Skeppingsorde

Die debat oor eengeslag-gesinne stuur my op soek na teologiese gronde vir die huwelik. 

Ek het talle troues gehou.  Ek dink my prediking was telkens op die geleentheid van toepassing, of darem minstens op die konteks.  Maar onderliggend, besef ek nou, was my vertrekpunt `n voorveronderstelling dat dit so, en ook nét so, hoort. Noudat die wêreld om my die definisie van wat huwelik is, wil oorskryf, besef ek dat ek nog nie naastenby so deeglik daaroor gaan nadink het as hierdie ouens nie.

Me Heidi Gehman (Mei 12,  2009 http://www.patheos.com/Resources/Additional-Resources/Theological-Meanings-of-Marriage.html ) is duidelik Katloliek. Maar sy gaan billik om met wat Protestants is.

The Christian tradition has held the view that marriage is between one man and one woman,” sê sy, en voortvloeiend hieruit “Three basic theological goods that result from this union are companionship and conjugal love, procreation, and family as the basic unit of society.”  Dadelik gaan krap sy in Genesis rond:  God skep ons na sy beeld, man en vrou, en die vermoede ontstaan dan dat “the image of God is expressed not just in the individual, but in the unique form of companionship between a man and a woman. Marriage as sacrament expresses this; it conveys something about the relationship humans should have with God and with one another.” 

Marriage CrossEk het nog geen grond onder my voete nie, net `n vae vermoede… En my voorkennis wil dit hê dat dit alles waar mag wees (buiten die sakrament-status van die huwelik wat hier bygesleep word!), maar dat die gevolgtrekking elders in die Bybel met meer oortuiging afgelei kan word.

Die huwelik gaan dus in vervulling in seks, as kinders verwek word, en gesinne tot stand kom wat op hulle beurt die boustene word van die menslike gemeenskap, sê Gehman.  En, gaan sy voort, elkeen van die tradisionele toepassings hiervan op heteroseksuele huwelike kan ewe maklik in eengeslag-huwelike werk.  Nie dat sy dit voorstaan nie; sy stel bloot twee kante van die saak.

Op die oomblik is die teen-argument nie vir my so belangrik nie.  Belangriker is dat ek my eie kop aan die kant moet maak oor wat ek glo.

Skeppingsverordening: Mens is man en vrou

Teenstanders van eengeslag-huwelike gryp na “skeppingsorde”: God het dit so geskep, só en nét so moet dit wees en bly. Ek het regtig vrede met konsekwent wees: gebruik jy een uitgangspunt in hoe jy jou werklikheid konstrueer, moet jy end-uit daarby hou.  Laat my onmiddellik bysê: uit ondervinding weet ek dat geen enkele paradigma die volle waarheid of die hele werklikheid kan kleinkry nie.  Dis wanneer denksisteme besef dat hulle tekortskiet, dat hulle woedend laer trek en voorskriftelik raak:  en siedaar, `n nuwe ideologie is gebaar. Om konsekwent te bly aan jou vertrekpunt, gaan jy moet toegee daar’s ander moontlikhede ook. Nou sukkel jy weer met relatiwisme en pluralisme, maar dis die werklikheid…  Dis die gatslag van konsekwent wees: die werklikheid speel nie saam nie. (Daarom hou ek van Hegel.) Die dat ek klaar vermoed hier kom moeilikheid: skeppingsorde alleen het nie al die antwoorde nie. Gevolglik: herskeppingteologie…

Skepping en herskepping: Een en dieselfde God

Die Volksblad het op 10 Mei 2005 `n artikel van professor Johan Janse van Rensburg, hoof van die departement praktiese teologie aan die Universiteit van die Vrystaat gepubliseer. (Dankie internet!)

