Fortuin

Ek het dit anders beplan. Die SAW het `n lys kom aflewer van plekke waar hulle ons kon plaas.  Ons is genooi om te kies.  Ek het teen my sin in Durban beland.

Daar was meer as twintig van ons: finalejaar teologiestudente wat die volgende twee jaar vir volk en vaderland sou moes offer.  Maar oor ons keuses vir wáár ons dit sou doen, was daar alles behalwe finaliteit. Inteendeel, amper deur die bank sou ons op plekke beland waarvoor ons nié gekies het nie.

Herman het kom vra dat ek Pretoria vermy: hy’t op trou gestaan, en aanstaande mevrou moes nog `n jaar aan UP studeer.  Ek het gehoop ek sou vir Lood kon vervang, kom-ops werk in Suid-Natal?  Of die Kaap dalk?  Want so baie ouens het Transvaal gekies dat ek besef het daar is weinig kans dat ek dáár sou bly.  Nee, Oom-PW-en-Seuns stuur my Durban toe.

Profeet-in-sy-eie-land, wéét ek sommer uit die staanspoor…

Gelegitimeer, trek ons sak en pak.  Wel, daar was nie veel om te trek nie: pas getroud! Oom Roelf het ons `n dubbelbed present gegee.  En skoonma het drie ou stoele, twee bal-en-klou, en `n koffietafel afgestaan.  En my 21ste verjaardaggeskenk van Pa en Ma: `n Pioneer hoëtroustel en `n handvol plate. Van iemand het ons `n yskas gekry.  My boeke het meer plek gevat as die res van die trek. Was dit nie vir die boeke nie, kon ons al’s agter op `n bakkie laai.

Twee RandOns twee, en Lady Margaret Thatcher, die kat (sy was `n kwáái kat!), het pad gevat in die Colt.

Pa het vir ons `n woonstel gekry: `n een-en-`n-half-slaapkamer plekkie onder in Davenport.  Vars uitgeverf, trek ons vlak voor Kersfees in.  En, o wee, is ons nie arm nie…

Nou ja, dié wat my ken, sal weet ek doen nie die army nie. Of enige van daai vreeslik indukwekkende manlike goed waarvoor mens spiere nodig het nie.  Die pen is buitendien magtiger as die swaard en die tong stuur `n skip. Ek vra niks meer nie.  Daarom is daar ses weke in 1984 waaroor ek nie praat nie, oor dit nie in my belang is dat kollegas dit onthou nie.

Twee dae voor ek moet aantree, en ek lê wakker, maar nie oor my eksistensiele angs vir die weermag nie (dáároor lê ek toe al die afgelope jáár en rondrol).  Ek wroeg, oor ek my vrou sonder `n sent moet los (dit was régtig so erg!). Sê ek dit vir die familie?  Hulle sal alte graag help, weet ek.  Maar as jy al  sonder spiere moet klaarkom is selfrespek die ander manlike ding waarvan `n man moeilik afstand doen (dit was vóór Basies, sien – ek het tóé nog selfrespek gehad om te verloor).

Die eerste posstuk wat by Davenport aankom met my naam op die koevert is `n banktjek: hulle’t fout gemaak met die oorplasing van die rekening Durban toe; tweehonderd rand!  `n Fortuin!

Nou moet ek maar erken ek het daarvoor gevra, daai nag, terwyl ek slapeloos rondgerol het.  Vir Pa.  Ek het Hom ook gevra om die bitter beker van voetestamp by my te laat verbygaan, maar sy wil en die vaderland s’n was dit blykbaar oor dié saak eens.  Daar gaan my waardigheid toe.

Maar ek leef nou nog van dáái tweehonderd rand.

Advertisements

One thought on “Fortuin

Lewer kommentaar

Please log in using one of these methods to post your comment:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s