Baie om te doen

Ons volkie het `n weersin aan meerdoeligheid.  Dit maak nou nie saak hoeveel `n kerkgebou gaan kos nie, ons bou hom só dat hy net één dag `n week sal werk. En net so vervies ons ons vir prag en praal.  Hervormde soberheid het nóú nog beeldestorms tot gevolg.  Nee, ons verkies dat die simboliek in ons argitektuur moet sit.

Die Korrelkop skryf verbitterd oor die gewroeg met `n bouery aan huis met vroulief aan die kyf.  En Danie is verbete aan’t veg met die bouer wat afskeepwerk doen aan sy wordende aftreeplekkie.  Maar kerkbou is erger, glo my maar. Dominees wat dit aandurf, hang aan tot hulle naam op die hoeksteen pryk, en tree dan bebloed uit die stryd sodat die oorlewendes die gelag kan betaal.

St Mary's Moorfields Catholic Church
St Mary’s Moorfields Catholic Church

Wat is dit wat ons bou?  Monumente?  Ivoortorings? Ikone van die Koninkryk?

Daar’s dalk plek voor, gehoor.  Thomas was pas in Rome en het hom gegril aan die swierigheid van die Vatikaan, sy Hervormde hart aan die praat… Ek verskil: Jerusalem s’n staan nou nie meer nie, maar daar was `n tyd toe die Israeliete in gehuggies geskuil het terwyl die tempel met goud beslaan is. Want God kom eerste, en vir Hom is net die beste goed genoeg. Die Petruskatedraal het verrys op die plek waar keisers kinders van God vir die leeus gevoer het.  Die fondamente staan gewortel in katakombes vol beendere van martelare.  Die grusame geskiedenis van ongekende lyding agter die rug, het die triomferende kerk haar herrysenis en heerskappy aan die grootklok wou hang. Die troonbestyging van Hom wat net regs van God sit en keisers kafdraf, sit ingemessel in elke marmerklippie in daai basilikum.  Elke haal van Michelangelo se verfkwas vertel van die Een wat eintlik hier en orals anders regeer. Dis die pelgrimstog werd, al het die kerk  nog baie appeltjies met die oerslang te skil, oor `n ou glasie Kaaps en brood dalk, oor of God aan die dak of in die wynglas woon.

Dat daar `n plek in die wêreld is waar `n gemeente wat van pannekoek en koesisters aan die lewe bly, kan gaan kyk en sien die kerk is nie net strydend nie, help. `n Bietjie. Die kerk het sy heiligdomme, en almal van hulle is gewone mensewerk. Dog, ons het hulle nodig, soos monumente wat herinner aan oorwinning en dat dit met ons ook weer kan beter gaan.  Maar gaan jy die Salomotempel in Sekunda oorbou, of die Petruskatedraal in Pofadder?  Aikona!  Nee wat, sak sarel.

Bou ons net vir Sondag?  Die erediens is belangrik, ja. Dis Hervormd om te dink oor die liturgie as `n gesprek met God, en met dié is kerk `n ontmoetingsplek waar braambosse brand en jy jou skoene uittrek. Maar ek het baie in sitkamers en skoolsale ook gepreek, gedoop en nagmaal bedien, dieselfde liturgie gebruik as van kansels af, en dis nie asof God daar nie dood gesien wou word nie. Het ons vergeet van waar twee of drie vergader…?

Moet `n liturgiese ruimte die tempel se vloerplan volg voor God daar gaan intrek soos `n vitterige vinkie? Moet `n kerk altyd oos kyk, al kos dit dat jy hom dwars op die erf neersit? Is torings en gestemde klokke vereistes?

Maar die gemeente het dalk weeklangs ook `n ruimte nodig waar die reaksie wat Sondag voorgeneem is, kan grondvat.  Ek verstaan die misverstand dat die huis van die Here `n mark kan word, en dat doringdraad om die doopvont en `n gordyntjie voor die kansel nie help as die basaartafels ingedra word nie.  Dog, ons bou kerke, nie gedenktekens met die oog op `n dan-en-wan eerbetoon nie.  `n Kerkgebou is `n werkplek.  Hier wy jy jou aan die diens van God en voeg jy sommer ook die daad by die woord.  Hier al wys jy jy’t God gehoor en jy steur jou aan Hom.  En die tekens van jou ontmoeting met Hom hoef jy nie af te grens of weg te steek voor jy met lewe begin nie.  Want as jy God in die kerk kan ontmoet, gaan jy Hom orals teekom – geen grensdraad of gordyntjies gaan Hom keer nie. Daar sit `n duiwel in die ding dat ons God en ons, kerk en lewe, uitmekaar wil hou.

St Mary's Moorfields London
St Mary’s Moorfields London

Ek gee toe ek het nog geen gemeente in `n skoolgebou teëgekom wat met hulle lot tevrede voel nie.  In daai grassie seil ook gif. `n Oordrewe hunkering na `n selfgemaakte heiligdom waar God teen wil en dank ook moet in, vergeet die aarde is sy voetstoeltjie.   Die kerkgebou is immers van lewende stene, eerder as van baksteen en beton?

En nou het ons nog nie eers begin stry oor Bluff of Montclair nie, of oor die rooi Roomse glaskruise in die muur nie…

Naby Liverpool stasie in die City staan `n Roomse kerk wat jy nie sal reken is `n kerk as jy nie daarvan vertel is nie.  St Mary Moorfields se gebou is `n tipiese 1903-vyfverdieping kantoorblok. Stap jy in, is jy in `n kerk soos enige ander op die Rooms-Europese styl, hoë plafon en brandglas vensters ingesluit.  Londen-grond is duur, daarom is die kerk ingebou in `n kantoorontwikkeling wat uitverhuur word om die kerk in stand te hou, benewens die priester se blyplek en die kerkkantoor.

Elders staan `n ou middestad kerkskool.  Weggesteek onder in die kelder is `n fraaie werkende kerkie wat `n saal, die skool en kantore op sy dak abba; my kantoor is op die sesde vloer. Hulle het die gebou in 1901 al uitgedink.

Gawe meerdoeligheid is meer as net koste-effektief. Alles gaan nie net om geld nie. Kerk is werkplek, benewens natuurlik ook bid- en vierplek.  Kerk is wegspringplek en wenstreep, in wese al meerdoelig.  Hoekom lyk dit dan nie altyd so nie?

Advertisements

One thought on “Baie om te doen

  1. O my w(W)oord het jy nou die spyker op sy kop geslaan met die een. Ai dit lees lekker! En watter wonderlike kultuur het die Europeërs nie! Ek kan verstaan waarom jy nie wil terugtrek nie. Ek sou ook daar wou bly! Om te dink – dis jou kantoor! Op hierdie kraglose karlose Maandag – lyk dit vir my na die hemel.

Lewer kommentaar

Please log in using one of these methods to post your comment:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s