Hy kla, nes ek, dat skeppingsteologie en herskeppingsteologie teenoor mekaar geplaas  word.  Dan skryf hy: “Dit behoort nou duidelik te wees waarom daar so fanaties gepoog word om ‘n skeppingsteologie teenoor ‘n herskeppingsteologie te plaas. As die skeppingsorde nie meer geld nie…, dan is ons almal gelyk in Christus en geld die man/vrou-geskapenheid nie meer nie en kan gay huwelike ook as deel van die herskepping in Christus geld. Dié bondige uiteensetting behoort dit egter duidelik te maak waarom daar nie sprake van ‘n teologiese keuse tussen skepping en herskepping kan wees nie. Toornvliet (dogmatikus) vra tereg: Hoe kan Christus as Verlosser teenoor God as Skepper staan? Wie só te werk gaan, luister nie langer na die Skrif nie. Daar word dus ten onregte en verniet pogings aangewend om teoloë wat nog die skeppingsorde handhaaf te diskrediteer.”

Ek is dit met hom roerend eens:  natuurlik kan ek nie Skepper teenoor Verlosser stel nie.  En baie beslis vervang Christus geen skeppingsorde nie.  As dit vir my so lyk, lê die fout net by my; God het my beslis nie met die Ou Testament mislei nie (Janse van Rensburg)! As, noudat ek van Christus weet, dit blyk dat die skeppingsorde dalk anders kan werk as wat ek voorheen vermoed het, moet ek my maar aan Christus ook steur.  Daarmee het ek nie gesê ek gaan die Ou Testament versnipper nie (daarteen waarsku Janse van Rensburg ook).  Inteendeel: ek is meer as ooit gedring om die héle Skrif ernstig op te neem, want Christus is een en dieselfde God wat skep en orden. Maar ek kon my dalk misgis het met presies wat die verordeninge is wat God met skepping vestig… Anders gesê: ek kies nie vir `n herskeppingsteologie wat die skeppingsteologie vervang nie, maar glo dat in Christus die skepping in vervulling gaan.  Ek gebruik Christus nie as `n hermeneutiese sleutel (lees “voorskrif”) vir besinning oor die Ou Testament nie – die Ou Testament moet tot sy reg kom as volledig en geloofwaardig deel van die hele Skrif waarin God betroubaar geopenbaar word.  Ek wonder net of ek die skeppingsverordeninge reghet.  Byvoorbeeld: as God geslagte skep, is daarmee menslike verbintenisse en verhoudings net geslagtelik moontlik?  Is oor God mans eerste skep, vroue tweedeklas?  ( Ek oordryf ter wille van die argument, maar hou dit met my uit.)  Ek dink van nee.  Sit die verordeninge dan nie dalk in iets anders nie? (`n Ander manier om soos Gafie te wonder of `n meer genuanseerde antwoord nie beter is nie.)

Dis hier waar my metodiek getoets gaan word: as ek, na Christus, nog die skepping in terme van verordeninge wil verstaan, sou ek verwag dat die sonde sit in mense se minagting daarvan. Let Wel: ek sê nie “oortreding daarvan” nie.  Die sonde waaraan ons skuldig is, lank voor ons nog enige oortreding begaan het, is dat ons God verag (haat). Voortspruitend uit veragting, verwerp ons wat Hy verorden het.  Anders gesê: ons doen bloot wat ons goedvind.  Ons neem vir God net nie ernstig op nie. As Christus ons dan versoen met God – dis waarvoor Hy ons oortredinge van ons wegvat – en ons verhouding met God herstel, is ek geneig om te dink dat die skeppingsverordeninge wat ek kan waag aflei uit Genesis en elders – verordeninge wat weens sonde in die slag moes gebly het – gaan saamhang (indien nie ten nouste gaan saamhang nie) met wat Christus kom regmaak het. Om skepping en herskepping van mekaar te wil skei en dan daaruit teologieë te wil formuleer wat nie met mekaar in verband staan nie, dien geen waarheid nie. Maar die een vervang ook nooit die ander nie.

