Presidente en presedente

“Moet op prinse nie vertrou nie,” sê die ou Psalm.  Want hulle kom en gaan.

Dis beslis die jaar vir hello en koebaai.  Sommiges was te wagte, en ander het ons onverhoeds betrap.  Party maak weer meer saak as ander.  Dog elkeen van hulle was betekenisvol genoeg (indien dan nie “belangrik genoeg” nie) om darem `n paar mediareëls te verdien.

Margaret Thatcher, `n presedent, is verlede week begrawe teen ses pennies uit elke Britse sak.  En is hulle nie daaroor bietjie vies nie!  Die dood van die Ystervrou het die tonge los oor wat ons van haar erf – en wat ons nog steeds aan haar betaal.  Wel, visionêre leierskap is wat ons van haar mis, sê hulle: persoonlikheid!  Want, wil hulle weet, wie is haar gelyke?

Wat, wil ek ook weet, laat ek agter as ek gaan?  Hoe dink ons oor nalatenskap?

Benediktus 16, Prins van die Kerk, het die eerste pous die agelope 500 jaar geword wat doodluiters afgetree het.  Hy het net die stoel warm gehou, word nou gesê, noudat Fransiskus die kerkewereld aan die gons het oor vroue, selibaat, sonde en onfeilbaarheid. Ek het oom Ben se hand kon skud en op my het hy `n merk gelaat. Maar die wêreld onthou hom nou as die pous wat net wag gehou het oor die Kerk toe die Vatikaan soos Sodom aan seks gely het. Ta’ Margaret was gelukkiger as oom Ben: sy was die kaas op die toebroodjie, hy was net `n naelstring.

Willem en BeatrixIn Den Haag word beplan vir Dinsdag se kroning van Nederland se koning, Willem-Alexander.  Sy ma, die gewilde Koningin Beatrix, abdikeer.  Konings en koninginne, nes pouse, priesters en predikante, het lankal nie meer mag nie, en vir die vuurvreters is hulle almal ewe irrelevant.  Dog dit sou `n fout wees om te dink niemand steur hulle meer veel aan hierdie uitgediende ampte nie. Dié dat soveel haatspraak teen hulle gerig word.

Italië se 87-jaar oue president, Giorgio Napolitano, word toe ook dié week presedent: hy is noodgedwonge ingesweer vir `n ongehoorde tweede termyn, oor niemand anders gevind kon word om die werk te doen nie. Politikus wat hy is, sou jy jou seker meer aan hom kon steur as aan dominees, beweer die tydgees. Maar het as jy al ooit tevore van hom gehoor?

Vroeër is die “van-alle-onlangse-presidente-seker-die-maklikste-om-te-oorwin” Barak Obama weer ingesweer as die wêreld se magtigste man, sommer by voorbaat al lamgelê deur die Republikeinse Kongres wat doodluiters hulle samewerking op alle terreine gaan weerhou tot `n beter president kom oorvat. Van Obama het ons al almal gehoor, maar dit lyk my hy’s ook maar net daar oor Amerika niemand anders kon kry vir die joppie nie.

Uit die Vaderland kom nuus dat oud-president Nelson Mandela se nalatenskap dalk `n vrolike familie van geldwolwe kan wees. Twee kleindogters doen die Osbornes en Kardashians na in Being Mandela, `n dogter bemark House of Mandela wyn en veg om beheer van Mandela se kunswerke om die tantieme in te palm, en sy kleinseuns gebruik die Mandela-naam om `n boksgeveg in Monaco dobbelhuis te reël.   Dit terwyl die ou man ál broser lyk, en die land regstaan vir die onafwendbare.

Hulle kom en gaan, ons prinse en presidente.   Nie een van hulle is god nie. Ek ook nie.  Ek hoop maar niemand wil kom dans op my graf nie (net vir ingeval gaan ek veras).  Ek dink ook nogal om `n naelstring te wees is na alles nie so sleg nie.  Onmerkwaardig, weggooibaar, dog ook nie heeltemal sonder betekenis nie. (Onthou jy daai advertensie: “Not too shabby eh, Nige’?”) Dit hang seker net af wie jy waaraan vasmaak en die lewe wat daaruit kom.  `n Presedent dus: net `n klein bietjie anders.      

Advertisements

2 thoughts on “Presidente en presedente

  1. Ja hulle sterf, dankie tog! Al vat net altyd so onnodiglik lank, dit herinner my aan die “Old Right” wat met die aanloop tot die Tweede Wêreldoorlog uitgeroep het Hang Hitler, Churchill, Stalin en Roosevelt en hang hulle almal saam.

  2. Jy moet ook net hoop niemand plak jou as in ‘n motorhuis neer tussen ‘n klomp gereedskap nie. Dit sal nie werk nie, veral om jy in jou lewe nie eens van gereedskap gehou het nie, nes my Pa!

Lewer kommentaar

Please log in using one of these methods to post your comment:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s