Kerk, kultuur en `n Mercedes vol hoendervlerkies

Londen het baie kerke.  Binne `n honderd meter van my voordeur af staan drié!

Skuins oorkant die pad staan die Calvary Charismatic Baptist Church Prayer Temple.  Onaansienlik, die 1950/51 argitektuur, dog `n gelyste gebou: dit was glo destyds die eerste een hier rond wat as `n “gemeenskapskerk” beplan is, met ruimtes vanwaar gemeenskapsprojekte geloods is. Deesdae lyk talle nuwe kerkgeboue hier só. 

Onlangs maar eers daar ingetrek en toe oorgedoop, is die Prayer Temple een van daai gemeentes wat my kerkraad eenmaal besluit het nié ons gebou op die Bluff mag deel nie: hulle ráás!  Hulle het `n rock-orkes en `n dierbare dominee wat net so luidkeels die evangelie verkondig as wat imams uit minarette roep dat jy hulle tot in Mekka kan hoor.  Net die ritme verskil. Dit gaan jóllie daar, al dreig die dominee dringend dat die einde voor volgende Sondag nog kan kom.

Die Temple is elke Sondag propvol.  Maar dié is nie net `n Sondagkerk nie.  Hier deurnag hulle.  Soms van Vrydagaand to vroegmôre Maandag, soms sommer middel van die week. Hulle kry soms drie-uur smôrens eers hulle ry, maar nie voor daar eers gesellig om die kar (en onder ons kamervenster!) gekuier en gegroet is nie, soos ons ook mos maar maak. En Sondag is ook nie net `n uur se erediens nie:  hulle kom en gaan gedurig. Die erediens het skynbaar geen vaste liturgie wat maak dat as jy die votum en seën mis, jy laat is nie. Iewers deur die dag waar jy kerk kan inpas kom gooi jy `n draai.

Blink motorkarre staan die straat vol, om die hoek, in Grundy af tot dáár by die skool verby. Móói motorkarre, sê ek jou. Hier’s `n tante met `n Mercedes stasiewa wat hoendervlerkies in foelie toegedraai uit groot stomende kastrolle in haar kattebak verkoop.  Uitgevat vir kerk, gaan sy nooit die kerk in nie, maar die voeteval daar om haar kar-kafee is goed. En sy kom elke Sondag “kerk toe”.

Ons en die Temple het gedurig sonde met die Raad wat moet geld kry om op te maak vir die staat se besnoeiings.  Tower Hamlets het nou die dag ongesiens die piepklein bordjies met parkeerreëls teen die lamppale kom vervang en toe die Sondagmore opgedaag met `n hyskraan om die karre wat nie parkeergeld betaal het nie, te kom oppik.  (Ons het al `n keer Willem se kar ook so van die lorrie moes afsmeek.)  Ons s’n is die enigste woonhuis in die straat, dus het ons die dominee se preek gaan onderbreek om die gemeente te waarsku hulle gaan hulle karre kwyt wees as hulle nie kom keer nie.

ghanaian-fabricDit was nie moeilik om die bulderende dominee stil te kry nie: die verskyning van `n wit gesig in die deur was genoeg.  Lot se vrou: soutpilaar. Toe hulle tot verhaal kom,  kom die héle gemeente saam uit straat toe om die owerheid die stryd aan te sê. Die lenige manne gekoller en getaai, die effe meer gesette tannies almal in kopdoeke of hoede met gewade in bont primêre kleure en blink goue skoeisels, die dogtertjies in vlegsels en prinses-partytjierokke en die jongkêrels in onderbaadjies en strikdasse. (My ma het my nog só aangetrek kerk toe!)

Ek lees die week hoe twee verontruste Afrikaanse predikante kla oor die rassisme in ons kerke: die hele week leef ons gelukkig geïntegreerd, en Sondae verlekker ons ons in `n geloofsgemeenskap so wit soos wol, verwyt hulle.  Die kerk, sê hulle, moet soos die wêreld lyk… of dit moet ons darem minstens pla as dit nog nie die geval is nie.

Dit ís jammer dat ons kerke nie meer uitgesproke was teen rassisme nie.  Dis jammer dat ons nie die eerstes was wat kon wys hoe Christus grense oorsteek nie.  En as ons kerke nóú nog wit bly oor ons onsself beter ag as ander, of oor ons afskei en laertrek, moet ons dit nou maar van die Temple se dominee hoor: daai dae is getel.