Volledig mens 

Ek pleit vir `n wyer blik op skepping: Christus verlos mense, ook vroue. Daar is nie verkillende verlossers vir mans en vroue nie.  Genesis se “man en vrou  het Hy hulle geskep” beskryf `n gegewene, nie `n verpligting nie, sodat niemand een van die twee geslagte se geskapenheid deur God kan bevraagteken nie, en sodat niemand die mensheid van een van die twee geslagte sal onderskat nie.  Ook nie oor hulle gelykheid nie. Daar word met groot sorg vertel hoedat die vrou in wese mens is, dieselfde vleis en bloed, die man se gelyke, “een soos ek”. Vroue is nie mutasies van mans, of mans met gebreke nie!  Nie geslag nie, maar die mensheid van beide mans en vroue is verteenwoordigend van God, en is op die een of ander manier uitdrukking (beeld) van God.  Mans en vroue word ook nie eers mens as hulle geslagtelik een word in die seksdaad asof geskapenheid van prokreasie – eenwording as oplossing vir eensaamheid (tweede skeppingsverhaal)  – afhang nie, al impliseer ons dit maklik in troupreke (na aanleiding van die tweede skepppingsverhaa1)… Man en vrou is elkeen volledig mens, skepping en uitdrukking van God.

Mense heers

Hiermee verweef kom die mens (let wel “mens”, nie “man” nie) se vermoë en opdrag om oor die skepping te heers ter sprake. Dat mense oor skepping moet heers, is skeppingsverordening, skeppingsdoel. Ek dink nie die vroulike mens is van die verantwoordelikheid om te heers kwytgeskeld nie.  Inteendeel: Genesis 1 vers 26 vertel van God se belsuit: God gaan die mens skep wat oor die skepping sal heers.  Vers 27 sê God skep toe hierdie mens, man en vrou. In vers 28 beveel God hierdie mense (sonder onderskeid tussen die man en vrou) om te gaan heers.

En mense het lief

Die tweede skeppingsverhaal stel verhoudings aan die orde, menslike verhoudings onderling en die mens se verhouding tot die hele skepping, asof Skepping 2 die heeerskappy-opdrag van 1 verduidelik. Veelseggend dat God weet van die mens se eensaamheid, voordat die mens dit nog self agterkom (2:18, dan 20).  Die eerste mens se eensaamheid en die verlange na `n maat is grondliggend aan die skepping  van die tweede mens.  Maar die eerste mens se eensaamheid is nie `n fout van die Skepper of `n tekortkoming in die skepping nie.  Juis oor God eerste van die mens se eensaamheid weet, vermoed ek is die verhoudingsmatige wesenlik menslik, `n skeppingsgegewene, dog tegelyk ook iets wat die mens eers mettergaande self agterkom.  Terugskouend uit Johannes 1 kan ons vermoed (ek gaan nie voorgee ek kan my met stelligheid uitspreek oor die wese van God nie!) dat ons met mekaar in verband staan in moontlike afskaduing van die Drie Eenheid.  Met die verband tussen die Drie Persone het ons gewis ook met iets soos verhoudings te make.  Hoe dit ookal sy, menslike verhoudings is duidelik in die raam van skeppingsverordening, as skeppinggegewene.  Let wel, menseverhoudings en nie net verhoudings tussen man en vrou nie, is in die skepping aan die orde. Nuut aan Skepping 2 is dat die mense wat in 1 bloot opdrag kry om oor die skepping te heers,  nou leer van hulle aangewesenheid op mekaar, hulle onderlinge afhanklikheid van mekaar en hulle vir-mekaar-beskorenheid, hulle verantwoordelikheid vir gesinne en hulle verband met gemeenskap. Hierdie inter-menslikheid reik verder as net tussengeslagtelike verkeer, hoewel dit op man-vrou verhoudings geskoei word.  

