“Rust in peace”

`n Groet aan die Ystervrou.  Sy het die afgelope week beswyk en laat blyk sy’s ook maar net van vleis en bloed. 

Margaret-ThatcherMaar op die jubeling, die viering, die naakte haat, was ek nie voorbereid nie.  Waar ons vandaankom was daar agting vir die vrou in blou snyerpakke en systrik-bloese. (Ek het my eerste kat na haar vernoem.  Katliefhebbers sal verstaan.)  Hier ook, was daar aanhang, kom ek agter toe ek die saak met Jimmy die taksieman aanroer.  Sy kry immers hierdie week `n begrafnis uit die volk se allerheiligste heiligdom.

Vanaand het BBC `n dokumentêre huldeblyk uitgesaai: `n rewolusionêr, doop hulle haar, wat ewe min geliefd was deur haar Konserwatiewe kollegas as deur die Arbeider opposisie. Blykbaar oor sy meer oor die werkers besorg was as wat óf die Tories óf die Arbeiders dit was, tot beide se skande.

Maar die volk het vir haar gestem, elf jaar na mekaar. Oor sy hulle `n vryheid kon gee – “Freedom” was haar mantra – wat geen ideologie jou gun nie.  Interessant dat die hervormings wat sy ingevoer het, sedertdien nie weer verander is nie, al het aldrie partye nou al `n beurt gehad om te probeer. Sy roes nie. “The lady is not for turning!”, nou nog nie.

Dog, van Trafalgar Square tot op Sondag se weeklikse “popcharts” (gebaseer op werklike verkope die afgelope week) is die refrein: “The wicked witch is dead!”, `n psalm op `n wysie uit  The Wizard of Oz.  Net vyf sekondes van die lied sal môre uitgesaai word, gevolg deur `n verduideliking van die politieke boodskap daaragter, want die hele ding is te onsmaaklik: maar dis `n topverkoper danksy `n facebook haatveldtog, en die “charts” moet dit weergee. Die sosiale media vertel met lis hoe daar gesuip gaan word, en hoedat sy vervloek en die hel toegewens word.

Die BBC staan, as openbare uitsaaier, onder verpligting om met ewewigtigheid verslag te doen.  Die “Beeb” leef immers van lisensiegeld. En wat weer eens uit verantwoorde joernalistiek duidelik word, is die enkele vereiste van suksesvolle politiek: Alzheimers. Glo my, ons pa is aan die siekte dood: ek spot nie. Dit vreet jou geheue, sodat jy tot in die baarmoeder terugskulp.

Die Britte onthou nie.  Hulle onthou nie die gemors waaruit sy hulle verlos het nie. Vergewe hulle, sou ons om versagting kon pleit, dis darem al lank gelede…  Maar die vorige Arbeider-regering se kritiek op huidige beleid en hulle grootse alternatiewe, laat my na my asem snak oor hoe korttermyn die politieke geheue moet wees. Jou magsug werk sagkens met jou sonde.

Die Godsvolk moet werk aan die geheue.  Van Bybel-leer tot erediens hou, dis om herinnering in die hand te werk.  Israel moet onthou:  Israel moet van hulle sondeval weet en hulle moet onthou hoe God hulle daaruit gered het.  Sodat hulle kan leer om dit nie (te gou!) weer te doen nie, en dat God hulle eindelik (altyd!) weer sal help.

Margaret Thatcher is nie God nie. Nie eers `n god nie.  Sy was `n vrou.  Sy was die dogter van `n kruidenier wat vir sy gesin `n tuiste geskep het bokant hulle kafee op die hoek. Sy was die eggenote van `n man wat haar liefgehad het en vir wie sy lief was.  Sy was ma van twee kinders, waarvan een `n teleurstelling is. Sy roes nie, sy sterf.

Daar’s gerugte dat sy in brons gegiet `n staanplek op Parlementsplein kan kry, iewers neffens ons eie oom Jannie en kameraad Nelson.  Maar tot Woensdag toe is Londen se Metropolitaanse Polisie volsterkte op straat om die feeskomitees en die begrafnisgangers teen mekaar te beskerm.

Rus in vrede, tannie Margaret.

Advertisements

Lewer kommentaar

Please log in using one of these methods to post your comment:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s