Vorsprung durch technik

Oupa ry met sy ou Ford, ahoee… Onthou jy nog dié liedjie?

Nee, my Oupa s’n was `n Audi.  Eers `n gele en later `n roomkleur kar.  Die Audi was soos sy pak klere: uitsluitlik vir Sondag gebruik.  In die week het hy op `n bromponie hospitaal toe gery. Hy was `n elektrisiën en het vir Provinsie gewerk om die krag in hulle hospitale aan die gang te hou. `n Kamikaze op straat!

Hy lyk nes `n regte lord, ahoee…

Dalk tóg, noudat ek daaraan dink: swart pak, strikdas.  Langs hom sit Ouma, hoed op, áltyd hoed op, en soms handskoene ook, as die winter onder twintig daal.  Agter:  Siena, my tannie, en nefie Johannes en niggie Martie, want Danie werk skof.

Audi Logo 1Nou kyk, teen die tyd dat die stomme Siena by die kerk aangekom het, het sy al haar kwota van skuldbelydenis, genadeverkondiging én versoening agter die blad gehad. Trouens sy was by dissipelskap ook al verby. Want van die huis af al praat sy met die verkeer; beduie sy vir die omringende motors “Skies tog!”, vra sy hulle verdraagsaamheid, pleit sy om versoening wat neerkom op: “Laat die ou man tog maar begaan, en maak in hemelsnaam net plek!”, en wys sy: “Ons gaan kerk toe!”, asof dit sal help versag dat die tekentaal  wat Oupa van agter die stuurwiel praat, die duiwel `n heilsame blos op die wange gee. Dis dalk daai drie beangste gesiggies uit die agtersitplek van die bokspringende Audi wat die woede afgeweer en meelewing geïnspireer het.  Dalk het hulle die ander karre ook aan die bid gesit?  Die meeste ouens het maar bes gegee terwyl Oupa vloekend die Audi kerk toe ry soos `n cowboy `n kalf. Vorsprung durch technik!

Dog was daar weinig letsels op die Audi te sien van die weeklikse pelgrimsreis Bluff toe. Effektiewe openbare betrekkinge, sou ek van Siena sê.  Siena kon nie bestuur of padbou nie, maar sy het vir die Audi `n pad oopgevee net soos wat Moses die prop uit die Rooi See getrek het. Sy moes haar lyf in die ding sit, want bekdryf kon sy nie. Jy sou ook nie. Basies durf waag jy nie daar van agter af `n geluid maak nie, want elke gilletjie maak die Audi net vinniger. Want Oupa kon bestuur, sien.  Dis die ander ouens wat so sukkel.

Oupa het opgewek by die kerk opgedaag.  Ouma was effens vieserig oor die ouman nou weer so padlangs gepraat het, sommer so sonder ontsag vir die sabbat. Maar andersins was sy doodkalm, want sy’t net een oog gehad en was meestal salig onbewus van die noue ontkomings en my tante se detente met die bure. Johan was so styfgespan soos `n snaar want hy hou van bewéég, en vandag gaan hy nie vir `n uur in die kerkbank stilsit nie.  Martie is bleek en naar, en Siena `n bewende wrak.

Erediens het `n kalmerende uitwerking en dan is daar nog die koek en koffie en die familie vat die pad huis toe met nuwe moed.  En vir `n rukkie gaan dit goed: Siena neurie `n psalm, want dalk help dit.  Tot die Helse Engel op die Harley hom bloedig vererg en op die Audi afstuur om `n woordjie te kom wissel.  Hy sien vir Siena, kyk vir Oupa, skud sy kop en sluk sy woorde. Hy kyk met geesvervulde selfbeheersing voor hom uit want die lig is nog rooi.  Dis dan dat Ouma die venster stadig afdraai:  “Seun, het jy nie geld vir `n haarsny nie?”

Advertisements

2 thoughts on “Vorsprung durch technik

  1. Kostelik Broer – kostelik – ek kan hom agter daai stuur sien! Ek wonder net – is jy nie dalk omgeruil by die hospitaal nie! LOL. Hierdie skrywes van jou kan enige dag kers vashou met Dana of Nataniel! Jy moet aanhou en dan ‘n bundel publiseer!

Lewer kommentaar

Please log in using one of these methods to post your comment:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s