Simmetrie

Daar was nooit `n stormloop stadsaal toe nie.  Al het die drie Afrikaanse susterskerke elke Geloftedag daar saam erediens gehou, was daar selde `n skare.

Slag van Bloedrivier deur WH Coetzer
Slag van Bloedrivier deur WH Coetzer

Die stadsaal is pragtig: Viktoriaans, met `n enorme kerkorrel.  Ons dominees het afgewissel, en iewers vandaan is `n bekende Afikaner ingevoer vir die toespraak.  Iemand uit die Kultuurraad sou voorsit. En soms was daar `n tablo: trekkers met mausers, kinders met dolosse en tannies met kappies terwyl `n voorleser die geskiedenis vertel; veral die Natal-stories: Retief, Kranskop, Bloedrivier. Die burgemeester was ook een maal daar.  Die Gelofte is aangehoor en daar’s  afgesluit met Die Stem

Dit was `n emosionele viering van uitkoms uit stryd, en stryd was daar altyd.  Dit was vir baie ook ongekompliseerd hoopvol en triomfantelik, synde tasbare getuienis van goddelike ingrype om die status quo te vestig.  Wie kan dan teen ons wees?  Of liewer: wie kan dan teen ons wén?  (Natuurlik was teen die tagtigs die verliese van ons soewereiniteit na die Tweede Vryheidsoorlog so goed as vergete, of ten minste darem oorskadu deur drie dekades van nasionalisme en twintig jaar sonder die Engelse vrou op ons seëls en haar lofgesange in ons flieks.)  `n Verwikkeldheid, sien, van geloof en oortuiging, van ideologie en religie, amper probleemloos getroud.

En tog was die stadsaal-ding nooit gewild nie.  Toe die kerkraad die dag besluit ons gaan nie meer soontoe nie, was dit nie oor ons `n kopskuif gemaak het nie, maar oor te min van die gemeente die trek stad toe wou maak.  Nee, daar moes van ons eie kansel af gepreek word sodat ons eie mense gemakliker die sabbatsplig kon nakom. Dit was immers in die teer-en-veer era, toe professor Van Jaarsveld nog deurgeloop het oor hoe hy die geskiedenis gesien het.

Toe die Nuwe Suid-Afrika sy gedenkdae aan `n nuwe reënboognasie uitdeel, het 16 Desember oorleef waar Van Riebeeck en Kruger die stryd gewonne moes gee. `n Nuwe naam: `n dag vir versoening, dog eintlik maar `n soenoffer om herhaalde herbegrafnis van ou, maar heilige koeie te regverdig.  Hulle kon dit ook maar gelos het, begin jy vermoed as jy lees hoe Afrikaanses die dag al hoe meer ignoreer of verheidens tot `n teïstiese afgodery. Dié wat dit wél nog vier, neig om te vergeet hoe problematies daai godsdiens-en-ideologie hand-om-die-blaas-stanery kan wees. Dié wat daarop die rúg draai, doen dit sonder om eers hervorming te oorweeg, asof hulle die hele ou spul oorgee aan die verderf.

Dis jammer. Dis jammer dat ons Geloftedag vergéét, én dat ons Geloftedag vergóddelik.  Of ons dominees nou daarvan wegskram en of ons daar die vure gaan stook, ons is ewe skuldig: as iemand van `n fees af wegloop sonder dat die evangelie gehoor is, is dit ons wat gefaal het.

Om die Geloftefees-kansels te gebruik om nasionalisme te dien, is afgodery.  Daaroor sê ek niks meer nie.  Prediking is verkondiging van die Drie-Enige God.

Verskonings vir handewas aan die geloftevieringe is legio, maar nie één regverdig dit nie.  Weiering om te preek oor jy nie die volksgodsdiens dien nie, is om te versuim om die evangelie te laat hoor.  Die evangelie moet juis in `n nuwe omgewing gondvat, en Afrikaanses ly gebrek aan kennis van presies hoe, oor ons dawerende stilswye.

