Taal en teologie

`n Mens kan oor enige ding praat.  Maar jy moet weet hóé.

Ek vermoed daar’s min wat nie in die fyn net van die woord vasgespin kan word nie.  Dié dat woordeskat belangrik is, want jy kan met die regte woorde soveel beter sê wat jy bedoel. Maar jy moet ook weet hoe om hulle in te span: sinne moet sin maak. Maar goeie sinne is nog net versending.  Eers as jou bedoeling anderkant aankom, het jy kommunikasie.  Een van die goed wat ek van vertaalstudie onthou, is dat jy moet verseker, nie dat jy verstáán word nie, maar dat jy mísverstand vermy.  Glo my, daar’s `n verskil.

Micro_ChipOns gaan tegnologies vooruit deur fyner te kyk, met x-straal en infrarooi, na atome en na sterre; en met instrumente te vat waar vingerpunte nie kan bykom nie, in harte en harsings, tonnels en skagte, ekspedisies na Mars; en fynproewer kokke leer ons smaaksintuig nuwe geure, van soutige karamel tot knoffelroomys; en ons is heeltemal oortuig dat ons die Issey Myaki tussen die Prada, Dior en Burberry kan uitruik – hoekom anders daarvoor so duur betaal?  Ons neig na altyd meer sekuur te wees: met geleiers in mikroskyfies, nou al só klein dat net masjiene die goed kan vervaardig, klein skyfies wat industrieë dryf en die wêreldekonomie in stand hou; deur tyd in nanosekondes te meet, en die aarde se ouderdom in al hoe meer ligjare te sien verskiet. Maar helaas, vermoed ek, ons word al hoe meer ongeërg oor hoe om taal te gebruik.  Die takelwerk van die woord rafel uit. Trouens, ons is méér as net onverskillig. Toegegee: ons het taalvaardigheid met -suiwerheid verwar, en baie vervreem. `n Hele geslag het vieserig besluit: wie gee om hóé ons praat, solank ons práát? Of SMS?

“Praat” is nie gesels nie.  Om te hoor en gehoor te word is om geraas te maak, nog nie om te kommunikeer nie. (Dog, beweeg en geraasmaak het ook sy waarde!) Om taal af te skeep is om onverskillig te raak oor die goed wat tussen mense gebeur.  Woorde skep wêrelde, taal is gedinkte werklikheid. Gesprek is om sáám te beleef, begrip is gedéélde verstaan. Kommunikasie baar kennis, en eers in erkenning word kennis ook wysheid. Taal is ons hoogste goed. Om taal te verwaarloos is om die beste wat ons kan wees – deernis, genade, liefde, passie, ekstase – te gering te skat om te wil deel.   Dog, ironies genoeg, is al die goed net in gemeenskap moontlik.  Taal vergestalt mens, mense konstrueer waarheid.

Ek breek dus hier `n lansie nié vir taal om taal s’ ontwil nie.  Ek pleit vir menswees. Ek wil daaraan herinner dat die eerste geleerde taal, akademiese taal, wetenskaps- en vaktaal, godsdienstig was.  Teologie was die eerste wetenskap, en denke oor God was die eerste eksperiment in formulering vir akkuraatheid.  Kritiese taalgebruik het met God begin, krities omdat jy dit nie gewaag het om met God sommer ligtelik om te gaan nie.  Pasop tog om die teologie vlak te vat!

Hoe het ek vandag hierby uitgekom, wil jy weet?  Op 9 Mei verskyn `n eerste Engelse vertaling van pous Fransiskus (alweer die Roomses, hoor ek jou kla) se nuwe boek On Heaven and Earth (Oor Hemel en Aarde). Drie aanhalings het by voorbaat die pers gehaal (my eie vertaling):

  • Oor dogma: “Godsdienstige waarheid verander nie, dog dit ontwikkel en groei.” Kom ons stel vir net `n oomblik ter syde die Roomse geneigdheid om te glo dat die kanon, die norm waarop geloof berus, saam met die tradisie groei. (Dis Rooms om te beweer dat die Bybel nie al is wat jy hoef te glo nie.)  Kom ons hou `n oop gemoed en gee die voordeel van die twyfel: dat “godsdienstige waarheid verander nie” tóg ook kan beteken die kanon is afgesluit. Dan sê Fransiskus moontlik dat die taal wat ons gebruik om daardie waarheid uit te beeld, tot nuwe insigte en toepassings lei. Sien jy waarna ek mik? Taal en teologie is pasmaats. Taal kan bepaal wat ons glo.
  • Oor die selibaat: “Dit gaan oor dissipline, dis nie `n saak van geloof nie. Dit kan verander.” Dis taal wat dit moontlik maak dat ons fyn kan onderskei tussen wat wesenlik en wat middelmatig is. Alle etiek is immers randeier-ooloë en teekoppie-storms. Oor etiese kwessies soos, onder andere, eengeslag-huwelike sê hy: “Ons moet ons duidelik uitspreek oor waardes, grense, gebooie… Maar geestelike en pastorale teistering mag nie.” Oor spesifiek die selibaat sê hy: “Vir tyd en wyl kies ek om die selibaat te handhaaf, met al die voor- en nadele daaraan verbonde, want ons het daarvan eeue se gunstige ondervinding, veel meer as verleentheid.” Nou verskuif taal toepassings van wat ons glo op hoe ons leef.
  • Oor leierskap: “`n Slegte leier is selfversekerd en hardkoppig.”  So sê die “onfeilbare”. Nou die dag, in `n preek oor die Godsbegrip raak hy toe ook kwyt: “Ons is almal sondaars – ons het altyd iets mis. Maar God vergewe.” En die keer bepaal taal ook hoe ons kyk na kerk?

Taal help om te kan beter sê wat jy bedoel. Hoeveel keer kla ons nie ons is verkeerd verstaan of uit konteks aangehaal nie? Maak jy erns met taal, is mense en menswees vir jou belangrik, en maak jy ook erns met God.  Daar was `n tyd toe ons beste, ons taal, en God sinoniem was. Kom ons werk mooier met taal, met mekaar en met God. Dis waarvoor ek pleit.

Die woord van God is lewend en kragtig. Dit is skerper as enige swaard met twee snykante en dring deur selfs tot die skeiding van siel en gees en van gewrigte en murg. Dit beoordeel die bedoelings en gedagtes van die hart.  HEBREËRS 4:12       

Advertisements

Lewer kommentaar

Please log in using one of these methods to post your comment:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s