Van Meryl tot Mitzi – Pens, Pootjies en Paganini

Ek is `n fliekvlooi.  Maar ek’s nie `n kenner of `n fynproewer nie.  Ek het nie naastenby die ondervinding waarmee Koos kan spog nie.  Ek mis nie `n Meryl Streep, Maggie Smith, of die twee Helens, Hunt en Mirren, nie. O, en Mejuffrou Streisand. Ek probeer elke jaar die Oscarwenners inpas, en ek hou boek van die Golden Globes en pas hier en daar `n kunsfilm in. 

Elvis-Presley B&WMaar minder van die laasgenoemde die afgelope tyd: as die eie gevoelens nie behoorlik onder beheer is nie, stel jou voor die skade wat die tragiek van `n kunsfilm aanrig. Ek is op my beste maar `n “softie”, a la Piet, en maak skande in tranetrekkers.  (Nog nooit weer so bitterlik geween soos saam met Hendrik in “Steel Magnolias” nie.) Gevolglik tel onder my gunstelinge deesdae nie die kultusfilms van `n niskenner nie, maar middelmatige flieks wat om die een of ander rede goed pas in `n tydgleuf iewers in my lewe.

Ouma Hyla  en oupa Willie was fliekverslaaf: minstens eenmaal `n week.  (Daarin sit `n storie wat ek nog eendag sal vertel.)  Ek onthou goed `n geleentheid – maar nie wat ons die aand gevier het nie – dat ons almal saam fliek toe is.  Deftig uitgevat, die vroue in langrokke, die manne in pakke, voor die teater op die hoek van Aliwal- en Smithstraat.  “Anchors Aweigh” het gedraai, dalk as deel van `n fliekfees ter viering van musiekprente, want so oud is ek darem ook nie.  Ek onthou goed die flikkerende gloeilampe om die titels en die afdak oor die sypaadjie voor die teater.

`n Ander keer weer, is oupa Hennie en ouma Theunie met die hele familie saam fliek toe – en dit was `n rare gebeurlikheid, dus dink ek dit was oor iets belangriks, soos Machel se 21ste?  Ek onthou ek moes (suurgat) tuisbly want die fliek het `n spoedperk gehad: “The Babymaker” (ek was regtig bemoerd!)  Later gehoor dit was `n baanbreker film oor surrogaatskap.  Oupa se kommentaar het ook `n ouderdomsperk.

Lojaal aan die Afrikaanse rolprentbedryf, het ons altyd `n poging aangewend om te ondersteun.  Die fliek onthou ek nou nie meer nie, maar dit moes iets soos `n premiere gewees het, want in die Cineland teater op Suidstrand se sand, het ons, net voor die fliek begin het, die aand vir Cornelia sien optree:  “Picking up pebbles and throwing them into the sea.”  (Hoekom dink ek nou dit was dalk “Die Kandidaat”?  Met Cobus Rossouw.)

Nou kyk, oor ouma Theunie nie bestuur het nie, was die enigste manier dat mens inry toe kon gaan, dat oupa Hennie jou vat.  Siena en Machel was tieners, ek nog `n “baba”.  Die Umbilo veldfliek het `n afdak gehad, met teatersitplekke, by die kafeteria.  Oupa het skaars die Volkswagen op die bultjie staangemaak en die luidspreker aan die venster gehaak of die meisies is by die deur uit:  “Ons kan nie mooi sien nie!”  Ouma, altyd versiende, het gelukkig vooraf `n aparte kospakkie voorberei.  Of ek hoegenaamd van agter in die kar af iets kon sien, was nie eers ter sake nie: “Jy gaan nerens!” Oupa het begin vloek toe die fliek begin het.  Stilstuipe is geen Afrikanerman se forte nie, en as ons nog iets van die fliek kon sien, het ons nie veel gehoor nie, al was daar “`n kind in die kar”.  Hy het nie weer opgehou voor twee dae later nie.  Elvis het die uitwerking op hom gehad.  Ouma kon die meisies nie tydens die fliek opspoor nie – sy moes hulle loop soek, want oupa wou ry, maar “Hennie, daar’s soveel mense, ek kry hulle nie.”  Oupa het vas geglo ouma en die meisies was kop in een mus (nooit!), en van almal moes sy van beter geweet het.  Die stomme vrou het deurgeloop.

FliekvlooiDaar is paar tonele uit Afrikaanse flieks wat my bybly.  Uit “Professor en die prikkelpop” die ou meisietjie wat effens laag af afgeneem word, en Carike se “Timothy”.  Uit “Pens en Pootjies” (het ek dit reg?) die toneel waarin Mari du Toit `n verkeersknoop veroorsaak, en toe besef sy’t haar broekpak se broek op die strykplank vergeet.  (Wees genadig: ek was `n tienerseun!)

Dit was die titels (ja, sowaar, die openingstoneel) van “`n Lied in die Hart” (Ge, Mitsi en Min) wat `n lewensveranderende indruk gemaak het.  Ek was tien.  Ek het daar en dan besluit:  Sergei Rachmaninov  se rapsodie op `n tema van Paganini, Opus  43,  Variasie nommer 18  sal in die hemel speel as ek daar aankom, en die hemel sal lyk nes Switserland.

Advertisements

Lewer kommentaar

Please log in using one of these methods to post your comment:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s