Serubbabel

Die laaste dag voor vakansie is nooit maklik nie: te veel goed om gedoen te kry voor jy die pad kan vat. Nagte deurgewerk en doodmoeg, breek die laaste Sondag aan. 

Negentien tagtigs en Sondae het `n vaste patroon: voor sonop is ek op, en met `n koppie tee voor die rekenaar.  Die preek kry korter sinne, naamwoorde word werkwoorde, groot woorde word nek omgedraai.  Maak ek sin of maak ek spronge? Pas die orde en sy elemente?  Eindelik is die hele erediens opgeskryf, anders stotter en stamel ek.  Tevrede, word die drukker aan die werk gesit en ek gaan stort en strikdas aantrek.

Ek kom dit nie agter voor ek, toga aan, in die konsistorie staan nie: die preek het op die drukker agtergebly. Daar is nie `n manier dat ek dit sonder my teks op die kansel gaan waag nie, besluit ek. Ek is soos Batman die paadjie af tussen deur die gedweë wagtende gemeente deur en spin die Colt se wiele in tannie Borrie se kerktuin. Die ouderling moet verduidelik die dominee kom weer.

Warm klim ek, twintig minute laat, die kansel. Vat jou tyd, haal asem, pak jou gereedskap rustig uit voor jy begin, praat ek myself moed in. Ek doen dit.  Die gemeente loer al oor die votum nie kom nie, toe ek moed skep.

Toe die hande opgaan vir die seën, gaan die preek saam.  Pragtig fladder my blaaie soos herfsblare in die waaiers, oor die kerkraad se koppe.  Almal se oë is opgeslaan na die preek wat soos tonge oor die gemeente uitsak. Verskeie lidmate en kerkraadslede versamel hulle almal en bring hulle vir my terug.

Wet en belydenis. Dis die ouderling se werk, so ek het `n bietjie tyd om die preek weer agtermekaar te sit. Geen bladsynommers nie, ontdek ek toe. Eers toe `n ongemaklike stilte met hier en daar `n beleefde kuggie tot my deurdring, besef ek hulle wag vir my.

Ek staan haastig en verleë op.  Té haastig.  Die waterkraffie trek met `n boog. Ek duik om te keer, en met dié is Durban se nuwe leer Kanselbybel sopnat.  Ek plak my preek neer en grawe na `n sakdoek.  Gelukkig was die Bybel nog toe. Die bladsye het geen skade nie.  My preek is gelukkig toe nie weer die gemeente in nie, want nat bladsye en vloeiende ink het genadiglik meer kleefkrag.

“Kom laat ons sing!”  Ek speel vir tyd, sien.  Die ongeskeduleerde gesang vang die orrelis onkant.  Hy was al halfpad die gallery se trap af om te gaan rook. Dit was vóór erediensordes A tot J: jy’t geweet wat kom volgende. Ek word `n oomblik lank betekenisvol aangegluur.  “Onhervormd, Dominee…,” sê daai blik.  Doodsonde, sê die Kerkwet.  Ek gaan nooit die einde hiervan hoor nie…   Maar ek moet die preek bladsy vir bladsy om my kan uitpak om te keer dat ek `n waterverfskildery van die kansel af sal moet eksegetiseer.    Terwyl hulle sing, kan jy die bladsye van mekaar afskil, troos ek my. My kniekoppe sorg vir lekker ritme by die hert in dorre streke.

“Lees!”, beveel ek myself.  Lees die Bybel en laat die preek droog word. “Die Skriflesing”, kondig ek met nuutgevonde selfvertroue aan – ek voel myself meer in beheer: ek het die Bybel voor my oop, ek kan rustig lees en tot verhaal kom – “is uit Serubbabel 2.” Ek word bewus van `n geskuifel en `n gefluister, van `n verwoede gerondblaaiery in die Bybel, maar ek kyk nie op nie want dan verloor ek dalk my plek.  Noudat ek op dreef is, sien ek nie kans vir nóg `n verleentheid nie.  As ek dit later wel waag, sit almal vir my en kyk, duidelik verdiep, groot-ogig en fronsend, die ene ore.  Gewoonlik lees hulle saam. Vandag hang hulle aan my lippe. Ek voel goed. Wel, beter.

Ek lees van Nehemia wat vir koning Artasasta oor `n glasie wyn ompraat om hom Jerusalem te laat herbou. Goeie storie.

BouwerkGoeie storie, goeie preek, het ek gedink.  Oor gemeentebou.  Iewers aan die begin van die toepassing kom daar `n vurige aansporing om aan die gemeente te kom bou.  Jy weet mos, deernis en deelname, bydraes en betrokkenheid, lekker saamgevat in Nehemia 2 vers 18 “Kom ons bou!”

