VrousoekManvang.com

Ek het in “Verbeeldingreis” belowe ek sal die storie vertel.  Dis nie my eie nie: dis Pa s’n.  Maar dis `n lekker een.

Pa en Sybie was in Amersfoort jonk.  Oos-Transvaal, destyds, Mpumalanga deesdae, net noord van Volksrust en duskant Paardekop, waar ouma Theunie vandaankom.

Sommige goed is blywend en verander nie juis nie.  Amersfoort is een van daai plekke.  Ek onthou heerlike dog yskoue vakansies daar by oom Sybie en tannie Katrina en die meisies, Drienie en Marina.  Ek onthou hulle warm kombuis, en die gewig van die komberse en die ryp op die gras.  Ek onthou ek het by tannie Katrien se biblioteek `n boek uitgeneem wat ek die vakansie toe nie kon klaarlees nie. Ek onthou nie meer die storie nie, maar die “unfinished business” pla my.

Amersfoort
Amersfoort

Iedergeval, soos dit destyds jonkwees betaam het, moes in Amersfoort nog meisies die hof gemaak word. Ek weet, julle jonges, dis `n uitgediende kultuur: uitgedien noudat mens nommerpas lewensmaats op die internet kan bestel. So goed is blykbaar die aanlyn-vrousoek-ding, dat die eerste afspraak eintlik net bedoel is om die afmetings te kry – van die ringvinger, bedoel ek nou. (Want al die ander afmetings is jou klaar gegee en soms ook mooi geillustreer. En wie sal nou waag om op so `n openbare forum soos die internet  te jok oor ouderdom en afmetings? Nooit! Wenk aan VrousoekManvang.com:  julle kan gerus die proses meer vaartbelyn maak en die mates van die ringvinger ook vra.  Om `n restourant duur te betaal vir die pap en wors wat `n man by die huis kon gaargemaak het, net om haar vinger te meet, is buitensporig.  Hierdie is geldskaars tye.) Die ou manier van doen het baie swaarder geleun op eie ondervinding. En dit was `n tydsame en peperduur proses, wat selde ver genoeg gegaan het. Groot somme van `n jongman se geld moes bele word in vrugtelose pogings om `n vrou te vind wat jou sou toelaat net om aan haar hand te vat, wat wou ringvinger meet!  Moeilike tye!

Kom ek verduidelik: hofmakery verg beplanning.  

  • Vervoer: Gewoonlik sluit dit in `n vriend se kar te leen.  Die ou ooms van destyds was nie daarvoor te vinde dat `n man met `n bromponie by die deur opdaag met die idee sy dogter gaan met daai ding tussen haar dye die straat af nie – dit was voor die dae van verpligte valhelms, dus was daar algemene besorgdheid oor skade aan ander dele van die anatomie.
  • Aantrek: Oupa het eenmaal die deur in `n ou se gesig toegeklap: “Gaan trek eers jou pajamas uit!” (Maar nee, dis ook nie heeltemal wat hy bedoel het nie!).   Die kerel had `n witbroek, sien.  `n Ander keer weer het hy `n ou gejaag oor sy hare te lank was, jy weet mos daai James Dean agteroor kuif?  “Sjort bekken saaits, Boet, sjort bekken saaits. Dan kom probeer jy maar weer.”  Hy het nie.  Ons popliedjies van destyds was so waar soos rock vandag, maar ek dink darem nie Oupa het met “bekken” hier Elvis bedoel nie. Sy siening oor die man ken julle al.  “Al slaan jou pa my drie-maal op my kop, dan kom ek weer…”
  • Openbare kuierplek: By gebrek aan enige ander openbare vermaak, was die fliek die Vrydagaand-plek op Amersfoort. Dis waarheen die manne daai aand hulle meisies gevat het.  
  • Bykos: Maar die van julle wat van hofmakery enige ondervinding het (ek weet daar is min van ons oor, helaas!) sal ook weet dat jy nie sonder kougoed die donker kon in nie. En as jy, soos ek, nie eers meer die springmielies in die foyer kan bekostig nie, dan smokkel jy maar `n ietsie in wat jy by die hoekkafee gekoop het. Want net fliekkaartjies doen dit nie.  Jy gaan immers nie net om te fliek nie.    

