Helde van die kerk

Ek het geen ambisie nie. 

Mm, miskien nie heeltemal geen nie…

Ek het geen begeerte om mag in te palm nie.  En eersug staan my nie aan nie.  Maar erkenning is lekker.  Waardering is beter.  Vir die kollig is ek allergies, in ophef het ek `n weersin.  Ek is gemakliker daarmee om ander ouens te laat goed lyk. Maar self wil ek darem ook nie sleg lyk nie…  Dalk is juis daarom “`n goeie naam” vir my so belangrik.

Seker ook goed so, want is jy hervormd en presbiteraal, bereik jy op 22 jou piek: gelegitimeer en georden.  Die episkopaalse ampte laat jou biskop word, aartsbiskop selfs.  Katolieke het kardinale en `n pous.

Dit sê nog nie dat hervormdes geen groeikans kry nie, of droom van vorder nie.  Daar’s kollegas wat wil Raad of Ring toe, vir wie Algemene Kommissie die kroon span.  Hulle sit op Beheerliggame in skole, of in studeerkamers en stoei aan daai doktorsgraad.  Vir party is om by teologiese opleiding betrokke te raak, die hoogste goed.

Ek is hulle baie dankbaar: dit haal van my die druk af, wetende daar’s wel iemand wat hierdie noodsaaklike goed sal doen as ek nie my hand daaraan wil waag nie.  Dis ook nie heeltemal waar nie…  Ek het party van die goed al geprobeer doen – rade en ringe en grade – maar ek vermoed ek was nie vreeslik goed daarmee nie.  Seker ook nou nie vreksleg nie, maar die grade, byvoorbeeld, het toe nooit agter my naam kom staan nie. Ek het die hoogste agting vir ouens wat daarmee deurdruk.  Het self mos al drie maal ingeskryf, en drie maal misluk.  Ek sit my nou en dan daaroor met `n potskerf en krap. Dalk het ek dus meer ambisie as wat ek wil toegee.  Waarom anders die selfverwyt?

Vir mý was dalk die dryfveer meer om aanvaar te word as om te presteer. Ek wonder of my Kerk besef hoe ver van Pretoria af Durban regtig is?  By UP aangekom, `n premature 17, was ek vreemdeling in Jerusalem. Ons het eendag in die klas gesit en familie uitlê: ek is die enigste wat nie verlangs verwant is nie; geen bloedlyn wat my aan die volk bind nie.

Craig-Davison-The-Dynamic-Duo-Canvas-CDGC9C-RSome people have greatness thrust upon them” (dis nou dié wat nie so gebore is nie). Ek ly dalk hieraan. Ek het nie soos Jabes gevra dat God my lebensraum moet groter maak nie, en toe ook nie gaan oorlog maak om bo uit te kom nie.  Nie dat ek eers “bo” uitgekom het nie. Dog, hier waar ek nóú sit, het ek `n uitsig bygekry waaroor ek bly is. Ek kyk uit op `n eiland, en in die verte, `n kontinent wat nie Afrikaans is nie. Vir sommiges is dit op sigself al begeerlik, en ek besef ek is bevoorreg om te mag wyer kyk.

Want ek kan nou uit ondervinding sê wat ek altyd vermoed het.  Daar ís `n plek waar kerk politiek word, waar magspel se reëls geld en elke skuif deel is van `n strategie met oorheersing in die oog, waar beeldbou só belangrik is dat skyn omhels word, en geld koning kraai.  Ek is daarvan naar.

Wat saakmaak is waar ek op 22 al was, sonder bevordering: by mense wat nie besef net hóé lief God hulle het nie, en stomgeslaan hoor hoe God by hulle sonde verbykom.  Egte mense. Mense wat deur die skande van oopgevlekte sonde gestroop staan selfs van alle hoop op skyn, wat trouens al die verwagting om net te bly leef prysgegee het, wat nog enige beduidenis van `n goeie naam.  Mense grypend na strooihalms om die skerwe van hulle lewens bymekaar te hou.

Dominees wat dáár `n verskil kan maak, is die helde van die kerk.

Die illustrasie is van Craig Davison wat meesterlik `n kind se droomwêreld raakvat. Só lyk ambisie, sê San. Kliek op die foto om meer van sy werk te sien.  

Advertisements

3 thoughts on “Helde van die kerk

  1. Hi Hennie

    Baie goed geskryf en ‘n groot stuk waarheid daarin. Baie ook op myself van toepassing, die foute wat mens maak in die lewe ens. Nou die dag ook by ‘n boer gewees, met net matriek maar deur harde werk en beskeidenheid het hy gevorder tot R35 miljoen sonder skuld, en ‘n baie nice ou sonder inhibsies. Dis hoe ek van mense om my hou!!

    Groete

    Kees

Lewer kommentaar

Please log in using one of these methods to post your comment:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s