“Kom laat ons…” staan daar onder aan die bladsy, en toe ek omblaai, volg die ding nie so lekker nie. Pouse. Die pouse tussen “Kom laat ons” en “bou” is net lank genoeg om die vasgenaelde gemeente te laat improviseer, gretig dalk om onverwyld met die bouwerk te begin?  “Kom laat ons…bid!” aanvaar hulle is wat ek bedoel en op staan die manne, oë toe, koppe eerbiedig geboë.  “Bóú!” sê ek.  Hulle kyk op, uit die veld geslaan, en gaan sit verward weer, want die preek gaan aan – ek het die laaste bladsy toe mos opgespoor – en, heel teleurstellend, was hulle meer bereid tot bid as bou.  Maak sin: die een sê God moet doen, die ander moet jy self.

“Dominee?” Oor `n koppie tee kom lê die enigste tannie wat die moed het om die saak aan te roer haar eier. Ek krimp. “Nee wat, Dominee,” sê sy, “hierdie nuwe Bybelvertaling is nie vir my nie…  Kon vir Serubbabel nêrens kry nie.”

Advertisements

2 thoughts on “Serubbabel

  1. Hahahahaha lag ek nou te lekker! Daar het al so baie sulke dinge met jou gebeur en in daai ou kerkie op die Bluff! Met sonbril het jy op die kansel geklim, bril gesoek tot die ouderling vir jou uitwys dis op jou kop, troeteldiere wat jou agtervolg kerk toe om die seen te ontvang en tussen gemeentelede hulself tuis maak en o sal ek ooit vergeet hoe jy my en Roleen van die kansel af stil gemaak het in die middel van die diens…nie my trotste oomblik nie!

    Dan nie eers gepraat van ou Basjan die bassethound wat gedoop is een aand na almal in die nagmaalwyn ingevaar het nie; mamma wou seker maak ons weet “all dogs go to heaven” en indien dit nou nie heeltemal waar is nie, wou sy ons maar net verseker dat Sebastiaan nie net enige hond is nie en wel gered sou word indien die wederkoms moet aanbreek! En what a show! Die “dominee” asook so paar gemeentelede word verteenwoordig deur ‘n vrolike groep dwelm verslaafdes en die homoseksuele orrelis wat nie kan note lees nie trap en slaan op enige ding wat ‘n klank maak sodat die hele Bluff kon hoor Sebastiaan word weergebore!

    En nou sit my liewe pa met sy hand oor sy mond in skaamte oor ek die stories laat lek, my ma was mooi verduidelik dit mag nie weer gebeur nie, maar dit was dan net so lekker om bietjie stout te wees en watter ander kinders kon spog met ‘n kerk as speelding!? Soveel cooller as almal anders se playstations en rollerblades wat Kersvader nooit vir ons wou bring nie… Piekniek het ons gehou op die konsistoriedak om die bruid te sien deur die venster; dit was groot pret tot ‘n ouderling vir my pa die klein gesiggies by die venster uitwys; my pa het met toga en al soos batman op ons afgestorm en sonder ‘n geluid is ons weer terug huistoe… needless to say is my ma weer in die moeilikheid!

    Die volgende een kon my ma darem nie die skuld voor kry nie; die tradisie het eers later ontstaan, met my en Roleen se 16de verjaardag toe liewe vader vir werk Amerika moes besoek… Die tradisie: om die kerkklok te lui op ons verjaardag om middernag! Tannie Hettie het die geraas gehoor en dadelik pastorie toe gebel en verduidelik hoe die toring onstabiel is en op die kerk gaan val; ek moet se ek het nogal gewonder hoekom die klok nie meer op Sondae gelui word nie… Gelukkig het die toring bly staan! Die tradisie kon ongelukkig (gelukkig vir my pa en tannie Hettie se siele) nie veel langer as twee jaar aanhou nie want teen my en Roleen se 18de verjaardag kon ons nie meer die pastorie ons huis noem nie, ons woning was toe Huis W.O. Read; Port Natal se skoolkoshuis.

    Dan nou nog die kerk spook! Die enigste verklaring wat ons kon gee vir die alarm wat volgens patroon die hele Bluff wakker gemaak het tydens die maande van Augustus en September, en vir die tannie wat eendag met Roleen se hare gesit en speel het in die kerk wat net so skielik soos wat sy daar was weer verdwyn het. Ek onthou die aand wat ek en Roleen en Susan by die badkamervenster geluister het na die spook wat sing… Tot my pa ons almal uit die huis uit gesleep het (behalwe vir Christine natuurlik wat altyd deur albsoluut alles geslaap het) en vir ons uitgelig het dis die haweklanke wat teen die kerkmuur bots; dit was eintlik nogal teleurstellend want nou is die storie ietwat te realisties. Maar ek dink almal anders sal met my saam stem dat daar wel ‘n spook was, al was dit nie sy wat daardie aand gesing het nie, daar was definitief iets meer aan daai kerkgebou aswat die oog kon sien…

Lewer kommentaar

Please log in using one of these methods to post your comment:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s