Skeertuie, skape en Victoria Sponge – oor dood en vakansies

Huis toe gaan tyd.  Die vakansie is verby en die griep is gesond.  Hoe’t jy geraai? 

Ek het dit darem gister uitgewaag om vroutjie vir middagete te vat.  (Ons moes uit vir asem: die nuus oor Andrew het ons vasgedruk.) Sondagkos: stilton en broccolisop, bees potbraai, aartappels in gansvet (njam!), wortels, kool en Yorkshire Pudding afgerond met `n stroopsoet pavlova.  Dis immers hoe dit hoort op die Engelse platteland. When the going gets tough, gaan die La Granges uit vir lunch.

SkeertuigGanders” is die eetplekkie se naam – na die gansvet-aartappels hoop ek heimlik daai naam-voël leef nog?  Indien nie, siestog! Die aartappels was dit werd.  Dis `n huisie, ingerig as a piepklein restourantjie wat uitkyk op die dorpie se krieketveld (elke dorp het een!).  Pa is die kok, kinders bedien.  Die spyskaart is indrukwekkend, die pryse ook.  Maar elke stoel sit vol.

Toegedraai in serpe en jasse is ons bult-af huis toe, beurend teen die wind in, by die leë hawe verby – letterlik, die gety was uit en die bote staan in die modder geplant.  Ons het ons koppe onder die komberse kom begrawe en ons verlange gepamperlang.  Toe vir Ralie gebel – ons kon nie langer uitstel nie.

Vanmore het ons Andy se huisie skoongemaak.  Toe pad gevat.  Ons het die bus verpas en moes `n huurmotor kry.  Langs die pad het ons besluit ons sal eers weer moet eet.  Skaarsgaar bief toebroodjies en Victoria Sponge (nee wat, San maak `n lekkerder spons).  Maar die vakansie loop meedoënloos uit. Bult-af in Ryde bestee ons langer as wat nodig is voor die eiendomsagent se venster. Tevergeefs.

Onder op die esplanade kies ons koers skeertuie toe.  As ons moet terug, gaan ons op die borrel vlie.  Ons put `n perverse behae daaruit om vir Wessel jaloers te maak met foto’s van die vreemde voertuig: sorrie Wessel, maar dit laat ons voel ons doen darem iets spesiaals na die griep ons so uit ons vakansie gekul het.  Dit was `n lekkerte!  Tien minute teen hoëspoed laaggevlieg oor die Solent (die veerboot het nou die dag `n halfuur gevat) is ons terug in Portsmouth.  San het daai laaste tien meter land-op uit die water uit op video vasgevang, haar gilletjie ingesluit.

Ons is net betyds vir die trein Waterloo toe…  En hier sit ek nou op die trein en tik.  San oe-en-aa vir die swart-en-wit skape in die veld en die perde wat jasse dra.  Die gehuggies wat verbykom is prentjiemooi, die kerkies lyk of jy hulle kan eet.

Amper tuis. Maar niks is dieselfde nie.  Die wêreld weier halstarrig om te bly waar jy hom vasmaak tot jy terugkom.  Andrew is weg.  Ons was by Wessel en Sophia toe Naomi dood is, by Willem en Sharon toe ons hoor van Daphne, en saam met Pa en Ma toe ons Piet moes groet, herinner San my.  Dalk goed dat die dood kom besoek aflê juis terwyl ons die lewe vier.

Advertisements

Lewer kommentaar

Please log in using one of these methods to post your comment:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s