Koos

Koos glo onwrikbaar in die lewe wat sterker is as die dood.  En uit ons huldeblyke is dit ook duidelik hy leef voort.  Verlede tyd is (nog) nie gepas nie.

Ons het soveel stories oor hom te vertel, en nog meer stories van ons eie oor wat ons van hom leer en erf.  Die kuns is nie om iéts te sê nie, maar om al’s gesê te kry

Koos raak ons almal. Hy laat ons vir lewe luskry.  Syne is `n rare getuienis van hoe die lewe is. Gedeelde lewe, met deernis vir mekaar, is die lewe soos Koos dit sien.  Veelseggend dat dit ook is  hoe God die lewe bedoel. Koos wys ons hoe God en genot in dieselfde lewe tuiskom.

KoosMet Hantie aan sy sy is hulle `n “devastating team”.

Bernard en Hanlie is sy hart se punt.

Junine en Willem is die antwoord op sy gebede.

Sy lewe gaan met sy kleinkinders in vervulling.

Sy formidabele familie, die Kruger clan, is sy vaste grond.

God, geloof en gemeenskap dryf hom.

Vriende is vir speel en kuier.

“Werk en Oorwin” of “Lig en Leiding”, die onderwys is sy roeping.

Van leerders maak hy mense wat self geskiedenis skryf.

Sy Saterdae behoort aan die White Knights, die Springbokke en die Sharks.

“Ons vir jou, Suid-Afrika” en “Nkosi sikelel iAfrica” is vir hom een en dieselfde.

Maar daar is net een Afrikaans.

Die kunste kry hom op sy voete, vir applous en vir saam dans.

En hierdie man hou vakansie net soos wat hy sy werk doen.

Hy gebeur met jou, Koos Kruger.  Hy leef en het lief met oorgawe.  Net dit.  Hy voer nie weermagte in oorloë aan nie, hy lei nie politieke partye nie, hy is nie ryk nie, waffers geleerd, of `n ster nie.  In die klein dingetjies blink hy uit.  Die klein dingetjies wat toe die eintlike dinge is: eggenoot, geesgenoot, pa, oupa, ouderling, broer, maat, meneer, mentor, burger, ondersteuner, impresario, die lys kan lank word…  “Stick around and I’ll make you famous!”  Wel, hy is.

Rus sag, ons Koos. Die liefde van God, genade van Christus en bystand van die Gees vir jou, en vir ons wat jou liefhet.

En: dankie!

Advertisements

One thought on “Koos

  1. Dankie vir die huldeblyk Hennie. Jy het reg, ‘n mens praat soms te makilik, maar partykeer wens jy jy het gepraat toe die geleentheid daar was.

    Ek was in Koos Kruger se geskiedenis klasse van 1982-1986 in Port Natal. Hy was vir my ‘n inspirasie, ‘n ligpunt in elke dag se akademiese drukgang.Hy het my die geleentheid gegee om te leer……maar regtig te leer.
    Sy geesdrif, sy vertellinge, sy passie, was aansteeklik en dit het ‘n onuitwisbare indruk gemaak op ‘n vyftienjarige tiener.

    Vandag is ek ‘n direkteur in ‘n internasionale maatskappy, ek het my b.graad in politieke wetenskap geloop en sopas my meestersgraad voltooi in internasionale besigheid bestuur, en dit het alles begin by die geloof, die honger vir kennis en die strewe om die wereld beter te verstaan wat Koos Kruger in my wakker gemaak het.

    Op die verhoog het ek deelgeneem aan oom Koos en tannie Hantie se jaarlikse Revue produksies by Port Natal. Dit is daar waar ek my vrese oorkom het, my vriende gemaak het en mens geword het. Daar is geen manier wat ek ooit daarvoor kan dankie se nie, maar ek het altyd gedink ek sal eendag die geleentheid he om dit vir hom te se, maar ek was verkeerd…ek het te lank gewag.

    Meneer, ek gaan jou mis.

    Groete

    John Knox

Lewer kommentaar

Please log in using one of these methods to post your comment:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s