Daar is `n ding wat ek nou moet bely, want jy gaan stry dis makliker gesê as gedaan en dink ek weet dit nie.  Jaareind is `n moeilike tyd vir dominees, met `n reeks eredienste wat elkeen meer aandag as die gewone verg. November bring die katkisante se belydenisaflegging, nagmaal en dan kerssangdiens voor die skoolvakansie inskop en die kinders en hulle ouers uit die erediens verdwyn.  Advent is spesiaal dog die tekste min of oorbekend, kersfees soms `n ekstra middel-van-die-week-preek, en dan kom nuwejaar.  En intussen val mense se lewens soos kaartehuise inmekaar en die buurgemeente se dominee is met verlof. Bowendien is dit warm, die familie het by die see kom kuier en kla hulle sien jou nie.  Was dit net hieroor, of was dit ook weens die dag se aard, dat `n geloftepreek my altyd in barensnood gehad het, en met vrees en bewing afgelewer is?  Ek sou wát wou gee om dit te vermy!

Bowendien, hoe kry jy oorwinning in Christus gepreek as die gemeente kom vreugde soek het in die goeie nuus dat die volk die oorlog gewen het? Hoe vertel jy hulle op die dag dat die bloed in die rivier húlle s’n kon gewees het, dat die bloed aan die kruis hulle s’n móés gewees het? En hoe vermaan jy hulle juis nou dat om te sing “handhaaf en hou” – “dit is die Here se tempel, dit is die Here se tempel, dit is die Here se tempel,” – nie kan beteken dat die status quo vir ewig sal hou nie?  Die tempel het nie.  Sou die Geloftekerk kon? Of die Voortrekkermonument?  Dalk is selfs Afrikaners nie vir ewig nie.

Kortom, om dit op Geloftedag op die kansel te waag is òf afgodsdiens òf hoogverraad.

God self maak dit moontlik, hoewel nie veel makliker nie.  Met simmetrie: ons triomfantelike somer het `n smartlike winter.  Ons 16 Desember het `n 16 Junie.  Ons Dingaan het `n Hector Pieterson. Aan die een kant: ons segetog teen die Zoeloe impi; aan die ander: ons oorwinning oor kinders wat nie Afrikaans wou praat nie. Ons Slag van Bloedrivier het `n Slagting van Soweto en die Struggle geword.

Hector Pieterson sterf op 16 Junie 1976
Hector Pieterson sterf op 16 Junie 1976

Twintig jaar later en ons het nou nog nie daarmee vrede nie.  Òf ons vervloek die volk, òf ons vergeet ons verlede het, soos elke saak, twee kante.  En nie een van die twee doen aan God gestand nie.  As God jou god is, as jy glo in die God wat sy Gees stuur om jou gebede te antwoord die dag as jy bang is die duisternis gaan jou verswelg, glo jy in een en dieselfde God wat jou sonde meedoënloos oopvlek en in Christus mens word om jou straf te vat.

As ons ooit gedink het die Gelofte gaan ons God se oordeel oor sonde laat vryspring, was ons god iemand anders. Israel het dit met bittere stryd geleer.  Hoekom nie ook ons, met die Struggle en sy nasleep nie?

Daar’s goeie rede om op 16 Desember in Afrikaans te gaan preek.  En dalk op 16 Junie ook.  Want een en dieselfde God hou steeds wag oor ons, oor volkere en nasies. Daar is geen ander god nie, maar daar is nie net ons nie.

Dáár sit seker ook met goeie rede simmetrie in: daar’s `n tyd en `n plek vir stilswye, én vir magtige dreuning.  Maar oor die evangelie swyg jy nie.  Want die klippe sal die storie vertel as jy stilbly.  Dis beter as ons die ding uitpraat.

Advertisements

Lewer kommentaar

Please log in using one of these methods to post your comment:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s