Pos en drank

Daar lê agtien myl tussen Mooihoek en Daniëlskuil. En omtrent net soveel hekke.  Ek wéét, die oop- en toemaak dat die trek kon deur, was die kinders se werk.  En dit was winter. Maar ons is nooit op Woensdae saam dorp toe nie. 

DanielSkuil1Woensdag was posdag. Wel, dan het die drie, soms vier manne – afhangend van hoeveel families vir die vakansie die uittog Noord-Kaap toe aangepak het – beweer hulle gaan dorp toe om te gaan pos haal.  Daar het vir die ses maande na Kersfees, en dan weer vir die ses maande tot Kersfees, geen mens op Mooihoek gekom nie, maar as ons dáár was, móés die pos weekliks afgehaal word. Jy kon dit tog nie laat ophoop nie!

“Pos” was ook proviand.  Daar is altyd `n inkopielys van die vroue af saam dorp toe. Dié dat daar met die terugkoms nie plek vir kinders op die bakkie sou wees nie.  Nee, op Woensdae kon die kinders nie saam nie. Die logistiek laat dit net nie toe nie.

Later het hulle op die plan gekom om een van die klonkies te betaal om saam te ry. Hy kon die hekke oopmaak.  Ek sê met goeie rede “oopmaak”. Die bakkie sou nie sommer stop nie. Die seun moes afspring, vooruit hardloop, die hek oopmaak, die kar deurlaat, die hek toekry en rieme neerlê om die bakkie weer in te haal.  Daar het menige hekke oop bly staan, en oom Koos se beeste het tot groot gramskap op buurman se grond gevreet. Dis eers as die hek nie wil oop nie dat die manne agterkom die knapie het by die laaste een agtergebly. As die hek-seun dan saam met die bakkie die dorp sou haal, kon hy sommer ook die kar vol voorraad oppas, sou die manne dalk elders moes in. Mens weet nooit…

Daai agtien myl en sy plaashekke was amper `n dagreis te perd.  Daar is altyd pad gevat om die poskantoor voor sluitingtyd te haal, net voor middagete.

So gaan die dorp mos smiddae eet en rus, om eers so teen drie-uur weer wakker te word en oop te sluit.  Dan sit die manne wat net betyds die pos afgehaal het, met die onvoorsiene probleem dat hulle uitgesluit is, met nêrens op die dorp om die tyd te verwyl tot die winkels weer werk nie.  Want die kos moet nog gekoop word.

Gelukkig dan vir die kroeg by die hotel wat op dié Woensdae dat Mooihoek mense het, oopbly. Gasvrye mense die Noord-Kapenaars.

Ook goed so dat die kos dan nog nie gekoop is nie, want die goed op die vroue se lys kon immers nie in die winterson agter op die bakkie lê terwyl die manne gou by die kroeg inloer nie?

Maar dis nou die ding wat vroue nie kan kleinkry nie, en daarvoor moet ons hulle maar vergewe want hulle leer moeilik: `n kroegkuier is nes die liefde – jy draai hom nie met `n kraantjie oop en toe nie. Die vroue self het ons dit van die liefde geleer, maar hulle bly nie konsekwent in hulle toepassing van die beginsel nie. Foeitog, hulle kom maar net nie met die logika reg nie. Nie almal se bier is tog op dieselfde tyd klaar nie, en jy loop mos nie voor die ander ou sy dop opgedrink het nie?  En jy kan mos nie sommer die pad wil vat voor die ouens vir wie jy die rondte betaal het, nie almal kans gehad het om die dieselfde te doen nie? Dis kroegkultuur!  Destyds se vroue sou natuurlik nie veel daarvan geweet het nie, want dit was in die dae toe hulle nie in kroeë gekom het nie.  En benewens al die ongeskrewe reëls waarvan die Emsie Schoemans geen snars sal weet nie, moet jy ook onthou manne met vakansie en boere uit die Noord-Kaap is almal ewe gemoedelik. En gasvryheid, vryelik gegee, moet duidelik gewaardeerd ontvang word.  Dis net goeie maniere.  Dís al moeilik vir `n vrou om te snap, maar as die Wallabies op toer nou nog teen die Oostelike Provinsie speel, en die kroeg kan Radio Suid-Afrika opvang – op Mooihoek werk geen radio nie – hoe kan hulle verwag `n mens moet jou wegskeur van die eendrag in skande te midde van so `n pak slae?

En, heeltemal te verstane, word die twee ure tussen drie en vyf (wanneer die algemene handelaar weer oop is) dan heelwat korter as wat mens regtig nodig het om al jou besigheid af te handel. Gelukkig, oor die kroeg ook sommer die Off Sales is, kan mens die hotel oortuig om selfs na-ure nog die bakkie te laai met die vloeistowwe wat mens in daai half-woestyn teen die groot dors nodig het.

Die pos en drank het dus altyd by die opstal aangekom.

Dis net die klein onbenulligheid van die kos op die inkopielys wat soms uitgebly het. Maar die ander geluk was dat, as die vroue nou regtig daarop aangedring het (want wat mens nou meer kan nodig hê as jy bees geslag het, weet nugter –  behalwe nou die keer toe die manne die melkkoei doodgeskiet het) was daar darem nog altyd Donderdag.

Advertisements

One thought on “Pos en drank

Lewer kommentaar

Please log in using one of these methods to post your comment:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s