Pa vertel hulle het al die goed reggehad.  Hy en Sybie het darem al bietjie ondervinding van die soort van ding gehad.  En wat Sybie nie geweet het nie, kon Pa hom leer, want Pa kom immers van die Groot Stad af.  Die dat hulle toe vooraf eers by Saat se winkel aanry.  Saat was die algemene handelaar.  En teen die mure reg rondom sy kafee, bo-op al die eksotiese opgestapelde proviand waarvoor die dorpsvroue nie wou Ermelo toe ry nie, het Saat (nes my ouma) sjokoladebokse – van daai met die mooi prentjies op – staangemaak. Vernuftig van Pa, sou ek se.  Want sjokolade werk, om verskillende chemiese redes (maar hulle het dit toe nog nie geweet nie) en die goud-omraamde kardoes met die mooi prentjie op en die rooi lint om, vasgebind in `n strik, het weer `n ander uitwerking.   Romanties, sou ek se.

Die probleem met sjokolade is tweerlei: dit moet geeet word, en meisies eet nie voor seuns nie (dit ook maar by my eie kroos eers geleer – dan beweer hulle ek’s “weird”?).  Hulle pik net. En as hulle van die voortvarende soort is wat hulle nie by die protokol van hulle geslag hou nie, eet hulle dalk nie want sjokolade maak vet. Die meisies wat wegle aan sjokolade ongeag van wanneer of waar, het gewoonlik weer die soort afmetings waarop `n man deesdae nie sal kliek nie.  (Ek weet, my vrou, hulle weet nie van beter nie.  Maar jy moet onthou hulle is nog jonk…)

Die aand was blykbaar in alle opsigte getrou aan die reelmaat.  Die manne het die meisies tot by die fliek gekry wat moet beteken hulle is die hekkies van karre, klere, kopwas en krapperige pa’s oor.  Die meisies was, soos te wagte is, omgeboul deur die pragtige sjokoladekardoese en het fyntjies gepik aan die sjokolade daarin.  Die manne kan nie die fliek se naam onthou nie.  Dit moes dus alles volgens plan verloop het, hoewel nie een van die meisies my ma geword het nie. Dus ook nie so suksesvol nie.

Dalk was dit die sjokolade.  Jy kan ou Saat nie juis blameer nie.  Daar kom nie so baie wereldwyse stadsknape op Amersfoort kuier wat die dorpseuns kan leer wat `n meisie se hart laat klop nie: jy moet saamstem, Pa het sy storie geken.  En met die staan die kardoese dalk langer as wat goed is Saat se winkel en versier.  Pleks hulle van daai meisies was wat `n pad deur die lekkergoed eet, dan sou niemand van beter geweet het nie.  Maar dit getuig weer van die manne se goeie oog vir `n gawe vrou.

Maar dis nou maar eenmaal waar dat wat mens met smaak in die donker eet, soms net `n klein bietjie anders lyk as jy dit in die lig bekyk.  Ek bedoel, dis tog mos maar een en dieselfde met skaapkop en beesstert, en  lewertjies en netvet? Dog wurms lewe nog.  Dis dalk waar die boom uit die aand se hofmakery geval het: die meisies was toe nie al wat aan daai snoeperye gesmul het nie… 

Amersfoort is `n klein ou plekkie.  Hoe lank daarna Saat se winkel nog daar was, weet ek nie, maar ek dink nie sy profyt sou sit in sjokolade nie.  Of daar daarna weer met sorgelose oorgawe op Amersfoort gefliek is, weet ek ook nie.  

En julle jonges dink julle het probleme?  Ek het klaar die kat uit die mou gelaat: nie een van daai meisies is my ma nie.  

Kliek tog maar hier vir  VrousoekManvang.com. Toegegee, dis makliker.

Advertisements

One thought on “VrousoekManvang.com

Lewer kommentaar

Please log in using one of these methods to post your comment:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s