Van stoepsit

Hier kom toe `n jongman kuier wat my `n moeilike vraag vra: Wat is roeping?, wil hy weet. Hoe weet mens jy het dit? Want hy’s bang hy bied dalk weerstand. 

`n Dominee behoort tog te wéét! Hoekom um en aa ek? 

Was daar `n tyd dat ek van roeping seker was? En was die roeping so oorweldigend dat ek dit nie kon omseil nie? Want die slang van versoeking was nooit ver nie! 

Kort na ek met die BA klaar is, het die Kuratorium besluit voornemende teologiestudente sou gekeur word. Die profiel van die ideale dominee was vreesaanjaend: ek het net betyds die kraal gehaal, want aan dáái lys vereistes sou ek beswaarlik kon voldoen, en die psigometriese toetsing sou my te lig bevind het. Met “Weet jou ma jy’s hier?” het Herman my nog op die Van der Hoff-kamp ontgroen. Ja, sy’t geweet. Wat sy nié geweet het nie, is hoe graag ek wou teruggaan huis toe! 

Worsteling met GodTog was dit in my eerste jaar BA-studie dat ek die sekerste was. Ook goed, want die eerste jaar was hel, en die hoop op hemel was al wat my daardeur gekry het. Ek oordryf nie. Ek onthou dat `n latere ienkkonsert die draak gesteek het met teologiestudente: “BA-maniese-depressie!” En, o wee, hoe waar was dit nie… 

Ek was goed met `n gewroeg. Ons het `n aliminiumdak oor die voorstoep gehad. Matriek geskryf, onthou ek die oorverdowende gedreun van die reën op daai dak in `n baie nat en donderende Desember. Ek het nagte daar in die donker gesit soos Jakob by die drif in afwagting op lig. 

Later het ek vir Koos laat kom. Ons het gery tot by die Burger Ranch in Kenyon Howden en oor melkskommels die roeping uitgepluis. Jy hoef nie dominee te wees om `n gelowige te wees nie. Die kerk is nie al bediening nie. Ek kon altyd op Koos reken vir raad.

Maar ek het teen daardie tyd al `n lang stoepsit(-ter) geskiedenis gehad: `n kleintydse oortuiging dat dominee is wat ek sou wees. Oupa het dalk gehelp om die idee te vestig – die eerste kleinkind, die naamgenoot – en met dié het ek al banger geword ek doen dit oor hóm.

En báng is wat ek was. In die oortreffende trap. Want Dominee Piet was by ons en met hom wou dit maar net nie goed gaan nie. En Pa het hom oor die pastorie ontferm. 

Verder teruggedink het Juffrou Van den Berg in standard een vir elke kind in die klas `n Bybelvers gegee as jy verjaar. Myne was Hosea 11 vers 1: 

“Toe Israel nog ‘n kind was, het Ek hom al liefgehad, en Ek het hom, my seun, uit Egipte geroep.” 

Ek weet maar alte goed die betekenis wat ek destyds aan die vers geheg het sal nie die toets van die wetenskap deurstaan nie.  Oor die toets van die tyd oordeel ek anders.

En dan was daar Handelinge 5 vers 20, sommer self raakgelees en gevoel die skoen pas:

“Gaan staan in die tempel en verkondig aan die volk die volle boodskap van hierdie nuwe lewe.”

Hoe kan mens seker wees?, vra die tienerseun my. En ek het geen antwoord gereed nie. Al was daar oomblikke van vaste oortuiging, was daar nie dalk al dae, wéke, lánger, van vertwyfeling nie? Hoe antwoord ek op die vraag sonder dat my teleurstelling blyk, my wanhoop, my worsteling met kerk en wêreld, met mense én met God?

Breek jy die man se spoed? Dominee Piet het nie.

Ek weet nie eintlik nie, begin ek eerlik. Begin jy lyste maak, kry jy oorweldigende getuienis daarteen. Dis heeltemal geregverdig om, as jy al’s opgeweeg het, hier `n buiging te maak. Daar’s ook ander maniere van dien. Roeping is wat jy oorhou as jy teen wil en dank weet jy kan nie anders as om deur te druk nie. Al maak dit geen sin nie. Al het jy geen grond meer onder jou voete nie. Is dit iets bonatuurliks wat jou katswink slaan en laat sterre sien? Nie wat ék van weet nie. Dis dalk `n tikkie domastrantheid, verset. Hantie se mantra is: “Mens moet jou altyd maar eers `n bietjie teësit.” En jy moet vir jou uitmaak of jy vir `n stroom-op lewe kans sien, want dit word nie makliker nie.

Nee, ek jok: een ding word tog makliker. Maar ek het dit nie verklap nie want ek dink half dis nie juis goeie nuus nie: as jy eers daarín is, kan jy nie daarúit nie. Dominee Tony het altyd gesê: “Wat anders kan `n dominee gaan doen? Boontjies plant?”

Nou hoekom dan hoegenaamd nog die pad begín loop, as dit dan meer `n geval van woesteny en klipkussings is, as van maanskyn en rose?

“Jakkalse het gate en voëls het neste, (dominees ook, al is dit bra skraps) maar die Seun van die mens het nie eens ‘n rusplek vir sy kop nie.” sê Jesus in Matteus 8:20

Ons is nóg beter af as Hý.

En dan, die droom. Dis oor die droom dat ons dit doen. Aánhou doen. Die droom van genade wat jou oorval. Die droom wat jy nie in die woestyn, met jou kop op `n klip, kon voorsien of verwag het nie. Die droom wat altyd weer kom.

Hoe vreeslik is hierdie plek!

Advertisements

One thought on “Van stoepsit

Lewer kommentaar

Please log in using one of these methods to post your comment:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s