Regte boeke

Piet en Hay-on-Wye se boekeEk het duur betaal aan die boeke.  Régte boeke, van papier. 

Boeke wat, as jy hulle kry, ruik hulle effens na gom, `n bietjie na boomblare en –bas en `n geurtjie van, wel, waarvan ink ookal gemaak word. Ek flous jou nie, nè? Ek weet nie hoe ink ruik nie, en die boom-en-bas-ding is `n aansittery.

Nou vermoed jy seker ook ek fantaseer, of sommer dat ek lieg. En jy weet ook ek huigel: skryf `n blok en hunker na regte boeke!  Die kritiek is nie ongegrond nie.

Maar ek bewonder `n ou wie se naam op `n boek staan. Ek het nou maar eenmaal `n ding vir boeke.  Regte bóéke.  Ek verbeel my dalk, maar  boekwinkels het `n geur – wat my knieë laat sitplek soek.  Hoe slim dan, dat hulle deesdae leunstoele het, en `n koffieplek in die hoek. Maar sommer `n mat werk ook.

Maar lekkerder as `n winkel is `n winkelsák. Want teen die tyd dat ek die sak in die hand het, is die keuse gemaak en die geld wat ek nie het nie, onherroeplik bestee. Al wat dan oorbly is om die skuld te verwerk (letterlik en figuurlik) en my te gaan oorgee aan die draaie wat `n skrywer my laat loop. En as ek eers by bladsy negentien (huidige gemiddeld) verby is, kan jy maar vergeet van die goed wat ek belowe het ek sal doen.  En ek’s bevrees dis eers dae later dat ek oë knip vir hoe skerp die son is, of die bedlamp, en stadigaan my roetine hervat.  Want ek lees stadig, soms dieselfde bladsy sommer tweemaal, ter wille van die taal, en van die wysheid wat daarin verpak is. Of ek gaan op soek na iets wat ek onthou en weer wil lees, of vir iets wat ek vergeet of moes misgelees het.  Ek léés nie net nie, ek lees wéér, en ek blaai rond.

Ek hou van die vát van `n boek met bladsye.  Ek wil met my vinger plekhou en terugblaai.  Ek wil weer gaan kyk na die hoofstuk se naam, en as die boek dele het, gaan dink oor hoekom. Ek hou van `n stofomslag, van voorbladontwerp, `n profiel van die skrywer en `n lys van sy werk. Maar resensente stel my amper altyd teleur – hulle lof (want wat anders beland tog op, en in, `n boek as net bemarkingslof?) is soms onverbloemde rugkrap of heeltemal kêns.

Net een ding doen ek nóóit: om die einde te gaan lees. Nee, die mense tussen daai bladsye leef, en hulle weet nie wat kom nie.  Ek ook nie.  Ek speel nie god nie. Ek het net duskant negentien gekies om saam met hulle die pad te loop, en nou moet ons saam daar kom.

`n Ander ding het ek my skandelik aangeleer: ek skryf in boeke.  Strepe, sirkels, pyle. Uitroep- en vraagtekens en stukkies kommentaar staan my boeke vol.  Ek skaam my hieroor, maar hoe anders onthou mens op my ouderdom nou nog wat vir jou waarde het?

Klaar gelees, wil ek soms iemand anders aan die geboekte gemeenskappie voorstel, en stop ek maklik die boek in `n hand, sonder verwagting van `n wederkoms.  Maar dit was nie altyd so nie, moet ek erken: want ek hou van biblioteke. Net so lekker soos boekwinkels is die muwwe stofreuk van `n boekkamer.  En iemand se gewaardeerde boekeversameling is die Heilige Graal.  Saam vertel iemand se boeke jou dalk meer as sy bloedgroep.

Daarom bely ek nou hier, vir die eerste keer aan enigeen, dat die dag met die groot trek, toe ek my boekkamer moes oppak, een van my moeilikstes was. Nie net was hulle duur nie, sommiges was erfstukke, en hulle het baie preke tot gevolg gehad.  Ek het `n klomp net daar op my rak gelos, die deur agter my toegetrek en die pad gevat.  `n Handvol het dit tot hier gemaak, maar ek kleef hulle nie meer aan nie. Dit klink nou melodramaties.  Ek bedoel maar net ek verstaan dalk nou beter dat boeke ook `n raklewe het. Nes ek.

Drie biblioteke bly my by.  Die leeskamer in die British Museum: verdieping-hoë boekrakke en `n leserslys wat by jou spook. Die boekkamer in die St. Paul’s Katedraal: kosbare volumes kerktekste wat hulle almal aan God verwonder. Piet se huis: `n versameling wat my vertel van `n man wat meer weet as ek van die kuns van leef en oorleef.

Ons is saam met Piet Hay-on-Wye toe, `n dorpie in Wallis wat van boeke aanmekaargesit is. Dis al wat daar is: boekwinkels.  Die paradys, dus!  Daar’s elke somer `n boekefees, maar jy kan heeljaar daar boeke kry. Ek is met armsvol daar weg. Ek het die frustrasie huis toe gebring: wat lees ek volgende?

En nou wil jy my kom vertel ek sal klaarkom met `n tablet? Basta!

http://www.hay-on-wye.co.uk/

Advertisements

2 thoughts on “Regte boeke

  1. Dis so jammer dat so baie van jou talentvolle skryfwerk verlore gegaan het…maar wie weet, dalk vind iemand ver in die toekoms jou preke; dalk nog na die wederkoms, en begin ‘n nuwe Bybel met ‘n boek met die naam “Hendrik”… Dalk vind jou mooi taal en boodskappe nog hul pad na die regte ore!

    As kind kon ek nooit verstaan hoe een persoon so baie boeke wou he wat hul klaar gelees het nie!? Ek wil mos nie “Lin se vis” hou na die graad twee onnie ons forseer het om dit te lees nie! Maar nou dat ek ouer is en elke keer as ek weer my lewe in ‘n tas pak om op ‘n nuwe plek ‘n lewe te gaan maak, dan verstaan ek… Die ou hoop papiere wat so selde gelees word en elke jaar net meer stof opgaar en net meer swerme goggas voer eindig trek na trek in die “om te hou” tas op, hulle maak dit nie eers tot by die “hospice” tas nie (daar sal iemand meer waarde uit hul kan kry, ek weet dit)! En hulle vat so baie plek! Maar solank my fashionista knee-high boots en fake handsakke nog in my kas pas en so hier en daar die ou botteltjie parfuum van Susan; dan kan die boeke maar bly, of ek hulle nou ooit weer gaan lees of nie, dis net om te weet ek kan!

    1. Ek besef net elke dag meer en meer dat mens geen ou op sy baadjie moet takseer nie. Hier merk ek nou weer ‘n ding wat my opnuut aan die skryf wil sit … aardjie na haar vaartjie … the girl too, may write! Mooi geskryf Marilie!

Lewer kommentaar

Please log in using one of these methods to post your comment:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s