Gruwelike geskiedenis

Dit het as `n radioprogram begin, toe uitgeloop op BBC-kindertelevisie en later prettige opvoedkundige opvoerings vir skoolkinders: Horrible Histories.   Met komiese oordaad word die grillige geskiedenis van menslike wreedheid oorvertel: `n Oscar vir die grusaamste Romeinse keiser, `n goedige gespot met Henry VIII wat sy vrouens se koppe afkap, en skreeusnaakse stories oor die verwelkomingspartytjies vir die Noorweegse invallers wat die Eiland kom oorvat.  Daar’s geen heilige koeie nie.  Dieselfde Hendrik se doodluiterse besluit om god te speel en homself tot “pous” te verklaar (kyk hier) sodat hy sy volgende vrou kan vat, die pokkeplaag, die 1666 brand, oorloë teen knoffel-kouende Franse, en verdrinkende Hollanders, álmal loop deur.  En hoe bloederiger hoe beter.  Alles met die tong stewig in die kies.

White SA.jpgPas terug van `n bustoer deur Europa, is Ebert verontwaardig oor al die grustories wat die toerleier te vertelle gehad het oor letterlik elke besienswaardigheid waar aangedoen is.  In Londen staan toeriste in lang toue voor die London Dungeon, Madame Tussauds het `n permanente uitstalling van die stad se goor kant en noem dit “The London Experience”, en gaan kyk jy kastele, lei die toer noodwendig ook deur die kelders waar mense in papegaaihokke van die dak af gehang is en met `n witwarm ysterstaaf setpilgewys van sodomie genees is. Suid-Afrka is nie anders nie: `n Britse kennis wat onlangs op `n begeleide toer door, ekskuus, deur Afrika is, vertel met kundige afkeur hoe erg die ou Suid-Afrika was. Die toerleier het hom vertel.  Hy het dit self gehoor.

Gruwelike geskiedenisse is aangrypend en besienswaardig, en baie geld werd. Die hele toeristebedryf hang skynbaar daarvan af.

Hoef dit te verras?  Geweld is immers entertainment. Flieks, fiksie, nuus en televisie, alles fokus op dood; dood weens wreedheid is voorblad, dan kom lyding weens onreg.  Vermaak en informasie is ingestel op, wel, sonde en al sy fleurige vrugte en finale gevolg.  Selfs die celebrity-kultus, die enigste fasset van die openbare media wat dit oor mooi mense het, floreer op skinder en skande waarvan veral egbreuk almal gaande maak.  Ondersoekende joernalistiek ontsien geen mens nie, trouens teiken dalk juis die goeies, om krakies in die mondering te soek en fout te vind, meer oortuigd as selfs die kerk dat jy sonde sal vind as jy weet waar om te soek.  En is daar in die israeliet geen opsigtelike bedrog nie, lei jy hom sommer self in die versoeking, en swig hy, vlek jy daai swak meedoënloos oop. Vir bylieg is hulle ook nie bang nie. Ek besef ek is alweer aan’t raas oor die joernalistiek… Dié keer sê ek: hulle doen dit want ons lees dit.

Wat is dit met ons, hierdie beheptheid met skade aan mekaar?  Hoekom die gekraai van verlekkering as ons ons aan mekaar kan gril? Is ons ongeneeslik sieklike voyeurs van die slegste van menswees?

Ek herinner my dat alle stories oor mense gaan. Dat in elkeen van die stories mense se lewens ontplooi.  As mense gewetenlose sondaars is – sondaars is ons almal, gewetenloos is ons ook, wanneer dit ons pas – is ons soveel te meer geroepe om ánders te wees: juis verantwoordelik, en dit met deernis. Ek wil in gedagte hou dat mense kwesbaar is, seerkry en doodgaan.  Ek weet dat ek mense nie met oordeel aanmoedig nie. Ek besef dat ek soms te staan kom – dat ek dalk al is wat staan – tussen mense en hulle eie selfvernietiging.  Dan keer jy; jy help nie van die wal in die sloot nie.

Dis evangelie, nie stroop nie.

Gruwels is daar in die geskiedenis oorgenoeg van.  Soms moet ek my herinner dat ek my eie geskiedenis ook nie te ernstig moet opvat nie.  Daar kom `n tyd dat mens oor jou eie foute moet kan kopskud en grinnik.  Dat ek nog die storie kan vertel, beteken tog ek het dit al’s oorleef.

Ek kry dalk (nog) nie oor alles gelag nie.  Maar ek is nie meer heeltemal so gegrief of so grillerig nie.

Advertisements

Lewer kommentaar

Please log in using one of these methods to post your comment:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s