Ons is nog hier

Twee Afrikaanse skrywers stel onlangs voor dat om meer te maak van die méns, die uitweg is uit verkettering. 

Kobus Labuschagne skryf in Hervormde Gesprek; Neels Jackson in Beeld.  Jammer manne, maar ek dink nie die idee gaan sommer-so hond haar-af maak nie.  Elke stryd teen dwaling fokus juis op die geneigdheid om van ménse meer te maak as van Gód.  Trouens, oormoed is die wortel van alle dwaalleer en het ankers in die kerk.  So graag as wat ek sou wou sien dat ons die strydbyle begrawe en mekaar billike kans gun om te verduidelik, wéét ek: geen ophemeling van, of toegifte aan mensheid gaan `n brandstapelvuur blus nie. Dáárvoor is die haat wat ons vir humanisme het, net te groot.

Maar julle is ook nie heeltemal die kluts kwyt nie.  Vrede en versoening is ook mý roeping, nes julle s’n.  En vrede en versoening, hoewel meer Godgegewe as menslike konstruksie, ís beslis iets wat onder mense gebeur. Hou met mense rekening; dis, dink ek, wat julle bedoel? En hiermee stem ek saam.  Maar ek wil `n verfyning aanbied (ek sal bly wees as dit net `n biétjie help, want ek gaan nie voorgee dis dié oplossing nie – want daar is nie net een nie).

Ek begin ook daar: effens meer empatie met mense is dalk goed.  Maar ek wil voorstel dat ons ons duideliker uitdruk:  nie die humanisme nie, maar teologiese antropologie moet ons denke bepaal.

Anders as die optimistiese siening van die humanisme dat mense tot alles in staat is, is die teologiese antropologie, wat sonde in ons aard vind, dalk `n uitkoms.  As almal van ons inderdaad sondig is, is nie een van ons reg oor God nie.  Nie een van ons is gewaarborg dat ons die volle waarheid in pag het nie.  Al het ons daarvan vlietende gesigte en selfs fyn aanvoeling, oor God het ons weinig kans op wetenskaplike sekerheid.  Die humanisme beveg dié verleentheid deur God te verwerp.  Geloof omarm hierdie onverstaanbare werklikheid deur te erken ons kan nooit alles weet nie.

God is gans anders, en daarom bokant ons begrip.  Oor God  skiet ons almal tekort.  Daaruit moet tog nederigheid spruit, dan nie?  En die besef dat elke uitlating oor God `n waagstuk is.  Ons is gans te verwaand as ons beweer ons weet oor God beter.

ChristogramHieruit spruit dat ons skuiling soek in die kerk: “saam met en soos die kerk”, is die leuse van die kerk van alle eeue.  Geloofsgemeenskappe formuleer nog altyd onderlinge konsensus, bely wat hulle gesamentlik glo, en kom ooreen om gesamentlik juis hierdie geloofsinhoude te bewaar en daaraan gestalte te gee. Hierdie ooreengekome artikels van ons geloof was nog nooit staties vasgevang in `n enkele belydenis nie: dis voortdurend weer bedink, geïnterpreteer en opnuut toegepas.  En dit was nog altyd die breë ooreenkomste wat in die kerk heers wat van dwaalleer bewaar het en die kerk daarteen help afgrens het.  Jackson sê dit ook.  Daar’s minstens een ander blokker wat sê juis hierom is die gesprekke met splinters en sektes `n mors van tyd; die kerk is altyd reg, hoekom dan nog die stryd aanknoop met skeurmakers?

Wel, ons was toe nie altyd reg nie, nè?  Die kerk was nie altyd net vol genade en waarheid nie.  Selfs nie eers die kerk, kollektiewe denke ten spyt, weet alles van God af nie.  Houtgerustheid sneuwel blitsvinnig aan die kruis.  En geen tirannie van die meerderheid verteenwoordig waarheid nie.  As die kerk meer weet, of van beter weet, is dit omdat die kerk `n hele huis vol lewende stene bymekaarhou.  Nie oor almal in die kerk saamstem nie, maar oor die kerk verdraagsaam moet kan wees, verdraagsaam omdat God dit is, vind die waarheid oor God in die kerk `n tuiste. En die poorte van die hel oorweldig dit nie. Daarin skuil die wonder van die 21ste eeuse kerk: ons is nog hier; ons glo nog.

Het ek daarmee beweer die kerk het nie grense nie?  Glad nie.  Bloot dat die kerk gelowig is, impliseer reeds dat die wêreld nié glo nie.  Daar is `n verskil.  Maar die skeidslyn lê dalk iewers elders as waar óns die streep trek.  Die kerk en die liefde wat Gód vir die wêreld het, oorskry die beperkinge van ortodoksie, katoliek en protestants.  Nie oor ménse dit reghet nie, of nog vanself sál regkry nie, nie bloot oor ons ménse is nie, maar oor Gód groter is as wat ons kan bid of dink, is die kerk ook groter as wat ons van weet.

Geduld met ander is tegelyk belydenis dat ons self ook swaar is op genade. Dat die sonde in ons ook blom.

Dat God in Christus aan mense genadig is, en dat die Heilige Gees ons laat glo Christus versoen ons met God, is dalk al wat oor geloof gesê hoef te word.  Dis dalk al genoeg.  Die res is detail. Dis die detail wat ons oorweldig, nie die waarheid nie. Die waarheid maak mens vry.

Dis nie simpatie met dwalendes wat kettery stopsit en die kerk verenig nie.  Ook nie eers begrip vir twyfelaars of geduld met uitskieters nie. Nie eers `n vaardigheid met die detail kry dit reg nie. God is sondaars genadig.  Daarom sit die lot van ons ongemaklik in die kerk:  saam met `n hele spul sondaars met wie ons nie andersins sou wou meng nie.

Dis al hoe ons in die kerk oorleef: oor ons moet.  Ons moet noodgedwonge saamleef met mense en met God.  Dis waarvan die kerk leef.

Ek bid daar’s vir my ook nog plek?

Advertisements

Lewer kommentaar

Please log in using one of these methods to post your comment:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s