seker wees ons is self ook nie juis daartoe geneig nie.  Ons het moontlik so min begrip vir die wêreld as die wêreld vir ons. Met een verskil: ons besef dit, hulle nie. Hulle gee nie juis om nie, maar hulle is ons roeping.

Hier moet ek `n goeie vriend byhaal.  Willem waarsku my altyd, en met goeie rede, dat ek te begrypend neig te wees vir mense, dalk soms ten koste van God?

Hoe ver leun mens agteroor?  Hoe akkommoderend mag ek wees? Want ja, ek wil.  Trouens, ek dink ek móét!

Ek verstaan die Hervormde spiritualiteit as doodluiterse nie-vitterigheid, tromp-op eerlikheid,  genuanseerde (dog dalk ietwat akademiese) begrip wat wegskram van stelligheid, menslikheid wat soms effens mank gaan aan deernis en ruimhartigheid, met slegte gevolg vir snoesige gemeenskap. Selfs stoere Hervormdes sit daar nie altyd gemaklik in nie.

Dit is moontlik dat, om mense tuis te maak, ek vir God verdryf.  Maar ek vermoed juis hierdie tweestryd is tuiskoms in Hervormde geestelikheid.  Juis daarom is ek nog hier: om aan mense wat na God in kerk en sakramente soek, voet in die deur te gee.

Nou ja, wel wetende dat ek in gesprek oor tuiskoms in Hervormde geestelikheid, juis hiermee doodsonde pleeg…   

Paul Vallely, outeur van `n nuwe biografie oor pous Fransiskus, skryf: “[H]e was always impatient with those who put adherence to rules before human charity.”  En, skryf Vallely, dit blyk juis uit sy hantering van die doop.  Toe nog aartsbiskop van Buenos Aires, het hierdie pous vel geoordeel oor priesters wat weier om ongehude moeders se babas te doop. Sulke priesters wat mense met die doop afpers, is skynheilig en kerkisties (“hypocritical clericalists”).

En met dié is genade wat oor reëls seevier die week hier in die nuus. Op die vlug van Brasilië af terug (terloops, hy het sommer `n retoerkaartjie op `n geskeduleerde vlug gekoop) het hy ingestem tot `n mediakonferensie en vir 80 minute gesels. Met die gevolg dat Le Monde (Parys), The Independent (Londen), Der Standard (Wene) en Die Zeit (Hamburg) onder die koerante is waarin genade die week nuus gemaak het.

Nou nie dat ek wil voorgee dat `n onverskillige gedopery altyd die soort blootstelling sal kry nie, of sal keer dat ons in elk geval oor ander goed uitgekryt word nie.  Ek vra net: wat sê hoe ons met die doop omgaan van hoe ons met genade werk?

Om die bediening van die heilige doop, of te wel die weerhouding daarvan, “kerkisme” te noem, is venynig.  Die doop is immers intree-rite tot die kerk.  Genade-sonder-verdienste ja, dog onlosmaaklik verbonde aan die kerk, en daarom ook beperk tot die kerk…  En dadelik kriewel my kopvel. Regtig?  “Beperk tot…”  Kan dit?  Is die doop die kerk se besit? Is die doop genademiddel wat deur die kerk uitgedeel of geweier kan word? Is die kerk nie die eiendom van Christus nie, en haar sakramente nie die genadegawes van God af nie, geskenke van God af om weer vryelik – genadiglik – gedeel en uitgedeel te word nie?  Aan die kerk toevertrou, maar aan die wêreld gegee, en vir die wêreld bedoeld, dan nie?

Jammer kollegas, ek weet ek het die dam onder die eend uitgeruk: julle het nie bedoel om met die doop af te pers nie.  Julle het bloot ongemak oor die veragting wat ons te beurt val as ons vra na afhanklikheid van God, en opregte dankbaarheid as dit by die sakramente kom.  In teenstelling word aan ons eise gestel om hier en nou en so gedoop te word.  Maar dit het my tog laat dink wie s’n die sakrament nou eintlik is, en wie dit dan het om te kan weggee, en helaas, of ons ons daaroor moet laat ontstel.

Miskien lê die oplossing (om met Peet se kalwers te ploeg en my `n veranderinkie aan te matig)  in minder dink van ons eie vermoëns, en van onsself – soos in Paulus het geplant, Apollos het natgemaak.  Maar net God gee groei.

En daarom dalk, oor God die wêreld liefhet, het Hy aan die wêreld Christus gegee.  Ons, die kerk, Christus se liggaam en al sy genadegawes, is vir die wêreld hier.  Die doop ook. Ons besit God nie.

Ek wonder of die doop nie soms soos brood-op-die-water-werp kan wees nie? Uit God se hoek bekyk, was Christus dit: Lewende Brood op die water.

Wie weet, dalk kry jy – die kerk – dit eendag terug?

En toe skryf iemand anders die week uit Afrika om te vra of ek nie dalk `n dominee ken wat hom in die see sal doop nie?

Nee, Peet, ek weet ook nie.

Advertisements

Lewer kommentaar

Please log in using one of these methods to post your comment:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s