Maar laat my dit weer beklemtoon: selfs enger toegepas op mans en vroue kom ek steeds geen rangorde agter nie.

Later blyk menslike verhoudings se eie imperatief, nes heerskappy ook aan mensheid eie is:   Wees lief vir mekaar, sê God. Wees lief vir God, sê God. Dis immers wat Moses en Jesus ons vertel God van die begin af al wil hê. Skepping en herskepping kom in minstens hierdie opsig op dieselfde neer, dat mense aan liefde gestalte sal gee.

By implikasie durf ek dit (moedswilliglik!) vra: moet vroue ook liefhe soos mans?

Vroue in die kerk

Ek herinner my aan die onlangse debat in die Anglikaanse Kerk, wat self nie altyd seker is of sy Protestants of Rooms is nie, oor vroue in die amp.  In hierargiese ampsbeskouings word vroue met gesag oor mans `n probleem. Maar dit hoef nie te wees nie.  “Skeppingsorde”, so word beweer, wil dit tog hê dat vroue aan mans onderdanig moet  wees, bloot oor die man eerste geskep is.  Dun, baie dun, dog einde van debat. Onbevredigend, kontra-kultureel, maar tog mos netjies konsekwent met wat die kerk nog altyd sê…  Daar’s net nou die dag nog opnuut besluit vroue sal nie in die Anglikaanse Kerk kan biskoppe word nie.  Die ironie dat die Aartsbiskop van Kantelberg vir die eerste keer in die Kerk se geskiedenis deur `n vrou gekroon is, is meer as effens wrang. Maar sou jy hieroor met die Kerk `n geveg wou aanknoop, moet jy eers God se “skeppingsorde” verwerp. En daaroor gaan die Anglikaanse gemeenskap nog skeuring sien.

Die Roomses het ook onlangs laat blyk dat Pous Fransiskus nie beplan om van vroue priesters te maak nie.  Dis trouens `n “skeppingsverordening”: mans beeld beter uit die verband wat mense met God het as wat vroue dit kan: daar’s blykbaar `n stukkie anatomie soek?

Slinkse sonde of `n dom dominee?

Ek’s effens agterdogtig oor die gebruik van sulke skeppingsteologie…  Dat die beeld van God gestol is in geslag.  Dat mans in God se orde prioriteit het. Dat sonde sit in skade berokken aan die ingeboude beeld van God in ander.  Oor almal so geskape is, is almal verorden om net so te wees.

Dit beantwoord nie vandag se vrae nie.  Hoekom?  Is dit oor die vrae nie sal rus voor die sonde nie sy sin gekry het nie? Dis natuurlik `n wesenlike gevaar!  Sonde is slinks. Satan!  Of kan dit dalk wees dat ons nog net nie goed genoeg hieroor gaan dink het nie?  Weet die wêreld tans nie dalk beter as ons in die kerk nie? Nou nie oor die wêreld vir God beter as ons kan verstaan nie, maar oor die wêreld dalk kan raaksien hoe kultureel bepaald ons is sonder dat ons dit self besef. Dis gevaarlik, want dan maak ons God saam met die tydgees verganklik.

Kan dit wees dat óns God dalk onderskat? Dat ons God nou nog nie kon kleinkry nie?  Dat kerk en kultuur ons blind maak vir die gans andersheid van God? Wel, die kanse daarvoor sou ek sê is so om en by 100%.

Ek gaan nek uitsteek en waag om te sê “skeppingsteologie” is dalk `n te maklike uitweg uit die turksvye van ekologie en ekumene, sekularisasie en seksualiteit…  Ek vra of “skeppingsteologie” nie dalk `n manier is om deesdae kwansuis oor God en Bybel te praat, maar Christus liefs te verswyg nie?

Ek vra, want ek is regtig oop vir oortuiging. En ek dink die huwelik is meer as skeppingsverordening.

Advertisements

Lewer kommentaar

Please log in using one of these methods to post your comment:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s