Maar daarmee is oor die kerk ook nog nie klaar gepraat nie.

Toe die Temple in 2007 hier intrek, het hulle vlae om die kerk kom plant. Heel links, polities korrek, die Britse Unievlag. En groot was ons verbasing toe die SA-vlag so kort na ons aankoms vlak voor ons voordeur gehys word.  Hulle het `n teikengehoor in gedagte gehad: Nigeriërs, Ghanese, Togolese, mense uit Benin en Ivoorkus, en die Wes-Indiese Eilande. En Suid-Afrikaners! Hulle doen dit nou nog, elke Augustus, om die gemeente se verjaarsdag te vier, dié vlae. Duidelik soek hulle lidmate wat uit Afrika stam. Maar ek het die idee hulle het nie vir mý beplan nie.

Sies? Rassisme?  Nee, ek dink nie so nie.

`n Blote, dog ewe sondige(?), heenkome, dalk, vir kultureel ontworteldes?  Dis seker moontlik – die SA-Gemeente het dalk iets daarvan, én die kerke vir Dene en Duitsers, Noorweërs en Nederlanders. Die Temple se nasionale vlae en Sondrag dui ook daarop – al praat hulle propperse East-Ender-Cockney-Engels (maar nog nie rhyming slang nie; ek weet, al gaan ek nie self soontoe nie: ek hoor hulle snags mos om die karre kuier…)

Dus gaan ek maar nie soontoe nie.  Maar ek gaan ook nie na een van die ánder twee kerke toe nie: die een Metodis, die ander Rooms. Ek haal `n bus en ry by seker `n honderd ander verby om by St Helen’s Bishopsgate te gaan kerk.

Dalk is in Suid-Afrika die wonde nog te rou om te aanvaar dat wat normaalweg gebeur, nie noodwendig deur die een of ander sondige agenda gedryf word nie.  Dis natuurlik heeltemal moontlik, selfs waarskynlik, dat daarin kwade bedoelings óók kan skuil. Of eiebelang, soos pensioen, sê een van die ontstigte predikante. Die sonde is in ons aard. Alles wat ons aanpak, gaan sonde wys. Die kerk ook.

Die gemeente is die normale verskyningsvorm van die kerk. En met dié lyk die kerk soms op die volk.

Ons is nie slawe van ons natuur nie, en nie uitgelewer aan wat normaal is nie, hoor ek jou stry? Jy’t reg, ons is nie.  Ek maak nie met sonde vrede nie.  Ek gee nie voor “normaal” is goed (genoeg) nie. Maar om met `n imperatief die bo-natuurlike van ons te eis, veronderstel ons kan dit doodluiters aflewer.  Dis `n fout.

Ek ken die argument dat strukture die sonde vergestalt.  Maar die hervorming van strukture spreek ook nie noodwendig onderliggende liefdeloosheid aan nie. Dis die dénke wat moet vernuwe, die hárt wat moet vleis word.

Ék dink jy mag iemand sy andersheid gun, en selfs sy vreemdheid vier. Jy doen dit graag as jy kan erns maak met die geloof dat die hele kerk reeds in Christus een is.  Dít staan, na alles, net so in ons belydenis. Ek vermoed dat die viering van verskeidenheid waarde toevoeg: om vreugde te vind in diverse spiritualiteite leer jou sien hoe die kerk haar na God skik én in kultuur ingrawe. Ek hoop ons kan opnuut waardering vir die ekumene aanleer, en nuwe maniere vind om dit te laat gebeur.

Ons kerkwees en ons teologie, ons geloof, hoe ons dit beleef en uitleef, menswees, trouens alles is kultureel bepaald. `n Fyn aanvoeling vir die skade wat rassisme aanrig, is daarom vir Afrikaanse kerke `n aanwins, en in die lig van ons geskiedenis, te wagte en (byna) “normaal”.  En noodsaaklik, as daar van onderlinge versoening enigiets tereg moet kom.

Hoor maar die twee dominees se vermaning.  Maar hou in gedagte daar is veel meer as net ras agter hoe `n kerk lyk. Kerkwees is meer as (net) `n reaksie op rassisme.

Advertisements

One thought on “Kerk, kultuur en `n Mercedes vol hoendervlerkies

Lewer kommentaar

Please log in using one of these methods to post your comment:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s