Nuwe Niko-tien!

Langs Cannon Street staan hy, skuins oorkant die stasie, op die sypaadjie, lewensgroot:  Nico.

Om eerlik te wees, hy het daar gestaan: hy’s nou weg, vandat hulle daar begin bou het.  Nee, nie regtig Nico nie, sy standbeeld.  Nee, seker ook nie eers sy standbeeld nie.  Dit is `n beeld, maar nie `n standbeeld nie. Dis maar ek wat die mannetjie so gedoop het.  Sy regte naam is “Life Trader”.  Ek noem hom Nico want die ewige selfoon teen die oor is op `n haar na Nico!

Life Trader by Cannon Street, Londen
Life Trader by Cannon Street, Londen

Nico (die beeld) beeld die doring in my vlees uit. Ek het `n kilimanjaro in my skoen oor hierdie nuwe verslawing aan wat “in my tyd” nog selfone genoem is (want vir bél is hulle lankal nie meer bedoel nie…).

Toe hulle nog fone was, kon ek die verdraagsaamheid bymekaarskraap. Op `n dag, omtrent tien jaar na die res van die wêreld al een gehad het (ek het die baksteen-fase heeltemal vrygespring), het ek een present gekry: ek is jammer gekry oor ek nie self een het nie! Ek het die eienaar geword van `n sakpas klein Nokia. Daar was ook `n nommer agter die naam wat ek nou vergeet het, so ek gebruik nou maar die nommer tien simbolies en met verwysing na  Blake Edwards se nul tot tien skaal vir `n skraal lyf, uit sy fliek met Bo Derek wat soos `n nimf uit die see opkom. Geseënd met my nuwe Nokia 10 (?), was ek nou altyd binne almal se bereik en te alle tye tot almal se onmiddellike beskikking.  So nie, was ek `n verduideliking verskuldig en moes ek berouvol om vergifnis pleit.

Die verslawing is oombliklik.  Oombliklik en totaal.

Terugskouend besef ek nou eers hoe slinks Satan die vokale omgeruil het. Nes op langspeelplate uit die sewentigs. Ek moes van beter geweet het, ek was immers toe `n tiener.    Nokia 10 is wat daar staan, maar “Aa Niko!” is wat bedoel word.  Soos in: “Aa, Nico, ek het jou!” waar “Nico” (seker in Noorweegs gespel “Niko”) staan vir enige selfrespekterende jongman wat in die ondermaanse wil vooruitgaan. Aa Niko 10.

Haai, wat `n toeval, nè: ek dink nou eers daaraan hoe dit klink na nikotien! Dit verklaar dalk hoedat die ding so heeltemal beheer oorvat. Wie sou kon dink dat die twee so in verband staan: rook en foon?

Die nuwe Niko-tien is darem seker `n meer sosiaal aanvaarbare verslawing as om aan `n kankerstokkie te suig dat jou wange induik, en dan jou rookasem  in beperkte ruimtes uit te blaas? Wel, is dit?

Nou kyk, ek het reeds gesê ek kan dit uithou moet selfone.  Toegegee, seker net  tot op `n punt, want padverkeer beweer ongelukke kom van eenhand-bestuur terwyl jy op `n selfoon praat.  So goed (sleg) soos dronkbestuur.  Maar toe, hierdie week: in die middel van Cleo se toespraak – ons het duur betaal om die vrou uit Switserland in te vlieg en in `n Londense hotel te laat slaap net sodat sy voor `n uitgelese gehoor haar seën kon kom uitspreek oor ons nuwe onderneming – in die middel van haar voordrag lui `n selfoon kliphard hier langs my op die verhoog. Hy lui.  En hy lui.  Hy hou op met lui, en lui dan weer. En weer.  Hier reg langs my, sodat dit lyk of dit myne is.  Die hele gehoor gluur my aan.  Want hier vlak langs die tafel het iemand sy foon kom inprop om te laai en nou weier hy om die ding te kom stilmaak en so te wys dis syne.

Ek moet erken ek het ook al my foon aan vergeet, maar ek het nog nooit die ding al luiend uit `n erediens uitgedra om hom eers buite te gaan antwoord nie.  Hou net aan, Here, ek gaan net gou met Gert gesels oor die rugby.  Ag, gaan solank maar aan met die nagmaal, dominee, ‘Nou terug! Soos iemand nou die dag ook in Skyfall gemaak het: maar nou moet ek sê, dié man in die teater was seker net bedagsaam met dié dat hy nie vir ons die fliek wou bederf deur in die teater al sy foon te antwoord en met sy eie gesprek te begin nie? Daarom het hy hom laat lui tot hy buite kom.

Maar selfone is deesdae soveel meer as net fone, is dit nie…?  “Mobiles” noem hulle dit nou hier, waaragter jy “phone”, of “computer” kan byvoeg, maar “mobiles” is al genoeg.  Ek gaan, by gebrek aan iets beters (laat weet as jy `n alternatief het) “moebies” in my Afrikaans invoer, om verskeie redes, nie almal goedbedoeld nie:  dit trek op “mobiel” soos in draagbaar, en dit klink effens na “moewies”, slêng vir flieks.  Want as Norma Desmond, die tragiese heldin van die “silent movies” in Sunset Boulevard kla hulle wil haar nie net kan sien nie, maar ook hoor, wil moebies nie net jou ore nie, maar nou ook jou opeis.

Ek het dit gesien kom, met selfone al (dis nou moebies se voorgangers, verstaan?) Selfoon lui in middel van gesprek… en hou aan met lui terwyl my gespreksgenoot sy sakke deursoek vir die ding, sy aandag lankal nie meer by my nie.  Maar ek vergewe hom, want hy wil die geraas wat my onderbreek stilmaak dat ek my sê kan klaarsê.  Aa, hy vind hom.  Maar nee, hy druk hom nie dood nie.  Hy moet eers kyk wie bel sodat hy kan besluit wie’s belangriker: ek of die beller. Antwoord gerus, sis ek deur my tande.

Hoeveel keer moet ek in voetgangerverkeer uitdraai vir gebruikers wat kop-onderstebo loop, die ore ingeprop en die oë vasgenael op die moebie?   Die voortploeterende drommels kom ongedeerd by hulle bestemmings aan oor almal uitswaai en plekmaak vir die moer met die moebie.  Skuus, maar nou weet jy van nog `n rede vir die naam.

Nuwe nikotien, `n totale verslawing, `n onbedagsame vergryp, `n sosiale euwel: moebies.

Dog, so word ek wysgemaak want self verstaan ek tog daar geen snars van nie, jy kan met “apps” en “android”, “touchscreen”, “Generation 4 GPRS” en dergelike foefies wondere verrig met moebies, wat nou weer, terloops, so groot (dog platter) word soos Nico se baksteen in Cannon Street.  Klink soos iets wat ek ook wil hê, as ek net nie my goeie maniere aan die verslawing moes prysgee nie.           

Advertisements

One thought on “Nuwe Niko-tien!

Lewer kommentaar

Please log in using one of these methods to post your comment:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s